20181014_070500So na my onhutsende fotosessie, kom daar uiteraard gedagtes oor tyd se verloop, my doel op aarde en sulke eksistensiële gedagtes in my kop op. God, in Sy groot genade en liefde lei my en vier oomblikke, ervarings of #ToeValLig(*) kruis my pad.

Die eerste is ‘n epos van ‘n geestelike blad Godlife wat ek gereeld ontvang en graag lees. Die dinkstuk gaan oor  die feit dat ons aan God behoort en ons lewe hier op die ondermaanse  is om behoeders (‘stewards’) en bestuurders van alles Godgegewe (alles op aarde en ons siele ook) te wees. Hoe bestuur ons dit wat aan ons toebedeel is? Ons aardse besittings, ons staning in die lewe, God se skepping?  Welke verteenwoordiger, agent, bestuurder, oppasser is jy? Hoe benut jy jou talente, jou gawes om God te verteenwoordig? Toffieappeltaai vrae, gewis.

20181014_142258

Nou,ek het onlangs vir my ‘n Joodse Studiebybel aangeskaf. Daar is ook aanlyn die Pad na Lewe en Waarheid- vertaling (PWL) (ietwat omstrede, maar vir my van waarde, omdat ek dit nie in isolasie lees nie) beskikbaar. Ek put loutere vreugde om saam met my NLV Bybelvertaling,  in meer oorspronklike vorm God se Woord te beleef. Dis ‘n wonderlike sandput vir geestelike groei. Ek grou nog maar so bolangs, maar huppel soos ‘n ribbok van vreugde om God so duidelik te hoor en te begryp. Konteks van die tydvak waar die Woord van God vandaan kom en wie begeester is om dit te boekstaaf is soos die sluise van die hemel wat vir my oopgaan. Dis wat die twee bronne vir my persoonlik beteken.

Die Godlife stuk, lei  my hierheen:

10want ons is Sy skepsele, wat geskape is in Die Gesalfde Een, Yeshua, vir die goeie dade wat God van die begin af vir ons voorberei het om in te leef. (Ef 2: 3-10 PWL)

“10…created in unison with Messiah Yeshua for a life of GOOD ACTIONS ALREADY  PREPARED BY GOD FOR US TO DO! Eph2:10 Complete JEwish Study Bible

So eenvoudig, ons is geskape vir ‘n lewe wat reeds deur God vir ons beplan is, ‘n lewe van goeie dade om te doen! Kapow! Ek besef ek moet terugleun in geloof, my plek en omstandighede ‘n bysaak. My doel die hoofsaak.

Die groot les dat ons vir ‘n doel geskape is, dat ons elkeen uniek is (ons vingerafdruk, selfs ons hartklop, die hare op ons hoof) en ook verbysterend kompleks. Ons elkeen staangemaak op spesifieke plekke op aarde met die vermoë om ‘n loflike lewende getuienis van ons Skepper te wees, met harte wat ons noop om alles – wat ons sê, doen en uitvoer –  in liefde en goedheid te doen. Dis so beplan. Ons omgewing en omstandighede moet nie ons hierdie fokus laat verloor nie.

Ek is kort van draad, humeurig as dinge verkeerd en vol onreg is. My taalgebruik is nie altyd na wense nie. Maar as ek terug kyk en weer die sesjarige wat die kinderbybel binne die bestek van ‘n week deurgelees, en kon oorvertel, sien en verder in my lewe terugkyk, is God se plan soos goud deur die baie skaduplekke in my lewe verweef, Sy betrokkenheid deur baie draaie op my pad tot hier, onmiskykbaar.

Hoe ek met “ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee,” die trauma-jare van my matriekjaar en my pa se hartaanval, my en my ma en sussie se verblyf by my ouma en vandaar universiteit toe, die geskenk van my studentelewe, my ma se selfmoord en die verkeerde rede huwelik en egskeiding wat gevolg het, oorleef het. Sowaar nie self nie, maar begelei.

Hoe God op Sy tyd vir Rots oor my pad gebring het. In ‘n gholfklub se kroeg, sowaar! Hoe God, sukkel-om-vriende-te-maak-ek, my beste vriendin onder my hart laat groei het, en my die voorreg gegee het om haar ma te kan wees. My dogter is ‘n besondere en wyse siel. ‘n Kalmte en wysheid wat my onrus en ongeduld  kan laat bedaar. Ek bid die Here dat sy ryklik beloon sal word op aarde en ewig by Hom. My Bab, ‘n engel op aarde en almal wat met haar in aanraking kom wéét en ervaar dit. (Mag soos Rut, sy haar Boas kry. Groot asseblief Here, sit ek nou hier en bid.)

 

andriesV

Ons het gisteraand saam met Bab en ander jongmense, vir wie ons bitterlik lief is, ‘n fondsinsamelingsfunksie in Poloniekwaneaka Polokwane aka Pietersburg gaan ondersteun. ‘n Jong mamma, wat na haar geliefde seuntjie met ‘n erge graad van autisme diagnoseer is, ‘n organisasie Care for Autism, gestig het. Corné  doen fantastiese werk, die las van haar kind se spesiale behoeftes stuit haar nie. Sy leef Efesiërs 2:10! Dis my eerste asemsnak. Sjoe!

Ons het die saal geborg, newwermaaind dat die Lekkerwinkel se begroting so skraps is dat ons koerantpapierblokkies vir dubbelgerief aansien! Die Round Table 157 en hulle staatmakerborge verdien ook melding, maar jonge moeder, Corné, kry die goue kroon vir haar passie en harde werk

Meer as 700 mense pak die Bolivia Lodge saal vol. Andries Vermeulen en Pieter Smit kom woordkuns en storie en sing om ons te vermaak. Ons het ons asems uitgelag en saam gesing en lekker saam met liefiemense gekeuier.

Andries Vermeulen, jou doring. Ons hyg na ons asems aan die einde van die eerste deel van sy vertoning en toe…en toe beleef ons weer Efesiërs 2:10 in aksie. Die jong man met sy weskusdraal staan wrintie op daai verhoog en vertel met alles in hom vir ons van sy lewe. Dat ons God se kinders is, dat ons elkeen ‘n storie het. Dat ons uniek geskape is. Ek snak weer na my asem, want die tweede teksgedeelte wat al weke saam met my loop, kom hard en duidelik van die verhoog.

Die700 mense in die saal is tjoepstil. Dis die beste Kerk wat ek nog bygewoon het. Die man se kinderlewe is eina seer, en vol van God se liefde en genade. (Klik hier om na sy belydenis op GrootFM te luister, dis ‘n langerige onderhoud, as jy nie alles wil luister nie, gaan in by minuut 5 en luister tot minuut 8, jy sal nie teleurgestel wees nie. Eerder geseënd. Die skakel: http://iono.fm/e/529914)

Andries staan daar en wys die vinger na elkeen van ons in die stampvol saal. Jesaja 43:1-4) Ek houso van die PWL vetaling: maar nou, so sê יהוה, jou Skepper, o Ya’akov en Hy wat jou gevorm het, o Yisra’el: “Moenie vrees nie, want Ek het jou vrygekoop; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! 2As jy deur die water gaan, sal Ek by jou wees en deur die riviere, hulle sal jou nie oorstroom nie. Wanneer jy deur die vuur loop, sal jy nie geskroei word nie en die vlam sal jou nie brand nie,3want Ek is יהוה, jou God, die Afgesonderde Een van Yisra’el, jou Verlosser; Ek het Mitzrayim gegee as losprys vir jou, Kush en S’va in jou plek.Iyov 36:20
4Omdat jy waardevol is in My oë, geëerd is en Ek jou liefhet, sal Ek ander mense in jou plek gee en volke inruil vir jou lewe. 5Moenie vrees nie, want Ek is by jou…” (PWL JEs 43:1-5)

Mense, niemand het opgestaan en uitgeloop het nie. Nee, ‘n bruisend halleluja het losgebreek. ‘n Jong vrou net agter my, gryp my aan die skouer. “Tannie, hoe tjank ek nou,”  al wat sy snikkend uiter. God was daar tussen ons! Andries Vermeulen – mag jou getuienis nooit stop nie.

In die nanag lê ek wakker, met al die gewaarwordinge en lof in my hart. Skielik rammel en raas die hemele. Dit begin saggies drup. Die reënmeter het 1mm se stofnatmaker gemeet. Ons is dankbaar. Dis steeds vuurhoutjiedroog hier by ons. Die verpotte papawers vol reëndruppels trek my aandag. Ene veral, so half vergaan, skitter dankbaar in die opkom son.

 

Ek kiek dit en stuur vir my maats die boodskap saam met die foto bo-aan hierdie griffel: “1mm reën. Stofnatmaak seën. Dankie vir genade en belofte van sorg, Vader. Amen.” Ene sal sowaar vir my terugvra nou hoekom nie ‘n perfekte ene met my dankiegebed stuur nie. Ek wil tipies myself lekkervurig wip. Toe besluit ek nee, ek sal iewer verduidelik. Ek skryf toe maar so terug:”Dit wys hoe wag ons vir reën en dat dit soms te laat kom. Alles is nie altyd perfek nie. Hier is ‘n perfekte papawer foto net vir jou.”

Pik_Botha

Dit en Pik Botha bring my by die volgende: “Wie is jy daarom o mens, wat vir God ’n antwoord teruggee? Sê die een wat gevorm is aan die Een wat hom gevorm het: “Waarom het U my op dié manier gevorm?” 21Of het die pottebakker nie outoriteit oor die klei, om uit dieselfde bol die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? 22As God Sy woede wou wys en Sy mag bekend maak, het Hy baie geduld getoon in woede teen houers van woede wat volmaak gemaak is vir die vernietiging 23en Sy liefde loop oor op die voorwerpe van omgee wat voorberei is vir Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid, 24vir ons wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies.Hos 2:25

Kyk, die Beeld en Rapport het Pik Botha se afsterwe dood geskryf. Bladsye vol. Omstrede, ineressante, eksentrieke unieke Pik.  Ek sit en kou aan sy woorde:”Die ouderdom het my ingehaal.” Hy het gereken dat hy, met sy harde veeleisende lewe en keuses, nie 60 sou haal nie. Daar verras God hom en gee nog 26 jaar, waar onse Pik  rustig en in refleksie die draad van genade in sy eie lewe kon raaksien.

‘n Aangrypende verkorte weergawe van sy essay, Hoe kort is menswees, hoe hard is die wêreld‘ is op bladsy 5 van vandag se Rapport en ook opgeneem in ‘Die Braambos brand steeds – nie teologiese perspektiewe op Bybelverse’, saamgestel deur Pieter Malan en Chris Jones en uitgegee deur Naledi Uitgewers. Gaan lees.

Ek sit en gesels met hom so in my kop. Ja, Oom Pik. Wie is ons, nietige mens om vir die Pottebakker te vra:”hoekom is ek so gemaak.”  Hy sug en sê uit sy skrywe:” So lank as wat ons ten spyte van alles kan bly glo dat iewers agter die sterre daar ‘n God is, dan was dit die moeite werd om te lewe en te sterwe.”

Oom Pik, jy verstaan verkeerd. God is oral, alomteenwoordig.  God, kan, en kon soveel keer sy woede op ons uithaal, maar nee, Hy bly geduldig met ons, genadig. Elkeen enig, uniek, met ons eie storie om tot Sy eer te vertel en te leef. Rus in vrede dat jy voortydig dit besef het. Tot anderdag, groet ek lekkervurig warm in my hart.

*#ToeValLig – dankie Amore Bekker vir inspirerende verhale op radio en in druk.