Ek het ‘n nuwe leefrooster. Stukkie vryheid vir myself en die maal van woorde en stories wat immer deur my gedagtes vlinder, bewerkstellig. Dinsdae en Donderdae is bly alleen tuis dae. Die gesin gaan vort om ekonomie te pleeg. Ek klim vroegoggend in my grot (boekery, skryfplek, dinkplek) – my eie kamertjie waar die ander in die huis se twakkies wat nie in die kakkieslaai pas nie, en belangrike dokumente mooi in die ingeboude kas weggesteek is. Die res is my droomspasie.
So kom sit ek Dinsdagoggend vir die groot nuwe begin. Ek gaan skryf oefen en pleeg. My in woordstringe verlustig. Watwou.
Die heelal vra suikerbekkiesoet en tong in die kies:”Jy wil wat? Kyk eers.” Gehoorsaam is ek dadelik. Uitstel my hoofbedryf. Ek staar by die venster uit.
Voor my lessenaar staan ‘n wildepiesang bos en ‘n ‘Delicious Monster’. Die jasmyn het lankal die twee opgetooi en naby sing die swembadpomp. Hierdie is die suikerbekkies van Waterval se paradys. Hulle is gewoonlik hierdie tyd van die jaar mals gedrink aan jasmynnektar en geniet ook die jakaranda wat pers in die blom hemel toe reik. Maar dis anders vanjaar. Die jasmyn is amper klaar geblom, die jakaranda bloeisels lê uitgewas-lila op die winterdroë grasperk.
So, my eerste skryfdag tuis maak ek twee bottels suikerstroop aan en hang dit by my venster vir die fraaie juweeltjies. Ag, aan skryf is daar min gedoen. Die getjirp en vlieg by die venster het my vir ure vasgenael gehou.
Lieflik, loflik kom sing hulle hulle vreugde hier by my uit. Geseënd is ek.
Hoe kontant, die bottel hang aan my venster, en dié outjie op die foto is die baas van die nuwe smulparadys. Hy verjaag ander, net sy vroutjielief mag saam kom drink.
Toe skryf ek vanoggend vir julle, my dierbare blogvriende, en myself.
Sophia my storiekakrakter wat al agt jaar gelede haarself by ‘n wasgoeddraad aan my kom voorstel het gil hier in my agterkop en Janieskryf wag al ‘n jaar vir werkstuk ses. Ek moet nou gedissiplineerd wees. Anders is daar ‘n moord in my binneste.
Ek gaan nou die wel van woorde as my suikerstroop gebruik en ook my energie benut om met woorde te sing soos my nuwe gevlerkte vriendjie!
Baai!
Dis die cuteste bekkie daai. Hier rond sien ons nie vreeslik baie klein voëltjies nie, maar ‘n oorvloed ganse en hadedas wat op die grasperk wei. Vanoggend het ‘n woolly-necked stork amper by my voordeur ingeloop om te kom aansit by die kombuistafel Ek was besig om ‘n pot skaapkerrie voor te berei en hy het woes belanggestel in die rou vleis. Ek het so ‘n paar slierte opsygesit vir hom. O en dit reën mildelik hier – alles is sopnat. Lekker skryf.
LikeLike
Ek hoop die storieskryfding gebeur!
LikeLike
O, jinne Seegogga, ek hop ook so, ek voel of ek in storiewoorde gaan verdrink. Dis net notas en oplees en vermyding van die hoogste aard. Ek moes net daadwerklik iets begin doen, en daar lê die skrywersknoop – doen!
LikeLiked by 1 person
Stwrkt3 en vasbyt en deurdruk!
LikeLike
Jy volg in eerbiedwaardige voetspore – Dalene Matthee het ‘n kantoor gehuur waar sy gaan skryf het. Moenie bekommer oor die “vermyding” nie – die muse gaan jou wel oorrompel. Moenie dan van ons hier op die blogs vergeet nie?
LikeLike
Sjoe, dis groot spore. Dankie vir die mooi rasieleier bemoediging Frannie! Ek kan julle nie vergeet of uitlos nie – dan het ek niemand buite my gesin wat my so voetstoots aanvaar nie.
LikeLiked by 1 person
Die suikerbekkies is deel van die muse se opwarming! Jy het reeds hierdie stuk besonder mooi geskryf. Ek verstom my altyd aan jou pragtige taalgebruik.
LikeLike
🤗🤗
LikeLiked by 1 person
Raak nou dadelik aan die skryf dame! Sofia is moeg om daar by die wasgoed draad rond te hang! Sy soek aksie… en jy moet help! Lekker skryf… ek sien ;n wenner net oor die horson… skryf! Jy het ‘n manier met woorde… skryf! 😉
LikeLike
🤗📖📚✏😅
LikeLiked by 1 person
So bly dat Frannie ook ń rasieleier is en nie net ek nie! Skryf sus, skryf. Jou blog-maters ‘hang aan jou woorde.’
LikeLiked by 1 person
Hou jaloers is ek nou! Twee dae in ‘n week net vir skryf; wens ek kon.
Tannie kan altyd NaNoWriMo (https://nanowrimo.org) doen om aan die gang te kom.:D. Ek soek ‘n maat wat net so mal soos ek is om saam te doen…
LikeLike
Hallo liefie! Jy moet eers by die luukse van 60 uitkom voor jy mag dae terugeis! 😉 My skryfkursus se dissipline moet my nou deurtrek. Die November uitdaging is mos om ‘n aantal woorde ‘n dag in’n sekere tyd te skrywe of hoe? Ek sal gaan kyk en laat weet. Liefdegroete vir almal.
LikeLike
Ai, nog so paar jaar voor ek 60 slaan ;).
Jip, dis om 50 000 woorde in November te skryf. Begin wonder oor hierdie mal perd wat ek opgesaal het.
LikeLike
Uitdagings soos die rek die brein… en hou ons uit die kwaad… hehe!
LikeLike