Toe ons nog jonk en mooi was, Pretoria en ek

Ja, dit kry mens nou as jy begin mymer. En dit omdat jy meereis met ‘n klomp Towerinne. Ons is danksy Dis Ekke, Hester,  op ‘n virtuele toer deur ons land en is huidiglik in Pretoria saam met KameelWoordnoot en Tannie Frannie.

Pretoria is sinoniem met my onthou aan die beste drie jaar van my jongmenslewe. My pa is in matriek aan ‘n hartaanval oorlede en aan die einde van my studies sou my ma selfmoord pleeg. Vinnig jonkwees afgelê en harde bene kou sou voorlê. Dank Vader om retrospeksie te kan hou en dankbaar te wees vir wat beleef en oorleef is.

Ek het hierdie video saamgeflans toe ons as alumni genooi is om ons Tuks koshuis se 40-jarige bestaan te gedenk. Nou bekend as Nerina – en nooit weer Tankotie nie. Nerina is darem nie op die lys vir nog naamsveranderinge soos baie van Tuks se residensies huidiglik nie.

Ag, watter heerlike jare is in die ou spul skyfies vasgevang. Hoe ons bang-ogig deur ons ouers by die koshuis voordeur afgelaai is om eers twee weke se ontgroening – nie oriëntasie nie. Ag die arme seuns in kerkhemde en ondebroekies en dan moet ons saam loop en handjies vashou. Pienkienks is ons genoem. Jy het gemeneer en -juffrou, telefoon-en portaalroepdiens gedoen.

Op jou platformskoene verby die lawwe landboufakulteit en hulle opmerkings moes strompel klas toe en terug. Daardie dag toe ek op die sypaadjie neerslaan, sal ek nie sommer vergeet nie. Een ou het darem gesê ek ruik lekker toe hulle laggend my kom ophelp. Pfft!

Ag, die klasdraf – die dikke boeke wat by Van Schaik’s gekoop moes word en saamgepiekel moet word klas toe. Die dag toe Prof Sabbaga my laatkom met rente terug gegee het en ek voor op die trap moes Shakespeare.

Naas Botha en sy aanhangers at gereeld klasse ontwrig het. Ek verpes hom vandag nog, siestog.

Elize Botha wat ons taal lewend gemaak het, wat my kop oopgebreek het vir DJ Opperman, Breyten Breytenbach. Die luukse om elke moontlike uur in die biblioteek te spandeer. Betowerend, magies.

Die dinge waaroor ons nog jare later laat skater. ‘n Maat wat nie genoeg van die blomme en bye geweet het nie, en in ‘n toestand kom vertel het sy is swanger. Toe ons navraag doen oor hoe sy so gou weet, sal ons uitvind sy is die eerste keer ge”french-kiss.” Ons het getroos, en maar elders gaan skreeu van die lag.

Die saamstudeer sessies, toe ‘n Bybelkunde student afhaak of ons weet daar is ‘n kerk vir vroue wat lief is vir mekaar. Ons almal klap boeke toe – die het ons nie geweet nie. Wat sou die kerk se naam wees? Ewe kontant antwoord sy: “Presbiteriaans.” Ag, julle, ons is gehok omdat ons so gelag het en die studiestilte verbreek het!

Ja, ons was onskuldig. Ons het baie  pret gehad en salig onbewus van die opstande in Soweto. Ons het wel in groot moeilikheid beland, toe ‘n studentemaat in Roperstraat raakgery is. Dit was ons oorloop kampus toe, en die stadsraad het sonder kennisgewing die straat een goeie Maandagoggend vir Lynwoodwegverkeer oopgestel het.

Ons het die pad gaan blokkeer en die polisie het vir ons met waterkannonne en sambokke verjaag. Groot skrik was toe speurders  sommige van ons wat aan die voorkant van die blokkade gestaan het kom ondervra het oor ons motiverings. Die uwe was een van daai. Toe ek aan die einde van my studies aansoek gedoen het om by die weermagtydskrif Paratus te werk, het die op my leêr verskyn. Ja, so is ons sonder dat ons geweet het, fyn dopgehou in daardie onbewus-van-onrus-dae.

Daar is soveel onthou. Die eerste romanse. Jou kerel met arms vol kosmos voor jou kamervenster. Die diefwering wat ons met my stiefpa se ystersaaglem wat ek gegaps het losgesny, en met prestik vasgeplak het sodat ons saans kon uitglip. Hoe jy met die terugkomslag in ‘n bos daisies wegkruip omdat kampus sekuriteit onraad vermoed het.

Onheilig stout het ons dikwels om vyfuur Sondae die aanddiens bygewoon, om daarna op Billies Baked Potato toe te sak om ‘n bord slaptjips te deel en wyn te drink terwyl Piet Botha rock! Jonkheid is ydelheid het my Oupa Faan tereg gesê.

Sunnypark was ons plek. Vrydae klas gebank om die nuwe flieks te kyk van vroegoggend tot laataand. Om middernag nog ‘n bus terug koshuis toe te kon vang. Pajamapartytjie voor die sentrum gedurende jool.

Sorgvrye voluitleef dae. ‘n Rykdom van onthou en ‘n graad op die koop toe.

Ek volstaan nou met onthou.

Die regte lewe roep.

NS. Die virtuele toer van die towerinne kan op hierdie skakel gevolg word: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

40 Comments on “Toe ons nog jonk en mooi was, Pretoria en ek

  1. Ek het nou jou video so geniet. Dat jy so jonk al met sulke hartseer moes saamleef en jou pad in die lewe oopgeveg het met sulke blymoedigheid, sê vir my presies van watter stoffasie jy gemaak is. Wonder of ons paaie ooit gekruis het daar in Sunnyside en ons weet toe van niks!

    Liked by 3 people

    • Raai, Hester miskien het ons in die fliektou saam gestaan! Luukse gedagte! Wat die lewenservarings beleef, ek kan darem vir daai jon enetjie sê sy mag baie bang en kwaad by tye gewees het, maar als het oukei uitgedraai!

      Liked by 3 people

  2. Dit is so lekker om van al julle jongmensdinge in Pretoria te lees. Daardie afsaag van die diefwering 😁😁😁😋 Jy het vroeg al met baie hartseer te doen gekry, en ek stem saam met Hester jou blymoedigheid is prysenswaardig.

    Liked by 2 people

  3. Jong hulle het vir ons saans 20h00 meeste weekdae toegesluit, uit moes ons uit, daar het te veel avontuur buite gewag. Ons kon toe nog buite waag! Liewe Kameel, ons almal het ons storie van oorkom en oorleef, uniek eie. Ek sê altyd almal het ‘n storie in hulle.

    Liked by 2 people

  4. Kyk, dit was lekker en jy het my omtrent lekker laat terug verlang. Ek het so gesmile, ek en my beste pal (nou in die states) was altyd so jaloers op die varsity mense wat so lekker gehad het. Ons was in 1 Militêr en rëels was effe anders. Ons het hard probeer om die varsity rëels by die militer in te bring en het ons deel van moeilikheid goed gekry. Verlang ek nou terug, dankie vir die awesome deel🌻

    Liked by 3 people

  5. Pragtig! My voetjies het ook daar rond getrap,so vanaf 1971 tot 1974….daar by die Toonkunsakademie. Ook die voorreg gehad om by Dr Elize Botha Afrikaans te hê. Jy vat my vêr terug.

    Liked by 1 person

  6. Was toe in die laerskool maar baie hiervan resoneer met my en maak my selfs hartseer – dink ek moet gaan slaap. Ek was op universiteit (UPE) toe Chris Hani geskiet is en was saam met Dok Hannes (Prof Hannes Marais – Springbokkaptein in 70s by ‘n gedenkdiens vir hom.

    Liked by 1 person

  7. Oooo dis nou lekker terugdink die! Ek was maar n NKP ou en julle het baie “moeilikheid” by ons gemaak. Ons het ook niks van mekaar gehou nie! Tog bly studentwees van die beste tye in mens se lewe. Dankie vir die lekker terugdink.

    Like

  8. Wat n heerlike nostalgiese onthou. Diefwering afsaag? 10 uit 10. Ek self het soms snags uitgeslip en eers die volgende oggend teruggekom, met n heilige vrees dat ek geskors sou word. En ons het soms take away toasted cheese en tomatoe van Japies ( by die Hatfield galleries) af bestel. Hulle het dit deur die tralies vir ons kom aflewer: 14c vir so n geroosterde toebroodjue, mooi in n papiersakkie. Dis nou as ons dit nie self op ons strykysters gemaak het nie. Daardie laaaang groot korksisters het 7 c een gekos en ek het eenjeer 7c vsn my 10c wat ek in die bank gehad het, getrek om een te koop. Daarna het due bank die reek verander: jy mag nie meer minder as R1 getrek het nie. Groete aan due goeie ou tyd: oud Klaradyner 1969-1972

    Like

    • Ons het weer die Griek op die hoek in Lynwoodweg agter Tankotie en die hoekkerk se pensioenfonds gesterk. Ook kater sjerrie en sigare skelm by die drankwinkel gekoop. Lugverfrisser en wierook het dikwels laat saans ons Pastoriekoshuis omgewe as ons partikie. Haai jinne ons het grense getoets.🤣🤣🤣

      Like

  9. Dis vir my so jammer dat jy soveel hartseer voor en na hierdie heerlike jare moes ervaar. Ek hoop die varsity jare was n klein droomvakansie tussen al die wrede werklikheid in.

    Like

  10. Terloops, ek dink ‘n sekere generasie se PTA storie klink almal min of meer dieselfde, van student wees, van vry tot by die jakarandas, inry flieks, die ysskaatsbaan moet ook nie vergeet word nie.
    En dan natuurlik is dit altyd die “nurste se koshuis wat kamlies ‘n lekker lé-plek vir die troepe” se hormone was. Dit is eintlik ‘n lieg – dit was net die beste plek ooit om te kon gaan sokkie en die troepe het dit geweet. Vervloë dae, en vandag wonder ek hoe my kinders se vervloë dae nou vir hulle lyk – ek dink soveel armer as ons sin.

    Like

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

The Bee Writes...

oder auch "Die Bea schreibt" *** expect nothing... not even the unexpected *** erwartet nichts... noch nicht mal das unerwartete

Gedigte wat jou laat dink.

Sien die groot prentjie.

Tokeloshe

I♥2CR8

Kluisenaarsklaviere

Denke oor die wêreld, sy plekke en sy mense

Kruger Theron

Stories met Siel

Daily Manna

By Heart of Worship

Justice's Blog

The fear of the LORD is the beginning of wisdom...The contents of blog ranges from Christian knowledge to my own 'nerdy' posts.

the depth of now

Discovering Istanbul through Storytelling & Photography

Discover

A daily selection of the best content published on WordPress, collected for you by humans who love to read.

Wag 'n Bietjie

Welcome! Come linger a while..

The Sanity Rules

Uncommon common sense

Tannie Frannie

My terapie vir oudword

Ouch!! My back hurts!!

Life according to one of life’s truly gifted naturally born wafflers… an open diary of a Saffer in a different land... life in the greater Dublin & Leinster area. (Since 2011) My quests fuel my dreams… my dreams fuel my quests!!

Liewe Persoon

Ons het almal iemand nodig om na ons te luister

%d bloggers like this: