Ja, dit kry mens nou as jy begin mymer. En dit omdat jy meereis met ‘n klomp Towerinne. Ons is danksy Dis Ekke, Hester,  op ‘n virtuele toer deur ons land en is huidiglik in Pretoria saam met KameelWoordnoot en Tannie Frannie.

Pretoria is sinoniem met my onthou aan die beste drie jaar van my jongmenslewe. My pa is in matriek aan ‘n hartaanval oorlede en aan die einde van my studies sou my ma selfmoord pleeg. Vinnig jonkwees afgelê en harde bene kou sou voorlê. Dank Vader om retrospeksie te kan hou en dankbaar te wees vir wat beleef en oorleef is.

Ek het hierdie video saamgeflans toe ons as alumni genooi is om ons Tuks koshuis se 40-jarige bestaan te gedenk. Nou bekend as Nerina – en nooit weer Tankotie nie. Nerina is darem nie op die lys vir nog naamsveranderinge soos baie van Tuks se residensies huidiglik nie.

Ag, watter heerlike jare is in die ou spul skyfies vasgevang. Hoe ons bang-ogig deur ons ouers by die koshuis voordeur afgelaai is om eers twee weke se ontgroening – nie oriëntasie nie. Ag die arme seuns in kerkhemde en ondebroekies en dan moet ons saam loop en handjies vashou. Pienkienks is ons genoem. Jy het gemeneer en -juffrou, telefoon-en portaalroepdiens gedoen.

Op jou platformskoene verby die lawwe landboufakulteit en hulle opmerkings moes strompel klas toe en terug. Daardie dag toe ek op die sypaadjie neerslaan, sal ek nie sommer vergeet nie. Een ou het darem gesê ek ruik lekker toe hulle laggend my kom ophelp. Pfft!

Ag, die klasdraf – die dikke boeke wat by Van Schaik’s gekoop moes word en saamgepiekel moet word klas toe. Die dag toe Prof Sabbaga my laatkom met rente terug gegee het en ek voor op die trap moes Shakespeare.

Naas Botha en sy aanhangers at gereeld klasse ontwrig het. Ek verpes hom vandag nog, siestog.

Elize Botha wat ons taal lewend gemaak het, wat my kop oopgebreek het vir DJ Opperman, Breyten Breytenbach. Die luukse om elke moontlike uur in die biblioteek te spandeer. Betowerend, magies.

Die dinge waaroor ons nog jare later laat skater. ‘n Maat wat nie genoeg van die blomme en bye geweet het nie, en in ‘n toestand kom vertel het sy is swanger. Toe ons navraag doen oor hoe sy so gou weet, sal ons uitvind sy is die eerste keer ge”french-kiss.” Ons het getroos, en maar elders gaan skreeu van die lag.

Die saamstudeer sessies, toe ‘n Bybelkunde student afhaak of ons weet daar is ‘n kerk vir vroue wat lief is vir mekaar. Ons almal klap boeke toe – die het ons nie geweet nie. Wat sou die kerk se naam wees? Ewe kontant antwoord sy: “Presbiteriaans.” Ag, julle, ons is gehok omdat ons so gelag het en die studiestilte verbreek het!

Ja, ons was onskuldig. Ons het baie  pret gehad en salig onbewus van die opstande in Soweto. Ons het wel in groot moeilikheid beland, toe ‘n studentemaat in Roperstraat raakgery is. Dit was ons oorloop kampus toe, en die stadsraad het sonder kennisgewing die straat een goeie Maandagoggend vir Lynwoodwegverkeer oopgestel het.

Ons het die pad gaan blokkeer en die polisie het vir ons met waterkannonne en sambokke verjaag. Groot skrik was toe speurders  sommige van ons wat aan die voorkant van die blokkade gestaan het kom ondervra het oor ons motiverings. Die uwe was een van daai. Toe ek aan die einde van my studies aansoek gedoen het om by die weermagtydskrif Paratus te werk, het die op my leêr verskyn. Ja, so is ons sonder dat ons geweet het, fyn dopgehou in daardie onbewus-van-onrus-dae.

Daar is soveel onthou. Die eerste romanse. Jou kerel met arms vol kosmos voor jou kamervenster. Die diefwering wat ons met my stiefpa se ystersaaglem wat ek gegaps het losgesny, en met prestik vasgeplak het sodat ons saans kon uitglip. Hoe jy met die terugkomslag in ‘n bos daisies wegkruip omdat kampus sekuriteit onraad vermoed het.

Onheilig stout het ons dikwels om vyfuur Sondae die aanddiens bygewoon, om daarna op Billies Baked Potato toe te sak om ‘n bord slaptjips te deel en wyn te drink terwyl Piet Botha rock! Jonkheid is ydelheid het my Oupa Faan tereg gesê.

Sunnypark was ons plek. Vrydae klas gebank om die nuwe flieks te kyk van vroegoggend tot laataand. Om middernag nog ‘n bus terug koshuis toe te kon vang. Pajamapartytjie voor die sentrum gedurende jool.

Sorgvrye voluitleef dae. ‘n Rykdom van onthou en ‘n graad op die koop toe.

Ek volstaan nou met onthou.

Die regte lewe roep.

NS. Die virtuele toer van die towerinne kan op hierdie skakel gevolg word: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928