prudish woman

Na ons aandjie op die barge oppie dam, het ons klompie Towerinne die volgende oggend luilekker opgestaan en reggemaak vir ons laaste ure saam met die nimlike Una in haar geliefde Harties. Sy het ons belowe van kaas en olifante en natuurlik sou ons kans kry om haar Bali winkel te gaan leegkoop.

Oor ontbyt is dit toe dat ons klomp Towerinne met skok mos lees hoe ene Broodina Barber, die Kromkoerant se selfaangestelde sedebewaker sou ons gou agterkom, ons private pret op die barge sommer saam met arme Hia de Sint, verslaggewer aan boord, deur die modder sleep.

As daar nou iets is wat my olelkoors gee, is dit mense wat onder die vaandel van puriteinisme dit hulle lewenstaak maak om die vinger en sedeboek heeltyd onder ander mense se neuse te vryf. Veral as mense pret het.

Ons sit ‘n oomblik tjoepstil van skok en verbasing. My oog val op die Kromkoerant se kontaklys. Vis de Arend. My onthoulaaitjie gemerk joernalisdae vlieg oop. Vis, van alle mense. Hier in Harties, en nogal Kromkoerant se redakteur. Hy sal nooit ‘n ou liefde so liederlik laat behandel nie. Ek verskoon my uit die stil geselskap en maak ‘n oproep.

Vis is uiteraard verbaas en verheug om na al die jare van my te hoor. Ek val sommer met die deur in die huis en vra of hy feite in Broodina se verslag nagegaan het. Hy stotter en stamel, en verduidelik dat Broodina se familie ‘n aandeel in die blaadjie het, en dat sy eintlik ‘n administratiewe pos het, maar haarself as verslaggeefster van damsake en plaaslike morele standaarde aangestel het. Hy is woedend, maar ontknater. Wat maak jy as die baas se oujongnooi suster haarself aanstel. Ek is sommer hartseerkwaad dat ‘n ou liefde so melkdermpie uitgedraai het.

“Vis, jy sorg dat Broodina vanoggend om 10h00 die Van Gaalen Kaasmakerij besoek – sit haar op ons spoor. Ons is nog lank nie weg uit Harties nie. Dan moet sy ook daarna ons na die Elephant Sanctuary volg. Sê vir haar sy het nog nie die hele storie van die wilde groep vroue nie.”  Hy stem stotterend in. My lekkervurige humeur gee hom ook nie veel kans nie.

“Kom Towerinne, ons het nog pret om te hê,” probeer Una ons opvrolik. Ek sleep vir Perdybtytjie eenkant en vertel haar van my plan met Broodina Barber.  Sy is sommer dadelik vuur en vlam. Ons klim saam met ons bedrukte maats op die groen bus. Toorts lig die gemoedere met haar kitaar en FAK-buskomposisies. Gou sing ons vrolik. Dis hoe Towerinne rol.

vgaalen

Ek was maar huiwerig om die Kaasmakery te besoek, daar is maar so-so resensies oor kos en diens. Maar was ek verbaas.  In 1990 het  Annelies van Gaalen  van Nederland immigreer en haar in  Skeerpoort, ‘n klein gemeenskap by Hartebeespoortdam kom vestig.  Hier begin sy in Hollandse tradisie kaas maak.  Haar Boerenkaas het gewild geword, en teen 1994 is Van Gaalen Kaasmakerij begin. Vandag is dit nog grotendeels ‘n kaasmakery, maar daar is ‘n restaurant, onthaalplek, plaasdierepret vir kinders en fietsryroetes vir die meer sportiewes. Moet ook nie van piekniek op die rivieroewer vergeet nie.

Ons is rustig besig om meer van kaas te leer en te proe, toe ek ‘n suurknol uit die hoek van my oog gewaar. Omdat dit ‘n weeksdag is, is ons die enigste besoekers. Una het die toer vir ons gereël. Ek stamp vir Perdebytjie in die ribbes. “Moenie kyk nie, Broodina is hier,” fluister ek.

Ons twee drentel stil weg van die groeptoer, winkel toe. Hulle verkoop proe-kasies, so afsonderlik toegedraai. Ons kies bokmelkkaas – bloubeaard beleë. Ek giggel. “Perdebytjie, weet jy hoe bedompig ruik so kasie in ‘n klein spasie? My kind het jare gelede op ‘n Roete 62 toer so ‘n kasie in die kar oopgemaak. Rots het nog nooit so vinnig remme aangeslaan nie!” Deel een van ons plan vir Broodina is in plek. Stink kaas.

Ons toer klaar met die ou aasvoël heel skynheilig belangstellend net so agter ons.

 

Gou is ons onderweg na die Elephant Sanctuary . Arme VirgoC, sy het net stiller en stiller geraak. So bang soos ander mense vir gediertes is, is haar vrees vir olifante epies. Ons het ons hande vol met haar gehad dat ons nie vertrap sou word nie. Om haar aandag af te lei, laat Perdeby haar in op ons Broodina-breekplan. Sy vergeet skoon van haar vrese.

Die Sanctuary bied interaksie met die olifante. Jy kan ‘n olifnt aan sy slurp rondlei!  Daar is ook ritte op die kolosse se rûe vir die braaf van hart.

ollie2ollieollie4ollie3

Amarula, Khumba, Mosadi en Mvusi word in ‘n boma aan ons voorgestel. Dit was wonderlik om die band tussen die reuse en hule hanteerders te aanskou.  My binneste het gebewe toe ek opkyk  in Khumba die matriarg se groot sagte oog my eie refleksie raaksien. Asemsnakkend stil toe sy met haar slurp saggies aan my ruik. Dit was ‘n belewenis toe sy haar slup om my hand krul, en die hanteerder vir my saggies sê ek kan stap, die kollos sal volg. Sjoe!  Ek is oortuig elkeen van die Towerinne het dieselfde gevoel.

Ons is vertel hoe lief sy vir water is, en baie lief is vir modderbaddens. Ek vra toe vir die hanteerder of  daar so poel naby is. Hy beduie ja, ons loop soontoe. Dis nou ons hele groep en kamma belangstellende Broodina agterna.  Tyd vir die tweede deel van Broodina breek om in werking gestel te word. (Onthou die kasies wat ons gekoop het.)

Amarula, Khumba, Mosadi en Mvusi is dors en stap na die watergat. Onder Perdybytjie se aanvoer, word ons so geposisioneer dat ons so skuins voor die watergat staan vir ‘n onthou foto. Ons hits vir Broodina aan om saam met ons te poseer. Sy het dan namens die koerant soveel tyd saam met ons toergroep spandeer. Sy staan strammerig nader en oorhandig teësinnig haar kamera skouersak aan VirgoC om vir die hanteerder aan te gee. Dis toe dat die stink proekasies oopgebreek in die sak gesit word. So ongesiens soos gesoute sakkerollers.

Intussen het die olifante begin baljaar. Khumba spat water oor haar rug. Mosadi trompetter en asof dit beplan is, spuit Temba en Amarula modderwater in ons rigting net toe die kamera kiek! Ons klomp het gelukkig tekkies en gemaklike klere aan en kan laat spaander, maar o weë, Broodina se blokhakke kon nie so fluks in die glyerige modder wegkom nie.

Kyk, wat uit daai vrou se mond gekom het, het g’n mens nog gehoor nie! Kamtig so behoudend, waar sou sy so leer praat het? Lekker dun moet die verfynde puriteinse nerf, nie wees nie!  Sy storm  daar weg, kamerasak onder die arm. Haar Unotjie spatter weg dat jy net stof sien staan. Perdybytjie, VirgoC en ekke lê van die lag. Broodina, sans haarknippe en skoene…vol modder. Hehe! Vatso katvis. (Excuse the pun…Barber, kon myself nie keer nie. Hehe)

Ek bel vir Vis, en vertel hom dat ons ‘n spesiale verslag oor ‘n insident by die Sanctuary het om te vertel. Onse Perdebytjie sal die volle verhaal met nagevolge stuur met volkleur foto’s.

“O, en Vis, jammer vir die klankie in die kamerasak…”

Kyk uit vir die berig in die volgende aflewering van die Kromkoerant. Dit sal sekerlik verskyn voor ons by Bondels op die plaas aankom.

NS. Baron Room ons paparazzo aka AJ, al kon ons nie die koerantmannetjie wat jou so gekwets het bykom nie, die Broodina breekslag was vir jou ook ter wille.  Hoop jy voel beter na ons met die krommes van Kromkoerant afgereken het. Al die Towerinne voel beter.

Volg die virtuele verhaal van die Broodbus hier:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928