hartiesWhoop, maar was die Harties kuier nou lekker. Daai barge kan darem vir jou stories vertel. Lekker, man, lekker. Gelukkig het Una vir Bertrus mooi opgelei. Dis ‘n grappie, ek het vertroulik verneem dat hy baie lief is vir mense en vir kuier – ons Towerinne is sommer dadelik eiemense gemaak. Die twee Harties gansies weet hoe om swane en eende ewe welkom te laat voel.

Daar is reeds baie gekommentaar oor die barge en Tiramisu en wyn en lilo’s en nie-so privaat ablusies.

Die besoek aan die Kosmos boekwinkel was vir my ‘n belewenis. Kyk net die mooi trappe. Dankie Una! Met ‘n boek kan jy mos vir my in ‘n wip vang. Die Kindle is juis altyd in my handsak, volgelaai, om te kan lees net wanneer ek kan.

By die Kosmosboekwinkel loop ek toe mos ‘n storie raak oor ouer vroue – verhoudings, loopbane en elkeen met hulle eie storie, diep weggebere. “The Resaurant@The Mill” deur Linn B. Halton, het ek vir ‘n appel en ei gekoop en ek gaan dit my toerleestof maak. Ek sal mal word van “the wheels of the bus go round and round” – sien julle nou hoekom ek agter wil sit – niemand sal kan sien ek lees nie!

In elk geval, toe ek die boek se opsomming klaar lees het, sien ek so voor my geestesoog die 14 Towerinne en hulle storie(s). Ek gaan ‘n boek skrywe. Dit gaan ‘n epiese blitsverkoper wees. Deon Meyer kan gaan slaap. Dit gaan van papier op die silwerdoek  beland – so soomloos soos Tom Cruise met Cold Mountain gemaak het! Daai besoek aan die stel van Pretville het natuurlik ook te make met my silwerdoekvisioene.

…………………………………………………………….

My storie se naam gaan wees “Die Barge@Die Dam” wat aan Bali en Ballie behoort. Hulle nooi 13 vroue wat saam met Bali op ‘n landwye tog deur Suid-Afrika beplan, om hulle reis by die dam af te skop. Die vroue is van oral in die land.

Een karakter is ‘n statige vrou wat sommer uit die bloute in ‘n sensuele danseres kan ontpop – veral as spierpaleise in die omtrek is. Meestal is sy nogal wetsgehoorsaam en kan haar springmieliebesige bantingkundige vriendin goed in toom hou. Hulle het die vreeslikste rusies in die kombuis en dit laat weer hulle welberese vriendin sommer na wyn in haar trommeltjie gryp.

Twee nuwelinge in die groep, Bondels en Nootjie, skrik so, hulle vergryp hulle aan die bantingkundige se poeding, onbewus dat dit ‘n oordosis Frangelico bevat nie. Hulle drink ook te veel van die Nieu-Seelandse energiedrankie wat komplimenter rondstaan. Die gevolge sal nie beskryf word nie.

Die ander stil, statige en diepdenkende vrou met haar silwer bob kan die gebras nie vat nie, en klim op ‘n lilo agter aan die vlot vasgemaak. Dit het tot gevolg dat die wille wragtigs van die groep onder leiding van voorswemmer Hes, die vlot onder haar uit probeer spring. Die oud-onderwyseres en kaggelsmous hits die jongeres aan om die lilo om te stamp.

Die klomp kom nie agter dat hulle watervresige wespiemaat alles op kamera vaslê nie…en kort kort met haar selfoon besig is nie. Niemand besef sy is eintlik Hia de Sint, die beroemde ondersoekende joernalis. Oorkant teen die damoewer flits die son teen kameralense – die paparazzi is ook aan die kiek – Baron Room aka AJ en Paraguay Informant aka DC.

Die watersports kom tot ‘n einde toe die son sy tone in die dam druk. Die vroue strek salig uit oor die lekker sagte Bali kussings en ‘n relatiewe stilte daal toe.  Dit is egter van korte duur.

Die kreweltjie in die groep bely so ewe uit die bloute dat sy toe al die tyd die grootste gros van die Toweropstal diamante gevat het toe die Tiramisu ontplof het. Sy was onder die tafel aan die slaap, en die goed het letterlik in haar kloue beland.

Die Borg se vreugde ken geen perke toe die ou goggatjie ‘n sak vol blink klippers op die tafel uitkeer. Alles is nie net meer om den brode nie! Die toer en toekoms is vir almal verseker!

Die twee motorfietsentoesiaste in die groep wil met mag en mening vir die Ballie oortuig om hulle wal toe te neem sodat hulle hul motorfietse kan wheely van pure blydskap – want nou kan almal se gastehuis drome ook bewaarheid word.

Niemand behalwe die paparazzi en die wespie sien die paddamanne met gewere wat oor die vlot se kant klim nie…en die dinges breek los.

……………………………………

Dink julle nie dis ‘n bakgat storie nie?

Ek kan nie wag om die verhaal behoorlik uit te skryf nie. Gaan sommer op pad na Bondels op die plaas begin werk.

O, en ek wil vertel van ‘n klankie op die bus – niks met die privaatjie te make nie…sal môre vertel.

Una – jy het gesorg dat ek uit my lui vir skryf-bui kom! Lekker.

Om jou blogpos by te voeg of om die ander bloggers te lees, kliek op die volgende: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928