Toe ek die eerste keer vir Agitofel in die Bybel raaklees, het ek heel uit my sondige mens oogpunt die ou nogal jammer gekry. Mens se medelye met die man droog egter gou op.

Aanvanklik het ek  my probeer indink hoe ek as ouer en grootouer sou reageer as aan my geliefde kleinkind gedoen word wat Dawid se wellus na Basteba veroorsaak het.

Sien, Agitofel was ‘n wyse, gerespekteerde raadgewer van koning Dawid. Batseba, was Agitofel se kleinkind, dogter van sy seun Eliam. Sy was met Uria, ‘n topsoldaat in Dawid se leër getroud. Dawid, oorweldig deur die skoonheid en ekkigheid, sorg dat Uria op die slagveld omkom. Batseba die buit. Dit kom teen ‘n helse prys.

Dawid en Batseba se eerste kind sterf voor hy genaam kon word. Natan berispe vir Dawid en in geen onduidelike taal beduie hy vir Dawid waar die wortels begrawe is.

Dawid, en ek is oortuig Batseba ook, gaan verootmoedig hulle voor God en bely hulle sondes. Hulle keuse verseker nie ‘n vrypas na ‘n lekker lewe nie, maar Dawid is geboek as ‘n man na God se hart. As gevolg van keuses het Dawid se koningskap nie deur rustige waters gegaan nie. Sy een kind het teen hom opgestaan, sy ander kind kry bo hom die voorreg die tempel van die Here bou.

Salomo word uit die huwelik gebore, en die tweede oorlewende kind wat volg word na die wyse man en vriend Natan vernoem. As jy lees hoe Batseba pleit by Dawid om Salomo sy opvolger te maak, Salomo se vertelling van die wyse woorde van ‘n ma aan haar seun aan die einde van Spreuke lees, kan jy aflei dat Batseba ‘n wyse, gerespekteerde en geliefde vrou en ma was. (2 Sam11 en12 en 1 Konings 1 en 2),

Het jy geweet behalwe dat Salomo die voorsaat van Jesus se aardse pa, Josef, was, Nathan die geslagsregister na Maria, one Jesus se aardse ma, lei?

Maar wag, dis nie waarmee ons besig is nie. Terug by Agitofel.

Nou die twee kinders se oupagroot Agitofel, ruk vir hom op oor die Dawid en Batseba ding en heel onwys gaan kies hy kant teen sy bloed en steun sy agterkleinkinders se halfbroer, Absalom, toe hy Dawid probeer onttroon. Wat ‘n menslike intrige. Agitofel se bitterheid oorskadu sy godgegewe talente en wysheid, en hy gee vir Absalom die vreeslikste, geweldadigste plan om oorwinning te verseker. Gaan lees self.

God het egter ander planne en die bittere wraak word gefnuik. Absalom verstrik in boomtakke en Agitofel vlug huistoe en hang homself. (Het jy geweet daar is sewe selfmoorde in die Bybel aangeteken: Abimeleg, Simson, Saul en sy wapendraer, Agitofel, Judas en Simri. Dis anderdag se gesels werd.)

Uit bitterheid verlaat Agitofel vir Dawid en steun Absalom se opstand teen Dawid. Hier raak dit interessant. ‘n Mens wil so maklik wraak sweer, bitter wees oor wat die lewe uitdeel. Soos Agitofel. Maar hoe skop jy nou ‘n lawaai op en skreeu ten hemele en luister nie na wat God vereis nie?

Dis hier waar my aanvanklike jammerte vir Agitofel verdamp het. Daar staan tog duidelik geskrywe die wraak kom God toe.

Dis ook hier waar ‘n vreeslike besef my omslaan.

Wie is jou Agitofel? Wie is daar wat as gevolg van jou verkeerde optrede, besluit, jou sonde so bitter soos Agitofel voel, en miskien ook sy rug op God se leiding, onderskeiding en liefde keer?

Wie se Agitofel is jy? Wie het bitterheid, wrokkigheid en wegsteekgoed wat net jy en God van weet, in jou siel se agterkamer laat kom woon?

Ons het nodig om ons Agitofel(s) te gaan sien en te sê askies. Om eerder saam voor God ons fout, seer, woede, teleurstelling uit te stoei, te bely en neer te lê. Nie wrokkig en bitter te bly nie. Dit is geen maklike taak nie. Maar vra vir Jesus, goed met ewigheidswaarde kom met ‘n pynlike prys. Goddank vir Sy liefdebloedoffer en God se onbegryplike vergewende hart.

Agitofel se verhaal moet ter harte geneem word. Daar is geen twyfel dat Dawid vreeslik gesondig het, en dat sy besluite vir ander laat struikel het. Sy besluite het gewis chaos en seer in sy gesin en vriendekring veroorsaak. Dis die les.

Ek lees iewers raak daar is nog ‘n les by Dawid te leer. Dit is dat jy jouself sal moet afvra wie deur die gevolge van jou afvallige optrede geraak gaan word. Dit alleen behoort ons van besluit te laat verander en laat spaander na God se voete.

En nog is het einde van lesse niet. Ons bestaan op aarde word gekenmerk deur seerkry, val, wegkruip, genesing, opstaan, groei, in dan ook in geen voorspelbare volgorde nie. Die oorlewingstrategie is om elke stukkie van jou lewe by God neer te lê. Om te bely, te vergewe, te loof, te smeek en te groei. Om nie goed terug te gryp of soos Agitofel aan jou binnekant vas te laat groei en te troetel en tot jou eie vernietiging te lei nie.

Dis waar dat seer, op die vlak wat Agitofel dit beleef het, erg is. Asemsnakkend erg. Dis egter ook skokkend waar dat onverwerkte seer soos ‘n kanker jou siel vol bitterheid en wrok kan giet, en tot erger seerkry en verwonding kan lei.

Agitofel se koestermonster het hom van wysheid en oordeelkunde gestroop, het hom van God die gewer van sy talente laat wegdraai. Sy behoefte aan weerwraak was so erg, dat toe sy planne klaaglik misluk, hy sy eie lewe neeem. Sjoe.

Hier kom die groot opdrag. Wat het Jesus verlate, verguis in Sy grootste lyding aan die kruis gedoen? “Vader vergeeef hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie,” het Hy met sy amper laaste asem gebid.

Hy het almal vergewe wat Hom verlaat, ontken en teleurgestel het. Elkeen van ons. Sy vergifnis strek tot in ewigheid. Sy Gees woon in ons, om ons te help om nie Agitofel se keuses te maak nie.

Hoor as God sê wraak kom ons nie toe nie, dis God s’n, alleen. Wys bitterheid ala Agitofel die deur en gaan praat met jou Agitofel.
Deut. 32:35Ek sal wraak neem. Dié wat dit verdien, sal Ek terugbetaal.

Rom. 12:19 “Laat staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters. Dit pas glad nie by gelowiges nie. Los sulke dinge vir God. Daar staan immers in die Bybel: “‘Ek alleen het die reg om te straf; Ek sal wraak neem,’” sê die Here.

Lees ook Hebreërs 10:30-31

Ek sit hier en dink, is dit deels te wyte aan die les uit sy oupagroot Agitofel se wegstap van wysheid wat Salomo so wys laat kies het ten gunste van onderskeidingsvermoë en met soveel meer deur God se blyhart beloon is?

Lees hier oor Agitofel:

1Kronieke 27: 33, 34

2 Samuel 12:11

2Samuel 16:21-23

2Samuel 17:1-2

Psalm 55: 12-14