Van kleintyd het my ouers my en Swartjie  bederf met comics – Dennis the Menace, Casper, Huey, Archie, Sylvester en Tweety, en ook Classics – so het ek van Shakespear en ander klassieke werke geleer. (Ek wil nog daaroor skrywe, nie nou nie)

Op hoërskool was dit tweede natuur om na die ingevoerde tydskrif rak in die skryfbehoeftewinkel op Barberton te loop en te blaai. Metterwyl is comics verruil vir tienertydkskrifte: Jackie, Poswop, Pink en Fabulous. Nuwes is by die toonbank vir my gebêre.

Ag jinne, eers was dit Donny Osmond. Toe David Cassidy – plakboeke vol het ek gemaak van die gevreetjie. David Essex, die Bay City Rollers en Slade met hulle platformskoene, pullovertjies, uitklokbroeke en lang hare. My pa het dikwels die koors wou kry en geterg, maar nooit my tienergedrag bespot of kleineer nie. My laat begaan. Ag ek het lirieke van liedjies wat ons hier in Suid-Afrika gehoor het nie, geken en ook al die sterre se stories geweet.

Toe kom Marc Bolan, David Bowie, Queen en Roxy Music. My tienerhart. Bryan Ferry is my hartklop van toe af. Ek weet, hy het ‘n ou oliekuifie en muisgevreetjie, maar o, daai stem en lyf en hande wat so een met die musiek word. Ek treiter Rots gereeld as hy te veel pruim oor sy Dubbel-D gunsteling, Sarah Theron, dat ek hom sal inruil vir Bryan Ferry!

Ek word oujaarsdag 2018, 60. Verlede week kom Rots so ewe en vra of ek weet wie kom na Suid-Afrika vroeg in Februarie 2019. Hoe sal ek nou weet, die Pous? Prins Harry en Meghan? “Nee, raai nog. Jou hart gaan dit nie hou nie,” hou hy aan terg.

Wel, ek gil soos ‘n tiener toe ek uitvind dis Bryan Ferry – my crush sedert 1972 toe ek hom ‘Virginia Plain’ saam met Roxy Music op LM Radio hoor sing het. Daai stem, daai saxofoon. Ek terg Rots en sê ek wil net die konsert bywoon – dis al present wat ek vir my mylpaalverjaardag wil hê.

Vanoggend vroeg is Rots op die tablet en raai, op 16 Februarie 2019 het ek en hy date night. In Menlyn. Ons sit DV in blok A, voor die verhoog as Bryan Ferry kom konsert hou. ‘n hele 90 minute, en ek sal die wit van sy oë kan sien. En nee, moenie kommer nie, ek sal nie my buustelyfie of Bridget Jones op die verhoog gooi nie, ek gaan wel vir hom waai en ‘n soentjie blaas.

Dis lekker om na iets uit te sien! Dit maak op vir al die verjaaardae sonder makietie, met kersfeeskoek en halfmaswense wat tot middernag uitgestel word om sommer gelukkige Nuwejaar ook te hoor!

My groot persent kaartjies is reeds uitgedruk en saam met oornag in die grênd hotel reeds betaal in ‘n koevert in die kluis.

Wie se oud word is nie lekker nie. En ja, dis goed om geduldig te wag, wense word oor tyd waar.   My emmerskoplysie groei mooi. Die ander goed op die lys – dis nie vir die grootklok nie….hierdie wat volg is met regmerkies op die lys.

Besit sonder die bank  se inset ‘n Karoohuisie

Besoek Ulurhu, raak aan daai stuk oerklip

Ontmoet Imran Khan – toe hy nog krieket gespeel het

Bryan Ferry in konsert -hy kan nog, kyk: