Ons sit op die stoep. Iemand het vergeet om iemand te laat weet Augustus is verby. Die wind het vandag die waks uit ons gewaai. Ons hoor daar by ons Camdeboo was Lootsbergpas weer toegesneeu.

Rots bou sy Vrydagvuur. Dit blits en grom so saam met die wind. Wat maak Rots? Hy gooi nog hout op die vuur. Hy hou van uitdagings en roetine. Altyd interessante gevolge. Die honde is effe verward, daai gegrom is vreemd.

Op die iPod sing Elvis Blue ‘Clowns’. Ek vertel vir Bab die was haar oupa Erin se gunsteling liedjie

Bo die ruik van die vleis op die kole en bo die jasmyn se ruik en bo die wind hoor ek my pa se stem, ruik sy Old Spice en Vitalis haarolie. Ek onthou die arbeid het hom Makam genoem, staalkammetjie in sy kous, om sy baie reguit kroontjie kuif net so skuins te hou. Hy het ook ongeag sy braai gehou, wind en weer, geen keer.

Hoe werk die onthou….hy is al amper 42 jaar ver weg. Hoe is jy byna sestig en onthou so fel jou kindwees? Die onthou so werklik?

Daar val druppels op die leiklip….Rots is bly. Gaan haal sy rondomhoed om sy gehoorstukke uit die reën wat kom, te hou. Hy en my pa sou onhebbelik saam gewees het.

My ma se troupersent bakkie circa 1957 wag geduldig om die vleisoffer te ontvang.

Elvis Blue sing ‘Waboomblaar….arm was ek gister, en nou is ek ryk, nou skatryk…..’

Kom reën, kom.