Wow

Hierdie is ‘n vervolgverhaal deur verskillende bloggers. Om die eerste 13 hoofstukke te lees, klik op hierdie InLinkz skakel:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=789999

 

Hoofstuk 13 eindig so:

Renier lei haar na sy motor toe, help haar om by die agterdeur in te klim en maak seker dat sy nie haar kop stamp nie. Sy kan nie glo dat sy binnekort in ‘n polisiesel gaan sit nie.
Wanneer Renier agter die stuurwiel inskuif en sy sitplekgordel vasmaak, leun sy vorentoe: “Waar kom Klara aan daai paar, um, lugbalonne?” fluistervra sy.
Renier kyk verbaas na haar. Dan proes hy van die lag.
“CUT!” gil Atholl. “Cut, cut, cut! Ag jimmel tog.”

Hoofstuk 14:  Alle grappies op ‘n stokkie

Danielle en Cobus kan nie ophou lag nie. Atholl gooi sy hande in die lug. “Julle twee maak my gedaan met julle gegiggel. Ek wil julle twee onder vier oë spreek, nou!” Hy vlieg op sy hakke om en storm na sy karavaan.

Cobus rol sy oë, Daniella se hart bokspring. Die man doen iets aan haar. Hulle pas soos ‘n battery en flits. Daai mooi sterk mond,..

“Kom ons gaan hoor wat Atholl pla,” Cobus knipoog vir haar. Die ander akteurs en kameraspan staan koppe bymekaar en gesels. Al gewoond aan die onderbrekings.

Die atmosfeer in Atholl se karavaan is gespanne. “Ek is nou moeg vir julle lighartigheid op stel. Verdomp, Daniella, ons het die storielyn na jou sin herskryf – dit het drie dae uit ons skedule geneem. Julle albei se loopbane is maar flou, en ek self is moeg om net genomineer te word vir ‘n Safta. Ruk vir julle reg, of ek kry ander mense om die rolle te vertolk,” die witwoede spoeg kleef aan Athol se mondhoeke.

Danielle en Cobus staan soos twee tieners op die tapyt in die skoolhoof se kantoor. Lanklaas in die bek geruk.

“Jammer, Atholl, ons verstaan en sal jou nie teleurstel nie,” vra Daniella namens hulle om verskoning.

“Nou, ja toe. Kom ons gaan skiet daai toneel. Cobus – onthou tog om vir Klara ook in hegtenis te neem,” sê Atholl toe hy voor hulle na die stel stap.

Gou is die stel reggeskuif, grimering nagegaan en Atholl roep: “Stilte. Aksie!”

…………

Renier lei Nellie en Klara geboei na sy motor toe, help hulle een-een om by die agterdeur in te klim en maak seker dat hulle nie hulle koppe stamp nie. Nellie kan nie glo dat sy binnekort in ‘n polisiesel gaan sit nie. Sy loer onderlangs na Klara.

“Wat maak jy hier,”  vra sy.

“Het jy gedink jy kan sommer so met alles wegkom, Nellie Visagie,” sis Klara onderlangs. Jou weglopery het ‘n hele ketting van gebeure ontknoop, en net tot jou eie voordeel. My pa is dood, ons geld is weg. Het jy gedink mens loop net so weg? Nee ou poppie, dis nie hoe die lewe werk nie,” sy bly blitsig stil toe Cobus die motor se voordeur oopmaak en inklim.

Klara laat nie op haar wag nie. “Wat is die klag, Meneer Speurder,” vra sy sarkasties.

“Betreding, teistering en as jy nie pasop nie dwarsboming van die gereg.”

“Pfft, jy sal harder moet probeer. Jy maak my nie bang nie,” kap Klara terug.

Nellie sit kop onderstebo in haar hoekie. Die boeie maak haar polse seer.  Dit voel alles so onwerklik.

Die kamera pan uit na ‘n voertuig wat oorkant die straat in die donker staan. Die gloed van ‘n sigaretkooltjie verraai dat iemand in die voertuig sit en die vertrekkende polisievoertuig dophou. Die zoemlens fokus. Dis Chris.

“Cut. Briljant julle. Dankie. Sien julle more vroeg by die polisiestasiestel,” glimlag Atholl dat sy goue tand skitter.

……………………

Daniella kan nie wag om die volgende oggend op die stel aan te kom nie. Die romantiese aand met Cobus was fantasties. Sy kan aan sy lyf en liefkosings verslaaf raak. Sy skud haar blonde lokke om die wellustige gedagtes op hok te hou. Gister se gesprek met Atholl ook nog  in haar geheue. Ag, en sê nou, daai Safta het vanjaar haar naam op. Sy glimlag en laat koppe draai. Beeldskoon.

Roetine op stel is koffie, grimering, kostuums, en seker maak niemand lyk anders as in die vorige toneel nie. Detail, detail.  Al die akteurs sit en dialoog oefen.

Vanoggend is daar ‘n beroering. Superster, Sharmyne Dupisanie-Koorsten het ingewillig om Lettie  se rol te vertolk.  Lettie, die persoon met uitkoms vir Nellie. Lettie die huishoudster wat Nellie se jare van swaarkry aanskou het. Lettie wat Oom Esra se belydenis oor skelmstreke en ook Nellie se ware herkoms onderskep het. Lettie wat nie meer kan stilbly nie….

………

“Stilte. Aksie,” kom die opdrag.

Die kamera rol. Nellie en Klara staan geboei by die toonbank van ‘n  polisiestasie se aanklagkantoor. Die sersant aan diens is besig om hulle inligting in die aanklagboek aan te teken.

‘n Skaduwee val oor die vloer. “Ekskuus, kan iemand my help asseblief,” sê ‘n bedeesde stem. Die kamera swaai saam met die driestuks by die toonbank om. ‘n Vrou in ‘n jas en kopdoek staan in die deur. Haar handsak styf in albei hande geklem.

“Ek soek na Meneer Renier,” sê die vrou.

“Lettie! Wat soek jy hier,” kom die verbaas van Klara, nog voor Nellie kan vra. “Stil, jy het niks te vra nie,” blaf die sersant.

Renier tree vorenetoe. “Ek is Renier.”

“Meneer, kan ons iewers praat,” vra Lettie.

“Cut!”

……….

“Stilte. Aksie.” Die kameras rol weer.

In die ondervragingkamer neem Renier teenoor Lettie plaas.

“Waarmee help ek,” vra hy rustig.

Lettie vroetel in haar handsak en bring ‘n koevert na vore. “Lees asseblief hier.”

Terwyl Renier lees, word sy blou oë strak, sy mondhoeke trek styf.  Die kamera speel oor die fladderende brief in sy bewende hande.

My liewe Nellie. My tyd is min. Twee goed wil ek vir jou vertel. Ek is jammer dat jou lewe so swaar was. My eie vlees en bloed….

Renier kyk op. “Hoe het jy geweet om my te kom soek,” vra hy.

“Ek het na die ou meneer weg is hospitaal toe die brief in die studeerkamer gekry.  Maar ook baie goed gehoor. Hoe kwaad Klara, Chris en hulle ma vir Nellie was, en haar blameer vir alles. Ek het toe besluit om die brief vir myself te hou en gebid dat Nellie uit die addernes sal kan wegbly. Die ou meneer is dood, dinge is maar wild op die plaas. Eergister, toe hoor ek vir Chris op iemand oor die foun skreeu dat Nellie by jou in Kimberley kan wees. Hulle het klomp goed van pille en geld en vliegtuie gepraat. Ek het gehoor hoe Klara en Chris praat om jou te vang om hulle na Nellie te lei…Ag Jirretjie tog, meneer moet my glo dat Nellie ‘n goeie kjênd is….”

…………

Liewe leser wat gaan Renier nou maak met al die inligting? 

Hoe gaan hy al die knope bymekaar bring en die ware skelms aan die pen laat ry?

En Nellie, wat sal van haar word?

Julle sal tot die volgende aflewering moet wag….

_______________________________________________________________________________________

Moenie Hester se boodskap aan almal vergeet nie

BELANGRIKE BOODSKAP AAN ALLE DEELNEMENDE BLOGGERS

Nellie is aan die brand, op galop soos ‘n weghol-perd, en ek kan sien hoe al die bloggers haar geniet. Sommige van ons skrywers het nou vir ‘n tweede rondte ingeskryf! Hierdie is ‘n uitnodiging aan die oorblywende bloggers wat nog nie ‘n tweede kans gehad het nie, om in te skryf voor Donderdag 23 Augustus om 19:00 by hierdie skakel. Daarna gaan ek die inskrywingsvorm verwyder.

Ek het die afsluitdatum vir die vervolgverhaal aangeskuif na einde September toe en InLinkz is opdateer, om seker te maak dat ons genoeg tyd het om klaar te maak. Nog ‘n maand behoort genoeg te wees om die verhaal af te rond mits ons die momentum behou. Indien ons vroeër klaarmaak, is dit ook goed.

En wat gebeur hierna? Van die bloggers het gevra vir nog ‘n skryfsafari en hierdie keer gaan daar ‘n tema aan gekoppel wees. Dit gaan pret wees, dis AL wat ek op hierdie stadium gaan verklap 🤐 my lip is gezip!