Wagtend

So skuins na 14h00, begin ons reis van Port Elizabeth na Graaff-Reinet in die gewraakte Ford. Dis Bab se eerste blik op die stad en omgewing. Sy merk tereg op dat Atholl Trollip se stadsraad dit darem mooi netjies om die lughawe en strandfront onderhou.

Ons ry slinger- slinger op die snelweg, uit na die buitewyke. Borde wink: Coega, Uitenhage. Skielik is dit huisie op huisie, en draadheinings met rommel getooi. Die vriendelike stad se wind warrel en strooi gemors hier waar swaarkry woon.

Bab se hoekom is moeilik om te antwoord. Oplossings en redes te veel en te vol politiek en geskiedenis. Ons ry stil verby. ‘n Demper op ons opgewondenheid om by ons hartsbestemming uit te kom.

Bab se hande kom van agter en sy druk ons skouers. “Ons is bevoorreg.” Voorwaar ja, ons is.

Ons laat die stad en snelweg agter, en gou is dit koedoekos, turksvye, spekbome en aalwyne wat in die veld hul plek volstaan.

Die aalwyne staan kierts vol in die blom. Wagte met bloedrooi fakkels teen die ysblou lug. Dit lyk of hulle wagstaan om beeste, angorabokke en skaap oral rondgestippel op te pas. Wagtende herders.

Rots word hier van agter gevra om tog stadiger te ry, want kyk die wolke en die windpomp aan die draai teen die blouselblou hemel. My kind kiek, en kiek en lag en sê dis mooi hier.

Ons ry en die landskap raak wyer, groter en mens sien vêr. Daar amper vir altyd vêr staan Pierneefberge in reliëf. Dit lyk of hulle uitgesny is en op die horison staangemaak is. Blou, donkerblou, diep pers, grys en swart. “Al lê die berge nog so blou,” sing ek en my liefies lag mieliepit mooi. Ons vertel vir Bab dat dit nou die vir-ewigberge is waarvan ons so baie praat.

Die son sal laer en giet goud oor die Karooveld. Sting kom melodie in my kop ‘Fields of gold.” ‘n Geluksalige vredigheid kom oor my.

“Ma, lyk so anders,” sê my kind. Hierdie geweste toor my en dop my om. Dis die reine waarheid. Ek voel hier die naaste aan my eie self. My grootste geskenk is dat dieselfde met my Rots gebeur. Sy kyk raak sag en die plooitjies om sy oë kreukel van lag.

“Ek verstaan nou,” sê Bab. “Dis so oop en gestroop. Dis hoe ons harte en lewens voor God moet wees.” Stil tuur ons drie oor die Karoolandskap.

Ons is bevoorreg, Here. Dankie vir ons lieflike kind wat ons lewe so verryk. ‘n wyse, sagte, meelewende en mooi vrou. Dankie, dankie, sing my hart.

Ons draai net na vyf Graaff-Reinet in. Rots stop by sy gunsteling slaghuis en kom minute later terug met die tradisionele karootjop en Graaff-Reinet se smullekker dun braaiwors.

Gou is ons tuis, by Stokkies se woonstel. Knus neffens Great Expectations ons eie persoonlike stukkie Camdeboo. Op die transportakte is oor meer as 130 jaar vyf vorige eienaars gelys. Nou is dit ons beurt. Ons is bevoorreg.

Ons huurhuis staan net langsaan. Longreach, sy naam. Al vir tien jaar bly ons harte hier. Outback is die woonstel se naam. Van waar die Aussie name?

Ons het lank gelede deur Australië se Outback getoer. Longreach hie hoofdorp was waar Rots en ek besluit het, dat as ons enigsins, selfs so min as 4/10 van die mooi plek se atmosfeer en netheid op enige plek in Suid- Afrika kry, ons net daar, en nêrens anders, huis sou koop. Basta met logistiek of logika. Ons woon meer as dertien uur noord van ons huisies. Al vir lank.

Outback (die woonstel) se deur is so vyf meter van Longreach se voordeur, en die tweede laaste op regs voor die Botanies. Dis die sportvelde en park waar Graaff-Reinetters rugby, krieket, rolbal, Karoolusfees en so meer pleeg.

‘n Braaivuurtjie knetter gou, en ons drie is gejas en gekombers teen die koue. Ons harte se bly en warm ons verweer teen die koue wat reën en sneeu voorspel. Natuurlik help die glasie wyn en sjerrie ook. Hoe dan anders. Ons kwetter soos vinke en die buurmense bid sekerlik vir die gekke op die stoep. Inkommers, wie anders sal buite wees, is sekerlik wat gedink word. Hehe. Ons het lekker geslaap.

Vroegoggend, toe die sonnetjie die koue onsuksesvol probeer verjaag, is ons buitentoe. Stap deur ons tuin waar lieflike kaktusse en bome vir ons deur Obesa Kwekery aangeplant is. Die begin van ons Frida Kahlo-visie.

Ag, ontsteltenis, die een hekkie is oopgebreek, die veiligheidsdeur befoes. Kwajongens wat loop en bespied en weet, die huisie se aanbou loop stadig. Maar breek moet hulle breek. Ons bel maar ‘n sekerheidsmaatskappy en gou is daar met tegnologie ‘n alarmstelsel wat uit die woonstel werk, installeer.

Ek is natuurlik briesend. So moeg dat niks wat mens hard voor werk en swoeg, kan ontsnap aan skade van een of ander aard nie. C’est la vie, lewe in Mzanzi, né.

Ons eet laat ontbyt. Ons lees ons Bybeldagstukkie. Kapow.

Psalm 130:6: “Ek wag op die Here, meer as wagte op die môre wag, wagte op die môre.”

Stephan Joubert skryf in die dagstuk dat ons op God moet wag. Dat ons nie moet wag vir die Herder se sorg nie, maar op die Herder self.

Dit tref my dat ons meer soos die aalwyne in lof met hulle vlammende fakkelblomme op die Skepper wag, deur seisoene en groei. Rustig en nie vol verwagting op Sy plan vir ons nie. Nee, daai plan moet jy in vertroue self maak, en biddend vir leiding natuurlik.

Terwyl ons daardie lewensplan uitleef, moet ons wag vir Hom, die Skepper, die Herder, die Lewende Water, die Brood van die Lewe, die Plan self!

Ons is bevoorreg. Sela.

21 thoughts on “Wagtend

    • Haai, dankie. Ons staan so maklik in die wêreld en sonder aksie. Hy het ons met Sy doel hier geplaas, maar belowe ons sal moet planmaak terwyl ons hier is, want Sy Plan is ewig. So dink ek saam met Stephan Joubert.

      Like

      • Ek en my vrou gee ons alles en nog wat om ons lewensroeping uit te leef en onsself het lankal in die vergetelheid agtergebly. Ons doen under cover sendingwerk op die strate van die stad en is “ouers” vir jongmense wat ver van hulle mense is. Wit, swart, bruin, geel, van elke taal en kultuur. Dis ‘n ander lewe om onder hulle in te beweeg, waar kerke en straataksies hoogstens as buitestaanders hit & run.

        Liked by 1 person

  1. O julle tuin is pragtig! (ek self is ‘n GROOT Frida aanhanger <3).

    Julle is waarlik bevoorreg. Ek het juis so tien minute gelede gesoek vir werk in G-R. Lyk of daar werk is, maar my man sal ook werk moet kry eers. Ek het net die naweek besluit dis nie die moeite werd dat werk my joy steel in die lewe nie.

    Maar dis ook nie net so maklik nie nê.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s