Ons kyk NCIS, met Goth Abbey en die fraaie hardgebakte, maar groothartige, Eddie Bishop. ‘n Kollega met ‘n alkoholprobleem wroeg vreeslik, en Eddie sê wys: “We are as sick as our secrets.”  Ek beleef ‘n onthou-die-woorde-oomblik, sonder skryfgoed byderhand.

Una vertel sy kry ook sulke woorde oomblikke, as sy ‘n gunsteling tv-program kyk. Ek het gewoonlik ‘n pen en notaboek naby, of my foon of tablet byderhand. Verder verpes ek notas op hande, arm en so. Toe ons nog sonder plooie was, het Rots dikwles tuisgekom met sy bobeen vol griffels. Selfone was toe nog nie slim nie. Hy moes skrop om die tydelike tatoes van hom afgeskrop te kry.

Voor ek die spoor van my relaas verloor, ek het net ‘n pen, so my handpalm is waar ek onthou skryf: “We are as sick as our secrets.”

Ek soek die aanhaling vanoggend op op en lees dat dit deel is van die sogenaamde 12-stappe van Alkoholiste Anoniem. Die bedoeling daaragter is,  dat indien jy nie die trauma wat tot die verslawing gelei het as deel van jou genesing hanteer en erken nie, met ander woorde, jy rep niks oor die kindertyd se einas nie, maar wil jou verslawing aan drank erken, dit nie sal duld nie. Die hele sweer moet oopgesteek word, die hele mens se seer moet na vore kom – net dan kan daar genesing kom.

Ek reken die waarheid is op baie meer as verslawing van toepassing. Heel dikwels steek ons die seer wat ander se woorde maak diep agter in ‘n hoekie weg. Ons wys nie hoe seer dit maak nie, en dag vir dag kry daai seer kleintjies en die bloubekruip kry die spul beet, en voor jy jou oë uitvee is jy ‘n gemoedsbekakpilletjie-op-herhaling mens. Skielik is jy nie jou beste self nie.

So, die verbaal mishandelde, die geboeliede, die vertrapte moet moed skep en sê genoeg is genoeg. Staan op en laat die persoon weet jy is nie hulle projeksie en eie issues se slaansak nie. “Push back” is vir my ‘n mooi aksie. Ek sien iemand regop staan, die boelie in die oë kyk en sê “ek is nie meer die slagoffer nie, skaam jou, jou boelie.” Dis sekerlik hoe die #MeToo – vroue hulself bemagtig het.

John-Manuel Andriote skryf so raak: “It’s a powerful move to break the silence, shatter the secrecy, and expose abusive words and behavior rather than let them fester within you and undermine your self-esteem.  It’s also powerfully healing and a mark of resilience, which after all has everything to do with which version of our story we tell ourselves. Is it the version in which we are the hero, the one who survives and thrives in spite of abuse and insult by powerfully exposing them? Or is it the version in which the victim is warped by the shameful behavior of another person who is unable to conduct him/herself in a manner befitting a functional, rational adult?”

Is ons geheime, die woorde ongesê, die stiltes die oorsaak van ons ongesteldheid. Ons depressie, aggressie, ons seer en ongeduld? Is ons wêreld en soveel mense so stukkend omdat die waarheid versteek word? Omdat ons nie die held van ons eie storie is nie?

https://www.psychologytoday.com/us/blog/stonewall-strong/201803/youre-only-sick-your-secrets