towel1

Ek het al sedert kleintyd Sondagaandonrus. Reken dit het maar met koshuisdae se groet van ma, pa, sus, die hond en huis en haard om op ‘n te hoë bed in ‘n slaapsaal met oop gange, kil koue en blinkgladde vloere te gaan oorleef en skool toe te gaan.

Ek kan onthou hoe ek in my koshuisbed gelê en verlang het na ma se middernag inloer om my snoes toe te trek en die kombers om my vas te druk. Ek onthou my verlang na my Teddy en my flits en storieboeke by die huis.

Op universiteit was Sondae terug na Pretoria met die melktrein, Maandag voordag na sleg slaap voordag soek na ‘n taxi om betyds by die koshuis uit te kom.

Die reste van seer en alleen Sondagaande lê soos koffiemoer onder in my siel. Dis daar en iewers op ‘n Sondag aand tussen wakker en slaap word dit steeds omgeroer. Ek trag gereeld met gemengde sukses om die gevoel en rusteloosheid te besweer. Lees, bid, blokraai, fliek, warm melk….soms werk dit ander kere nie.

Gisteroggend se Maandag begin helaas met daai ‘ek het tot 04h00 geswot en gou vir ‘n uur geslaap, maar ek moes liewer wakkerbly’ watte op die brein gevoel. Rots en Bab troos en voer vars boeretroos en bly onder die radar. Ek is opgetrek oor onnadenkende mense,selfsug, en sommer oor die nuus ook.

Sotlike mense met gelukpakkie lisensies in luukse motors wat nie ‘n snars omgee dat ons 15km per uur ry want daar is moerse goed in ‘n konvooi voor, laat my moer oorloop. Ek raas en wys vinger, tourette my gewipgeit verbaal uit.

“Ma, haal asem. Jy gaan tekere soos ‘n chiauau! Wag nee, ma is ‘n miniatuur Doberman,” lag Bab. Rots loer so skuins na my.

“Ja, en my naampie sal seker Adolfie wees,” kap ek terug.

Ons almal lag en ek wens vir oulaas die ou in die Ford wat links op die skouer van die pad klippers laat spat om net vorentoe in te druk ‘n spyker in sy wiele. Bab raas en sê mens wens nie ander ongeluk toe nie.

Ek byt op my tande en lees maar op die tablet wat my blogmaats skrywe. Gister was lank, en ons is sommer vroegaand soos soet kinners in die bed. Lekker geslaap.

Vanoggend met boekevat leer ons van stilbly en luister en ek word vreeslik hard met die blindesambok gewiks. Ek kry skaam en besluit befoeterde, blaffende Adolfie moet rerig waai.

Sal opreg my bes probeer om stiller te raak en te luister, want met al my raas en blaas en skel loop ek skatte mis. Ek druk toe summier my menoupause lappie in my mond. Rots het gesukkel om te bid met die groot glimlag op sy gesig.

In my soeke na leiding om Adolfie straat af te jaag. vind ek twintig redes tot stilte.

Ek het werk om te doen en vergifnis om af te bid.

 

Foto van NANCY DOUTHEY 

Sy het werklik ‘n handoek in haar mond gestop om te ervaar wat dit is om stil gemaak te wees… interessant. Lees self.

http://recreationdocumentation.blogspot.com/2008/04/catalysis-iv.html