Toe ons nog min jare getroud is, moes ek weg vir drie dae om ‘n kursus by te woon. Rots moet vir Bab versorg. Regmaak vir dagmamma en self by die werk kom. Die kursus is vroeër klaar en ek kan ‘n aand vroeër huistoe kom. Dit was ‘n Vrydag. Angstig om weer by my gesin te wees en ook oor my kind se oorlewing. Rots kon toe nog soms vergeet hy is nie meer oujongkêrel nie. (Grappie)

Ek stop by die huis in Springbokstraat, Bethal. Dis doodstil, en die heerlikste reuk omgewe my toe ek die agterdeur oopmaak. Ek hallo maar niks behalwe die malse reuk van skaap wat bak groet my.

Ek sit my bagasie neer en trek die oonddeur oop. ‘n Ry tande en teruggetrekte lippe begroet my. ‘n Skaapkop in die oond. My gesin nêrens te bespeur nie. Daai dae het jy nog kon oorstap bure toe om te gesels en kuier.

Ek vlieg om uit die huis met die grynsslagskaap onuitwisbaar in my denke graveer. Straat af hoek toe, by ons Pikkie-vriende se huis in. Ek hoor hoe lag en gesels almal. “Jy’s vroeg,” is hoe Rots my groet. Hy kyk my so. “Jy het in die oond gekyk.”

Ek het daai aand eenkant ‘n sagte kaasbroodjie geëet.

Lang storie kort, dis 33 jaar later, en sowaar, hy het lank en geduldig gewag. Gister kom Saartjie skaapkop skoongeskrop saam huistoe.

Ek is nog net so grillerig, maar na al die jare, as jy nie kan wen nie, stap jy maar vir liefde saam. Rots se skaapkopgilde het vanaand twee ietwat gereserveerde lede, synde Bab en die uwe.

Saartjie is in sout water gebad, gespoel en met groot liefde in die buiteoond gebak. Hef aan lê voor.

Daar is soos dit in my huis gaan, opgelees oor skaapkop. Dine van Zyl se skaapkop relaas, die gewildste. Haar Boerekos kookboek is soveel meer as net resepte. Bab en ek vind haar instruksies en leiding erg vermaaklik.

Veral die gesegde “‘n ding smaak agter die oor,” het ‘n hele skaterlag relaas ontketen. Onder andere of Bab dan nou uiteindelik ‘n sib gaan kry. Ja né, daai weerlig is deur Maria en Josef gesteel. Ons lag en terg en Rots versorg geduldig vir ‘n klomp ure die buitevuur. Saartjie se glimlag al breër met elke uur wat verby gaan.

“Kyk hoe glimlag sy vir my,” kondig Rots aan die einde van die bakslag aan.

Nou ja, my oumas is saam met ander kaalvoet oor die Drakensberge en ek moet vir Bab tot voorbeeld wees. Ons sit aan met glimlaggende Saartjie so naby aan Rots se plek as wat ons kon. Jammerlappie en skerp messe getrou gedek soos Dine aanbeveel. Ek kies ‘n stukkie wang en natuurlik daai sappige agter die oor lekkerte. Mens moet mos ervaar en beleef. Bab hou ook by lappies wang.

Rots is soos ‘n kleuter met Kersfees. Dis stukkie wang, happie oor, en o vrek, daar gaan Saar se oog. Hy haal ewe respekvol die tongetjie uit, skil dit af en gee die lappies vel vir die vier honde wat soos “His masters Voice” tjoepstil sit en wag het vir hulle skaapkoplekkerte.

Bab het nie vreeslik van haar bord opgekyk tydens Rots se smulsessie nie. Net bedees dankie gesê haar steakie is amper lewendig perfek.

Saartjie wen vir Rots, die smullekkerte binne die kopbeen, moes oorstaan. Ek dink dit sal met roosterbrood bedien word, of mieliepap. Ek ssl liewer Post Toasties eet.

O ja, daai agterdie oor vleisies wat tot stoutigheid en gekriewel lei. Dis ‘n wolhaarstorie. Dis eerder ‘n susmiddel. Ons het netnou net wakker geword, tien ure se rus agter die blad.

Goeiemore!