R200

Nou hou jy op met jou gegrens. Dink, dink.

Die woorde maal deur Nellie se kop waar sy in die pad sit en snik.

Dis frustrerend dat die verdomde bakkie twee kilometer van Petrusburg gaan staan en ‘n pap wiel kry. Dis byna sononder. Nellie wil nie dat iemand haar hier kry nie.

Wat het ek gedink om die reuse tas op wiele te gaps,  ek sal moet kyk of hier iets anders is om my klere in te pak.

Sy ruk die bakkie se deur oop, trek die sitplek vorentoe en begin vervaard daar rondkrap. Ou koerante, onoopgemaakte pos, en wag, daar is ‘n toksak. Sy kan haar verskoning vir ‘n klerekas daarin oprol. Dan kan die tas en sy ingevoerde inhoud ook sommer net daar bly. Van diefstal wil Nellie nie nou aangekla word nie. Sy moet hier weg, dis die doelwit.

Flippit, wat gaan sy met R500 vermag. ‘n Buskaartjie tot in Bloemfontein? Die gedagtes fladder rond terwyl sy die toksak uitskud.

Drie styfgerolde bondels tuimel grondwaarts. Fok. Dis rolle R200 note so groot soos ‘n man se vuis! Sy lek oor haar droë lippe loer rond of iemand haar en die vonds dophou. Vinnig buk sy om die geld op te tel.

Wie s’n sou dit wees? Wegsteekgeld van Oom Ezra, of Chris s’n? Miskien weet hulle nie eens hiervan nie! Nellie se hart klop vinnig. Sy moet nou hier wegkom.

Sy pluk die duur leertas oop en gooi Tant Krissie se Franse kant ondergoedjies en parfuum eenkant. Rol haar t-hemde en denims en onderklere vinnig op en prop dit in die sak. Dit kan oor haar skouer haak, en twee kilometer draf sy blitsig af.

Sy was darem die Senior landloopkampioen van die distrik Petrusburg. As sy gou maak, kan sy by die busterminus uitkom. Die is elke dag tot 19h00 oop en die daaglikse bus na Bloemfontein vertek kort na sluitingstyd.

Gou draf Nellie die ent dorp toe. Sy voel beter – al het sy die bakkie “geleen”, so ook die tas en onderklere – sal dit darem by die oorspronklike eienaars uitkom.

Sy draai van die teerpad by Kampstraat in, verby #LekkerKuier-gastehuis. ‘n Hond blaf net agter die heining en Nellie skrik. Sy draf met Pretoriusstraat op tot by die Poskantoor op die hoek by Mulderstraat.

Met haar groente- en eiergeld koop sy ‘n eenrigtingkaartjie. Sy besluit sy sal op Bloemfontein haar opsies verder oorweeg. Verder busry of vlieg. Die drie rolle note veilig onder in die toksak. Sy sal dit tel wanneer sy ‘n ordentlike oornagplek gekry het. Wat ‘n gelukskoot!

Sy sit met haar kop agteroorgeleun teen die sagte kopstut van die bussitplek. Haar arms styf om die sak gevou.

Vir jou laat ek nie een oomblik uit my sig nie, dink Nellie. Gou is die dorp se ligte klein flonkerings in die truspieël wat so skuins voor haar sigbaar is.

Die net meer as 80km na Bloemfontein snel verby en gou stop die bus by die Terminus in Parkstraat. Sy klim versigtig uit die bus, en kyk om haar rond. ‘n Minibus wat Airport aandui staan so entjie weg. Sy sien ‘n paar mense drentel soontoe, en besluit net daar sy gaan saam.

Dis net na 21h00 toe die taxi so entjie van Bram Fisher lughawe by die Road Lodge stop. ‘n Moegheid wat met pure verligting te make het, spoel oor Nellie. ‘n Bad, ‘n bed en veral privaatheid om die geld te tel, in die vooruitsig.

In die hotel se ontvangs, draai Nellie vinnig links om na die badkamers te gaan. Sy kan immers nie geld van die rol note daar ten aanskoue van almal by die ontvangstoonbank aftel nie!

Vinnig tel sy R1000 af en maak seker al drie rolle lê diep in die sak tussen haar klere. Sy bespreek in as Suné Davel, en handig die kontant vir die verblyf en ontbyt oor. Niemand vra haar identiteitsdokument nie.

In haar kamer gekom, gooi sy die inhoud van die toksak uit. Sy sit die geld onder die kopkussings van die groot dubbelbed. Eers bad en opvars, dan geld tel. Nee, eers kos bestel, dan die res.

Sy bel ontvangs en hulle lig haar in dat sy van ‘n buiteaflweringsdiens gebruik kan maak om kos te bestel, en daar is verversings in die yskas, waarvoor sy more-oggend kan betaal. Sy pluk die botteltjie wyn en ‘n pakkie Lays skyfies uit die yskasduer. Dit sal haar moet deursien tot die volgende oggend.

Na sy gaan stort het skink sy die wyn in die enigste drinkglas en gaan sit kruisbeen voor die kussings op die bed. Sy steek haar hand onder die kussing en haal die drie rolle note uit. Die rekkies word versigtig afgehaal en die note lê opgekrul om haar rond. Sy begin tel en pak die hopies van R2 000 om haar neer. Sy tel R59 000. So dit was R60 000 voor sy verblyfgeld uitgetel het.

Wie sou dit weggesteek het en hoekom. Is dit oomkoopgeld, wegsteek geld, wonder Nellie. Sy glimlag – dis wegloopgeld vir haar. Depsgeld. Die voorstorie wil sy nie van weet nie. ‘n Nuwe lewe gaan begin. Dis al.

Sy tel R9000 uit en sit dit in haar verslete beursie wat nou net kleingeld in het, bêre die rolle weer in die sak. Sy sal voorentoe meer spaarsaam moet wees. Vanaand se lekker veilig en skoon slaap en more se vliegtuig rit is vir haar ‘n belegging in die res van haar lewe.

Sy wens sy kon sommer haar naam verander na Suné Davel, die lugredery sal egter haar identiteitsdokument vereis. Nellie Visagie sal sy vir eers bly.

Vroegoggend skrik Nellie vervaard wakker. Half vreemd, tot sy onthou. Die pad na vryheid wink.

Gou is sy op en reg om lughawe toe te vertrek. Sy moet die eerste vlug waar ookal heen haal. Die hotel se pendelbussie is leeg so vroegoggend. Sy sit alleen agter en kyk hoe die son oor die winterveld opkom en wonder waarheen is die eerste vlug en hoe laat.

Nellie stap die terminaal binne en kyk na die vlugskedule. Haar hart klop in haaar keel to sy die Kulula toonbank nader. Daar is om 9h30 ‘n vlug na Kimberly en om 11h00 ‘n vlug na OR Tambo. Sy doen navraag. Daar is plek op albei. Kimberly is heeltemal te naby voel sy en die kaartjie is duurder as OR Tambo. So, dis Gauteng, Johannesburg, ‘n eenrigting kaartjie, haar vlug na vryheid.

Dis nog vroeg en Nellie besluit om by Bram Fischer Mugg’nBean te gaan ontbyt eet, ‘n bederf met bodemlose koffie. Sy koop ‘n koerant en sit en lees terwyl sy vir haar kos wag.

‘n Bekende stem trek haar aandag. Ag,fok. Dis Chris Viljee. Die Chris Viljee van Brakput, Petrusburg. Daar waar sy vandaan gevlug het. Daar waar sy die geld in die toksak gekry het. Hy praat luid, bombasties soos hy is, op sy selfoon. Almal staar na hom, en hy is onbewus dat sy gesprek ten aanhoor van almal om hom is.

Nellie duik agter die koerant in. Hoe nou gemaak om uit sy pad te bly. Sy luister na die gesprek wat na haar aangesweef kom.

“Die vliegtuig vertrek eers om 11h00 na OR Tambo. Ek sien jou later.”

Nellie se hart klop in haar keel. Sy bid woordeloos dat hy tog nie by die restaurant inloop nie. Verlig sien sy hoe hy op sy hempsak klap. Seker op soek na ‘n sigaret dink sy. Hy stap buitetoe.

Nellie vlieg uit haar stoel op en hol na die Kulula toonbank.

“Kan ek asseblief my kaartjie ruil vir ‘n vlug na Kimberley?”

U kan, daar is nog plek. U sal net moet inbetaal.”

Nellie glimlag styf en haal haar beursie uit.

Dis 09h00 en die hekke gaan oop sodat passasiers aanboord van die Kimberley vlug kan stap. Toe sy so halfpad oor die teer is, verbeel sy haar dat iemand na haar roep.

Sal sy omkyk of aanstryk? Keuses. Keuses.

________________________________________________________________________________________

Om aan hierdie uitdaging deel te neem, lees die reëls by hierdie skakel.

InLinkz skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=789999

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

The post Bloguitdaging Kaleidoskoop – Die Laaste Strooi appeared first on Dis Ekke.