MAdiba

malema-zapiro2-300x205

Rapport vra Sondagoggend of jy ‘n stukkie Madiba wil kultiveer of wil jy jou oorgee aan jou innerlike Malema. Over geset synde: Wil jy iets tot stand help bring of wil jy toenenmend inwaarts migreer na haat?
Die meningstuk se skrywer, sê ook ons moet onthou daar is geen navorsing wat suggereer dat die verbose haters in die meerderheid is nie, hule kry wel “meer lugtyd as gewone mense.” Dis iets om te onthou.
Neffens die Madiba of Malema artikel is ‘n berig wat my onthuts. Die Prez CR sê hy wil liewer ‘n swak president wees, eerder as die vasvatter wat die kosbare ANC geskeur het. Regtig! Bid jou aan. Die organisasie wat nie verby sy bevrydingsretoriek kan groei nie.
Afrika het ‘n lang geskiedenis van bevryding, die afwerp van die juk van kolonialisme. Hier aan die suidpunt van Afrika, verloop dinge egter bietjie anders. Kolonialisme is vervang deur apartheid. Apartheid is in sy spore gestuit deur mense – lede van bevrydingsorganisasies en ook gewone Suid-Afrikaners wat gestem het dat dinge in ons land moet verander. Gerieflikheidshalwe en omdat dit nie die rasse narratief pas nie, word die bydrae maar onder die mat ingevee.
Om alles verder te konfoes, het die bevryders en die verdrukkers om ‘n tafel gekodesa. Die saak uitgepraat, beredder, bemiddel en onderhandel. Daar is hier skietgegee, daar gelos. Daar was belydenisse, daar was kompromieë. Nie een van die manne was lus vir oorlog nie. ‘n Paar ouens het geboue bestorm, bomme geplant, maar dit het halfhartig voorgekom, en is in die kiem gesmoor. O ja, en ons einste Cyril en Roelf Meyer was die prinse van daardie Madiba droom, die reënboognasie – mooi vlag en saamgeflansde volkslied en al.
Madiba se toorkuns het wyd gestrek – almal het saamgedans. Die dansery en welwillenndheid is vergaan, vergete. Skielik voel dit al te vreeslik soos die laat 1970’s en 1980’s van noodtoestande en brandende binnebande en geskreeu oor onreg.
Bevryding van wat, vra jy. Bevryding van politieke leuens en onderhandelde skikkings? Die ontevredenes skree, vloek, stig brand, stroop, dreunising van Kleinmond na Noupoort, Centurion na Kimberly en Koster tot in Polokwane. Oral brandendende buitebande en selfs skole, hospitale en munisipale kantore wat deurloop. Die woede oor leuens, swak dienslewering, nepostisme, korrupsie, noem maar op. Ek sit verslae om die jeugdige, byna hormonale behoefte om dit wat vir jou goed is te vernietig. Hoe brand jy ‘n skool af? Hoe vernietig jy ‘n kliniek, of brand die bus uit wat jou more werk toe moet vat?
Nee wat, die ou wat vertel het ons demokrasie is besig om volwasse te raak, na die effense gegrom by die vorige stembustouery, het ‘n fout begaan. Daai een swaweltjie gaan nie ons somer van grootword bring nie, ons het verval in ons eie lente van onrus en onmin.
‘n Volwasse demokrasie sal geen steen onaangeroer laat om saam te werk om te sorg dat korrupsie geen houvas op enige noodsaaklike en kern diens van ons land het nie. Ons sal raadslede verantwoordbaar hou vir hulle politieke beloftes. By die stembus hard en duidelik politici en lamsak leiers ‘n les leer.
Maar is ons besig daarmee? O nee. Die massa by stil soos stom skape. Ons sit met ons koppe gevolstruis in die sand. Ons wil nie weet nie, ons wil nie weet nie. Iemand anders sal die gemors sorteer. Wel, daar is nie ‘n De la Rey of Madiba wat kan keer dat die wat lawaai maak agter Malema en Andile aan tros nie!
Dis nou Malema en Andile wat danksy klasse geborg deur die Guptas, mooi by Bell Pottinger geleer het om hulle sosiale media teenwoordigheid op die Vuisboek en Twitter so te tooi, dat ons dink hulle is leeus in die arena.(Geheimpie: Hulle is katjies met diep stemme – hulle raas vreeslik, maar as jy naby ondersoek doen, sal jy altyd bekende gesigte om hulle sien. Ek weet nie wie borg die saamry bussie nie, maar ek is oortuig hulle is so min soos die AWB.) Dis hulle opswepery van naiewes wat my sooibrand gee.
Ons lui media moet ook voor stok gekry word. Gaan soek vir ons nuus wat ‘n verskil gaan maak, krap die goeie storie uit, volg die moordsake op, gee terugvoer as die burgemeester nie die riool-probleem oplos nie. Los vir Malema en Andile en Kallie om mekaar op die straathoek te bliksem… help ons om ons land te red. Moenie vir die boggers lugtyd en kolom-sentimeter spasie gee nie! Kom soek gewone Suid-Afrikaners op wat alles in die stryd werp om ‘n beter Suid-Afrika vir ons almal te bou. Ons wag om ons stories te vertel.
Sien, klompe van ons wil hard vashou aan ons stukkie Madiba en staan vas in die geloof dat die Here ‘n doel met elkeen van ons hier aan die suidpunt van Afrika het, anners sou die bote mos maar destyds verbygehou het en ons storie was heeltemal iets anders.
Bêre beslis jou Malema, en kultiveer jou Madiba as jy sou wou. Onthou: Kniel elke dag langs jou bed en bid vir vrede wat in hierdie gek land jou verstand te bowe gaan, want hierdie pad sal ons moet loop. Dit gaan baie van ons vra, dit gaan ons toets.
Jesaja 58 vertel vir my onomwonde hoe ons vorentoe kan beweeg. In geloof en met ‘n oop hart en siel gaan ek een voet voor die ander sit, vir leiding en genade vir ons almal vra en in Jesus-liefde optree. My kindskap van God-drieënig, die Vader, Seun en Heilige Gees, is al konstante tot in ewigheid.
Lees hoe mooi word ons vertel wat ons moet maak:
Jesaja 58 7 Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Gee blyplek aan hulle wat nêrens het om heen te gaan nie. Gee klere vir die mense wat jy kan sien niks het om aan te trek nie. Help jou familie as hulle hulp nodig het.
Jou bevryding kom.
8Wanneer jy so maak, sal jy bevry word. Dit sal vinnig kom soos die lig wat met dagbreek die donker laat verdwyn. Jy sal oornag herstel. Die Here wat jou vrymaak, sal jou met sy krag van alle kante beskerm.
9Wanneer jy dan na die Here roep, sal Hy jou antwoord. As jy God vra om jou te help, sal Hy sê: Ek kom.
Hou op om mense onregverdig te behandel. Hou op om vir mekaar vinger te wys en mekaar vals te beskuldig.
10Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Versorg hulle wat behoeftig is. Dan sal dit vir jou word soos lig wat die donker laat verdwyn, soos die son wat in die middel van die dag skyn.
11Die Here sal dan die hele tyd saam met jou wees. Wanneer dit moeilik gaan, sal Hy vir jou gee wat jy nodig het. Hy sal jou krag gee. Jy sal wees soos ’n tuin wat goed natgemaak word. Daar sal nooit ’n tekort wees aan water in jou tuin nie.
12Jou nageslag sal die ou bouvalle weer opbou. Hulle sal op die fondamente bou wat al geslagte lank bestaan. Hulle sal julle die mense noem wat mure weer opbou, wat huise en strate weer regmaak om in te bly.
no body