cropped-son.jpgDaar word oral in ons bos gekap, hard. Liefiemense het weer gister daardie oomblik ervaar. Daardie kits waar die lewe in twee gedeel word. Voor en na die vreeslike oomblik.

Dis die oproep wat niemand wil hê nie se oomblik. Dis die oomblik waar jy die lewenspad sonder ‘n geliefde verder moet stap. Die oomblik van tyding – jou geliefde is dood.

Erger nog is wanner die oomblik onaangekondig op jou afkom. Daardie skielike dood, die ongeluk of die toeval. Dis anders as die afwagtingsoomblik wat kom met die stadige agtertuitgang en ‘n siekbed.

Maak nie saak of jy al voorheen self daardie oomblik beleef het nie. Daar is niks behalwe teenwoordig en meelewing en stom wees wanneer ‘n ander deur daardie gapende vorteks getrek word. Magtelose toekskouer. Niks wat jy doen of sê kan die skok, leegtap en onpeilbare seer minder maak nie.

Dit is oorweldigend. Daardie oomblik. ‘n Tsoenami wat vir jou omslaan en in sy greep om en om en om tol en tot in jou diepste wese ruk. Daar is voortaan jy voor en jy na daardie oomblik. Uiteraard verander daardie oomblik alles – joumenswees, jou lewensuitkyk, soms selfs jou koers.

Ek wil net vir my liefiemense sê: hoewel die oomblik enorm is, daar weer mooi dae en oomblikke sal volg. Sit een voet voor die ander.  Huil, wees hartseer, wees kwaad. Vra hoekom, wees stil, wees alles wat die oomblikke hierna van jou vra.

Weet net, julle is nie alleen nie, en julle geliefde nog minder. Onse Liewe Vader se Seun het die angel van die dood vir ons gewen. Julle het iemand wat huistoe is, ons almal sal  agterna volg. Ons stap saam vorentoe, ons stap saam huistoe.

 

36903038_953962548118223_5428327801553944576_n