In my kombuis, so as jy deurstap eetkamer toe, hang ‘n afdruk van ‘n 1858 plakkaat van ‘n pryswennende vark. In my huis is dit nou ekke, die vark in die lekkerbly verhaal, wat raas oor uitstallings, hondepote op die matte, kussings op die vloer en so aan en so aan.

Daar is egter nou ‘n nuwe vark in die storie.

Rots en Bab en ekke en Elisa en Bessie en Mielie en Kokol is die afgelope weke deur die 2018 griep platgetrek. Ons huisdokter diagnoseer die een met bolugweginfeksie, daai een met sensitiewe longe, en die uwe met varkgriep. Ag, ja.

Ons almal praat met so laer stemtoon, neuse toe, loop met pap lywe en grade van koors. Elkeen kry sy dae in die bed, sop en liefde en simpatie. Dis hoe ons rol.

Dokter het vir elkeen sy eie antibiotika, asempompie en hoesstroop. Trap ons uit oor selfmedikasie, en die tannie by ontvangs hou na elke besoek ewe liefies die rekening vir die besoek en moetie. Rooi lippies rooibostee getrek, en jy weet, jy stap nie uit voor jy nie vir Geduld oorhandig het om deur die heen-en-weermasjien gesleep en aan balans verminder word nie.

Net toe ek reken die ergste is verby, begin ek Maandagaand bibber en kramp en naar. Die troon en Ouma se koos en slopemmer, wat meestal naby staan om ons te herinner om dankbaar te wees vir spoeltoilette en riolering, word my geselskap.

Genade, ek kwyl en braak en blaas en…..dis te vreeslik. Sê maar soos die ou lugverfrisser tv-advertensie van jare gelede, “ons is gawe mense, net jammer van die reuke….”

Dis drie dae later en ‘n uitgewaste asvaal weergawe van vurige ekke is hier aan die griffel. Die mediese uitslag, dis maar die griep. Oink.

Dankie Una dat jy kontak maak. Vanoggend rapporteer en pieker ek dat “my ingewande gemoedsbekakking het, letterlik. Ek het krag vir niks, en nog minder is iets vir my oulik of inspirerend. My lyf en skryf is ontwater. Met iets sinvol sal ek later kom speel in Blogland.” Vir dierbare Una is my afwesigheid soos ‘n koeistal. ‘n Ware gemis.

Vanoggend doen betroubare Elsabé Brits in Beeld verslag dat vanjaar se griep nie varkgriep is nie, dis net erg. Ek lê ylend en lam. Is daar weer medisynesmouse wat nuwe produkte bemark en teikens te haal het, en die gevolg dat ons net vol goed geprop word? Is die griep en variteite wat gediagnoseer word maar deel van die seisoen se begrotings? Ek wonder maar net, dis seker die koors. Maar die apteker het ook vertel dat hulle nog nie eers verlede jaar se gogga verstaan nie. As dit so is, daan is medisyne ook maar raai-raai-riepa. O my vy, ek is besig om te verander in ‘n daar-is-‘n-sameswering varkie.

Soos die ou mense gesê het: As jy griep kry, klim in die bed vir drie dae en daarna dokter jy vir sewe dae of ‘n week simptome…dis die vark in die verhaal. Ek gaan nou ‘n gemmertjie drink en hoop vir die beste. Groetnis.