Goeiemore, dis die “rubbish racist” hier. Ek het toe gisteraand gaan slaap en die eina van my kliënt en my self by God se voete gaan bêre, en so paar keer teruggegryp toe ek dink Hy hoor en sien nie….
Vanoggend is Rots donkervroeg in die ysige koue uit per Legend om sy laaste besoek aan die stywenekkie spesialiste te gaan bring. Hy laat so ewe netnou weet hy is van die kritieke lys af…ek vra hy moet dan nou ook begin om sy kritiek vir homself te hou!
Ek lees toe uiteraard vroegdag, met lekker boeretroos in die hand en knus in my bed toegewikkel teen die vriespuntkoue, die Beeld op die tablet. Met gister se eina so skimmerig, want ek het dit mos nie rerig vir God gegee nie… lees ek twee goed raak.
Eerstens skrywe André van Niekerk in ‘n rubriek onder die hoof “Kies eerder om te vergewe en te vergeet,” dat “dit wysheid en moed verg om die vuurtjie van vergifnis en vergeet in ons verdeelde land aan te blaas terwyl die stormwinde van onthou en vergelding al in die voorverkiesingsjaar, versoening wil doodwaai.”
KAPOW. Hard hoor ek God met my praat. “Waar is daai pakkie seer, Ek sal jou sterk en moedig maak!”
Benoud lees ek verder: “Vergifnis is nie ‘n hofuitspraak nie, dit is eerder ‘n diepgaande verandering binne jou diepste self.” Daar waar jy en God saam is.
Van Niekerk skryf seer raak: “Om te kan ophou vaskyk teen ander se oortredinge, moet jy insien dat jy ander se motiewe nie kan peil nie. Jy moet selfs kan besef dat jy met ‘n balk in jou eie oog, ander se splinters raak sien.”
Jesus self het nie weerwraak uit die Ou Testament gekies nie, van sy eerste openbare woorde in Lukas 4, kies hy om “heilsgeluk” uit Jesaja aan te haal, nie vergeding nie. Gaan lees self.
Ek neem Van Niekerk se uitnodiging om “met geluk eerder as met reg (in eie oë) te leef.”
En nog is het einde niet van my KAPOW-ervaring. Net onder die rubriek is Stephan Joubert se Goeie Nuus vir die dag. Die opskrif: Plaas ‘n wag voor jou emosies.
Né! Hard en duidelik kom die boodskap:
Fil4:4-7 Wees altyd bly in die Here. Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
Stephan Joubert sê ons moet gereeld met al ons negatiewe en seer emosies, na God kom om dit “in die hemel se wasmasjien te sit.”
Hy stel dit so mooi “net soos ons moet onthou om nie te hoes of nies sonder om ons hand voor ons mond te sit nie, moet ons onthou om die HEre daagliks te vra om ‘n wag voor al ons emosies te sit. Anders vergiftig ons onsself van binne af. Anders steek ons ander mense aan wanneer ons sulke goor emosies kliphard uithoes en uitnies.”
Netnou is daar ‘n klop aan die winkeldeur.
“Nee, ons het nie werk nie,” sê ek vir die man met die wringende hande.
“Sal jy vir my bid. My naam is Daniël. Ek is afgelê en die geld is een van die dae op. Ek is nie op ‘n lekker plek nie.”
Ons bid net daar in die voordeur saam. Ek bid vir uitkoms vir al die Daniëls in leeukuile van ons seer land, ek bid ook weer vir vir die vrou wat so kwaadseer geskreeu het. Daniël sê: “God is good, He will prevail.” Ek sê amen daarop, en net daar, tussen my en Daniël is daardie beloofde vrede wat alle verstand te bowe gaan!
Sien – nuwe dag, nuwe moontlikhede. Kies om te sonneblom. Kies om in alle waarheid elke dag as ‘n nuwe dag te begin, want sien die mooi sonsopkoms wat my al gisteroggend begroet het en my seer dag my skoon daarvan laat vergeet het! Sien vie Daniël en sien God se liefdevolle genade. Nuut, elke dag!
(My eie foto in 2012 gekiek)
WOW! WOW! WOW!
LikeLike
Ek het werklik ook jou ‘reis’ van gister en vanoggend nodig gehad. Om te kon lees wat vir jou gesê is, om jou ontsteltenis saam te ervaar, maar dan ook van jou heling te hoor. Jy het my gees sommer hoog opgelig.
LikeLiked by 1 person
So reis ons saam huistoe!
LikeLiked by 1 person
Wanneer verjaar jy???
LikeLike
Hehe – op die ou jaar. As my ma vier uur kon knyp was ek nuwejaarbaba en ‘n jaar jonger! 😉
LikeLiked by 1 person
Ek wou darem net seker maak dis nie nou nie.☺ Nogal op die 31ste Des! Sjoe.
LikeLike
Dankie hiervoor!
LikeLiked by 1 person
Nou tjank ek sommer. So mooi. Dankie.
LikeLiked by 1 person
En hierdie het ek nou nodig gehad, hoor! Ek is ook verkeerd aangehaal, woorde verdraai, vals beskuldig deur iemand vir wie ek baie lief is, ek besef haar swaarkry, maar het my selfs later onttrek in my selfbejammering. Dankie hiervoor.
LikeLiked by 1 person
Lieflik – praat met my hart.
LikeLiked by 1 person
Besonders geskryf!
LikeLiked by 1 person
Pragtige foto.
Pragtige skrifgedeelte.
In jou vorige post het ek vir jou “raad” met ‘n Bybelvers wat ek geplaas het. Ek sou egter erken dat dit deesdae nie meer so maklik is vir my om hierdie vrede en reugde waarna hier verwys word te beleef nie
LikeLiked by 1 person