Statistiek. Jy het ‘n kans om iets oor te kom. ‘n Motorkaping, huisbraak, ‘n ingroeitoonnael, gemoedsbekakking, egskeiding, etikettering, kompartementalisering, en so aan en so aan.

Ek disrespekteer niemand. Doelbewus. Die werklose, die ryke, die geleerde, die andermens wat voor my staan. There for the grace of God….

Meelewing, die anderkant van die spieël is iets wat deel van my elke dag is. Doen wat jy kan met wat jy het. Plaas jou in die ander ou se skoene.

Vandag, so effe voor my sestigste bestaansjaar word ek deel van die politieke, rasgedrewe narratief aan die seëvier in ons land. Dankie Bell Pottinger en die Guptas. Niemand laat my fisiese bloei nie, daar was geen geweer teen my kop nie. Maar ek was daar saam met die verfoeides, die vernederdes, die veragtes.

Die banneling, die gevangene, die Jood met sy ster op sy mou.

‘n Stortvloed van woorde uit ‘n ongelukkige, nuwe bevoorregte vrou se mond het my naak gelaat.

“You rubbish, you racist.”

Ongevraag spoel die woorde soos sout op oop seer. My denke verstar. My woorde Goddank op.

Jy ken my nie, en ek hie vir jou nie.

Ek bid vir jou seer en jou woede. Ek hoop jy voel beter. Ons sal more weer praat.

Vanaand sal ek slaap en vir jou en al die mense van ons seer land en myself bid.