‘n Vrou moet doen wat ‘n vrou moet doen. Feëland se feng shui werk nie, iets makeer. Rots is ongelukkig, ek is seer van nerf. Bab en Mielie wil gillend die winkel uit,  en die vlaktes inhol oor hulle grootmense se iesegrimmigheid .

Na aanleiding van my hoogs emosionele reaksie gister op drukkies en liefde teenoor my betoon, besluit ek, hierdie monsters in my en my geliefde se binnestes gaan met klein-dingetjies-gedoen-met-groot-liefde, beveg word.

Ek begin sommer al gisteraand met die hernude fokus. Rots voel knieserig en snotterig, ek dokter met Corenza C en Norflex vir sy nek pyn. Sien, die koue weer laat die nek met die fusieprostese knies. Ag, ek is simpel om nie te onthou nie, my rug maak al vir twee jaar dieselfde.

Rots het blykbaar toe ook sy eie strategie. Knies en al word ons bederf met boontjiekoekies en picana steak in die gietysterpan.  Die vrede sprei saam met die Goya kaggel se hitte deur die huis. Die honde hou op grom, ons ook.

Nogal ‘n kouewater op die gevreet oomblik, né. Klein jakkalsies moet altyd dopgehou en verjaag word, anders verander hulle gou in monsters wat alles om hulle verwoes.

Vanoggend moet Rots en ons kaggelmanne vroeg en ver ry om ‘n kaggel te gaan diens en ook by ‘n oord waar ons kaggels installeer het, die personeel gaan touwys maak om die eenhede ordentlik te gebruik. (Julle kan nie glo wat mense met ‘n kaggel kan aanvang nie!)

Terwyl hy gaan stort, hol ek kombuis toe. Rots vrek oor padkosbroodjies – katjiebotter met stroop en Bovril. Ek staan en smeer die margarien op die snytjies brood, rustig tot elke hoekie ook ‘n smeersel het.

Net soos my pa my soveel jare gelede geleer het: “Botter al vier hoeke van die snytjie brood, my kind. Dis hoe jy liefde wys.” Dis al meer as veertig jaar, maar ek onthou daardie oomblik saam met my pa in die kombuis soos gister. Die grootheid en die eenvoud het my bygebly. Dit glip net so partykeer terug in die onthouboks pleks om op my hart se elke-dag-nodig rak te bly!

Behalwe die liedfebroodjie, skryf ek vir hom ‘n liefienota. Dis tradisie wat onderbreek is sedert Oktober verlede jaar. Sy stywenekkie-episode en daaropvolgende operasie en lang herstel, die onderbreking. Sjoe, ek sal mal word as bykans ‘n halwe jaar nie my elke dag soos ek daarvan hou kan bedryf nie!

Lekker val die skille van my oë af, en besef ek hoekom ek so kort-kort soos die dinges in die drinkwater voel nie. Waar sal my man dan nou heen met sy frustrasie en seer?

Hoe lekker toe hy my netnou bel en sê die broodjies was lekker en die briefie, dankie vir die briefie.