Die atmosfeer in my feëverhaal is ietwat bewolk en mistig sedert gisteroggend. Soveel so, dat Rots en Bab en ek so bietjie stywenekkie met mekaar is. Tot die honde grom vir mekaar.
Ja, die dinges spat en breek soms in sprokiesland los, glo my. Dis maar net ‘n adres van gewone mense hier op die ondermaanse en net die stukkie van die spieël wat dikwels gewys word.
Ek is besonder sensitief omdat ek nie kan glo dat die geliefde vrou van Sondag wat troetelbederf pedi en voetgemaseer die naweek in is en sulke wollerige pantoffels vir ma-dag uit haar pakkie gehaal het, Dinsdag die drol in die paleis se drinkwater is nie. Maar nou ja, ons bly nie in die hemel nie, ons reis soontoe.
Met ‘n nerfdungeit nog in die lug, na daar weer onder gebed ons swak voorbeeld, sonder bespreking van wat die swak voorbeeld veroorsaak het, vergifnis voor gevra is, begin hierdie Woensdag. Ek kan nie. Vergewe my. Wat ek die graagste sal wil hê is dat ons uitpraat sodat ons nooit weer hierdie “underlying issue” hoef te sorteer nie. So die rit per Legend om ekonomie te gaan pleeg is maar stil.
So kom ons by die Lekkerwinkel aan, ek druk die paniekknoppie in plaas van die alarm. Ons is skaars oop, of die eerste vrag kunsmis word gelewer, daar is vragte te laai, kaggels om te gaan herstel (onthou laat ek eendag vir julle wys hoe om nie met ‘n kaggel te werk nie). Dis bedrywig.
Op die kamera-monitor sien ek vir Regina, ons straatkioskvrou van oorkant die pad, by die hek. Vetkoek-Regina wat haar Checkerstrollie, met haar potte en panne en gasbottel en skottels en meel, by ons bêre en water by ons tap. Regina wat die ontvanger is van al ons “ek-is-klaar-met-die” klere en skoene kry. Wat vir die eerste keer ‘n bra dra, omdat sy kom vra het. Sy het ‘n plastieksak in haar hand.
Die telefoon lui, en ek gaan met my werk aan. Regina oombliklik uit my kop. My ander kind, Bessie wat vir ons kantoor skoonhou en sorg dat ek nie mal word van koffiekoppies in kantore en leë toiletrolle in die badkamers nie, kom sê om die kantoordeur se hoek, iemand wil my sien.
Ek kyk op. Regina, met haar blink gesig, met rook van vanoggend se opstaanvuur soos parfuum wat kleef, staan met die einste plastieksak voor my.
“Happy mother’s day,” en haal die handgemaakte mandjie uit die sak. Ek gaan aan die snik, en sy kom gee my die grootste liefhê druk. Ek sit in trane lank na sy weg is, sit en kyk hoe sy die trollie hek uit, oor die pad stoot om in die koue onder haar handgemaakte kiosk loop vetkoek bak om te sorg vir kos op haar tafel.
Bessie kom kantoor in. “Jy is mooi, moenie huil nie,” en sy hou my styf vas. Jinne, kyk net hoe word ek met liefhê omvou.
My selfoon biep, ‘n Whatsapp bid-vriendin stuur ‘n video. Luister gerus. Hy is onderaan die inskrywing.
My bekaf Rots kom in en sien die mandjie. “‘n Moedersdag persent,” sê ek. Hy kyk my so skuins aan en buk af en gee my die drukkie wat ek al gisteroggend wou gehad het.
‘n Aangetroude tante met wie ek nie baie kontak het nie, maar van die min mense is wat my kleintyd saam met my beleef het, en weet dat my bynaam Rina is, stuur ‘n omgee SMS.
Soos Amore van Tjailatyd so gereeld sê: “Toe-val-Lig.”
Die son breek deur die mis wat Poloniekwane en my hart omweef het.
Die warmte klop kleinbekeer hier in my binneste. Ons Here se liefde leef in en deur mense. Dis daar, en al sien mense om jou nie al jou seer en versugtinge raak nie, Hy hoor die onhoorbare en sien die onsienbare. Sy liefde ken geen perke nie.
Here, dankie, dat U liefde in Regina en my heen en weer vloei. Dankie dat U liefde tussen my en Bessie vloei. Dankie dat hulle my ma noem. En dankie dat U liefde vir Rots en Bab en my ook ewig hou, selfs wanneeer ons nie baie van mekaar hou nie. Dankie dat U my kom wys ons dun jammer-vir-myselfgeite moet wyk, daar is net tyd en plek vir oopbek-en loshande liefde. Dankie vir whatsapp en smse waar ek besef, dis U, dis U!
My Bybelvers van die dag het nou net op die selfoon arriveer:
Hoe pragtig. Ai hoe raak hierdie my nou. Hierdie is eintlik die mooiste feeverhaal: Rwgina se wondermandjie vol liefde
LikeLiked by 2 people
Regina
LikeLike
Dis nou weer ‘n storie wat ‘n mens se hart net warm maak. Ek het die voorreg om saam julle in die kantoor te wees. Dis die eerste keer in my lewe dat ek die gevoel ervaar, dat maak nie saak wie deur die kantoor stap.. of dit nou vir werk of net ‘n kuier of sommer net om aanwysings te kry omdat hulle verdwaal het, 99% van die tyd hier weg stap met ‘n gelukkige hart en hoop. Dankie dat Tannie vir almal ‘n Moeder is. Ek is lief vir Tannie x
LikeLiked by 2 people
Mielie, my ander kind en my vriendin….lief vir jou
LikeLike
Ek sit nou lekker en snik, als jou skuld! Wat ñ pragtige getuienis, Lekkervurig. Een waarmee ek myself 100% kan vereenselwig. Mag jy ñ warm dag beleef deur al die liefde wat so na jou kant toe aankom. Toe-val-Lig!
LikeLiked by 2 people
Mwah en drukkies – en gaan ry die langpad om werk toe en geniet die uitsig!
LikeLiked by 1 person
☺xx
LikeLiked by 1 person
Mooi! Jy kry liefde wanneer jy dit nodig het omdat jy dit so mildelik uitdeel 😊❤
LikeLiked by 2 people
Hester, djoe is my friend and I is happy for dat!
LikeLiked by 2 people
I also laaikes the friendship
LikeLiked by 2 people
Dankie ek voel ook soms so
LikeLiked by 1 person
Wat ‘n pragtige skrywe. Dankie dat jy dit gedeel het. Dit laat my besef dat ons lewenspad is eintlik gesaai met genade – dis net dat dit soms moeilik is om dit mooi raak te sien. Wat ‘n voorreg as dit aan jou deur kom klop.
LikeLike