Lê-Jou-Eier: Skryf-Safari Skryf die storie klaar

WomanAloneWithSuitcase1

Betyds

Saar Minnaar kners op haar tande. Braam se vrolike gefluit irriteer haar. Waar sy kalmte geanker is, sal sy nie weet nie. Die droogte is allesverterend – veld, vee, water, selfs menswees verskrompel tot niks.

“Ons het ‘n wonderwerk nodig,” sê Saar mistroostig.

“Nee, my lief, ons het geloof en vasbyt nodig, en miskien ‘n bietjie toevallige geluk,” sê Braam terwyl hy die possleutels en sy loterykaartjie in sy hempsak druk. Hy sluk sy koffie en soen haar voorkop.

“Ek gaan gou dorp toe. Daar kom vandag lusern van die Hoëveld. Ons sal maar swaar trek as die land se mense nie so hulpvaardig is nie.”

“Gmmf, gekkebelasting. Dis al wat daai loterykaartjie van jou is. Die kanse dat die hemel val en ons blou mussies gaan dra is meer waarskynlik. So van hulpvaardig gepraat. Hier is my dorpslysie. Asseblief, moenie vergeet om by Tannie Malie by Dokter Soois aan te gaan nie. Sy het laat weet ons moet daar draai,” vra Saar.

Braam kla: “Ag Saar, Tant Malie praat so baie, kom saam.”

“Ek het goed wat ek moet doen, en ek sien nie kans vir die rit in die lorrie nie. Wie is nou hulpvaardig?” kom dit snipperig.

Braam haal sy skouers op en glimlag skeef.

Gou is die lorrie se gedreun ‘n herinnering, en die stilte sak soos die versengende hitte op die werf neer. Saar begin met haar dag se sleurwerk.

Die hoenders kry kos, eiers word uitgehaal. Die stoof voel koud, en sy gooi hout op die vuur. Saar pieker oor aandete, Braam gaan rasend wees van die honger na die dag op die dorp.

Sy begin water tap om wasgoed te was. Die kraan drup enkele druppels water in die wasbak.

Die tenk is leeg. Saar stap uit na die windpomp by die sementdam. Sy trek die handpomphefboom op en af sodat die watertenk kan vol word. Die boorgatpomp het die gees gegee en daar is nie geld vir herstel nie.

Die waterpomp se handvatsel hang opeens swaar in haar hand. Morsaf gebreek. Daar is geen manier om water te pomp nie. Moedeloosheid stroop haar van alle rede.

“Nou is ek klaar,” snik Saar en storm die huis in. Sy haal haar kerkpakkie en hakskoene uit die hangkas en verklee. Sy smyt haar tandeborsel, pajamas, smuktas, ‘n skoon stel klere en haar handsak in ‘n tas.

Met ferm tred stap sy eetkamer toe en haal die Familiebybel uit die buffet en haak die trouportret van die muur af. Braam glimlag uit die foto asof hy net goeie dinge in hulle toekoms sien.

Sy draai die kleinnode in ‘n blou kombersie toe. Die kombers wat bedoel was vir die seuntjie wat hulle nie het nie.

Sonder om terug te kyk, stap sy, tas in die hand en kosbaarhede styf teen haar bors geklem, by die plaashek uit.

“Klaar,klaar, klaar,” knars die klippers onder haar sole in ‘n koor.

Dit gaan sukkel op die hoë hakke, en gou loop sweet in riviere teen haar slape af. Sy sit een voet voor die ander. Omdraai is nie ‘n opsie nie. Genoeg is genoeg.

Die plaashuis word al hoe kleiner tussen die verskrompelde mielielande – soos ‘n bedremmelde geliefde in onvermoë om Saar tot inkeer te roep.

Skielik, asof in ‘n droom, voel Saar hoe die horison kantel toe haar voet swik en die tas uit haar hand vlieg. Sy klou verbete aan die kombers met sy kosbare inhoud. Glas splinter en haar arms en knieë brand soos vuur. Sy bly in die rooi stof lê.

“Ek gaan nou net hier bly lê. Iemand kan oor my ry, of die aasvoëls kan maar my kom oë uit pik. Ek verstaan nou vir Job wat sommer so in sak en as kon sit en sy sere krap!”

Saar hoor nie die donkiekar nader kom nie. Moos, haar skoonpa se bejaarde regterhand, kry haar plat op die grond, trane in leivore oor haar stofbesmeerde gesig, onbedaarlik aan die snik.

“En as Saar nou hier in die middel van die pad sit en grens?” vra Moos besorg.

“Ek wil hier weg, Moos. Ek kan nie meer nie.”

“Kom ek help jou op. Bella en Koos sal ons gou daar onder daai doringboom se koelte staanmaak. Kry nou al jou seer bymekaar en vee af die huil. Mens is nie sommer net so klaar nie. Almal kry swaar. Dit is nou tyd om geduldig te wees. Net soos Vader Abram in die Bybel. Hy was oud voor die Jirre se woord waar geword het en daar ‘n kjênd vir hom en Sara gebore is. En later toe hy Isak moes gaan offer, het hy bly glo, en die Jirre se voorsienigheid het hom gespaar. Die Jirre se tyd is Sy tyd,” raas Moos.

Saar sit kop onderstebo. Moos is reg. Wat is anders op ‘n ander plek. Stadig kom sy tot haar sinne. Sy kyk af na haar verkreukelde romp, nerfaf knieë en haar hakskoene. Wat het sy gedink?

“Ag, Moos, ek is sommer simpel. Dis net alles te veel…”

Sy kry nie kans om klaar te praat nie. Rooi stof slaan om hulle op. Dis Braam. Hy slaan remme aan toe hy hulle sien…

****

Mevrou Minnaar. Saar, Saar!”

Iemand roep na haar, sy hoor ‘n aanhoudende gebiep . Wat gaan aan? Skielik skyn ‘n lig in haar oë.

“Waar is ek? My kop is seer. Braam?”

Stadig lig newels om haar, en sy sien Braampie en Dr Hans hier by haar. Braampie hou haar hande in syne vas.

“Mamma is terug”, sy stem skor en oë vol trane.

“Moos, waar is Moos?” Saar se oë flits deur die vertrek.

Braampie klem haar hande stywer vas.

“Ma, onthou jy nie? Moos is al jare oorlede.”

“Nee man, ek en Moos was op die donkie kar onder die doringboom. Toe kom jou pa….”

Sy raak vir ‘n oomblik stil en skielik kom die nagmerrie herinneringe terug. Sy en Braam was in die groentetuin toe drie jong seuns uit die veld aangestap kom.

“Ons soek werk,” vra hulle.

Toe Braam verduidelik daar is niks, stamp die een met die krapmerke oor sy wange hom ru teen die grond.

Braam gil: “Saartjie hardloop!”

Saar vlieg om en so vinnig as wat haar middeljarige knieë kan, hardloop sy kombuisdeur toe. “Here, is dit hoe die laaste oomblikke voel?”

Sy hoor twee skote klap. Angs stoot in haar keel op. Hulle vang haar net voor die veiligheidshek.

“Waar is die geld!” Houe reën op haar neer. Haar kop stamp hard teen die gangmuur. ‘n Yster kloof haar voorkop oop. Sy kry nie asem nie. Iemand wurg haar. Hulle skop en skel. “Praat, jou teef. Vandag vrek jy!” Saar voel die bloed in haar ore pols. “Here, laat dit net stop.”

Sy onthou van die paniekknoppie in haar broeksak. Net voor die swart newels haar toevou, kry sy die knoppie gedruk.

Die onthou maak haar beangs, sy kry skaars die woorde uit:”Waar is jou pa, waar is my man? Hulle het hom geskiet. Ek onthou,” Saar se mond is kurkdroog en haar oë is vraend op haar seun gerig.

“Hy lê in intensief, Mamma, ons was net betyds. Een skoot is deur sy skouer en die ander het sy bo-been getref. Hy het baie bloed verloor. As Ma nie daai panieknoppie gedruk het nie….ek wil nie eens dink nie. Ek was by die boonste dam toe die selfoon lui. Die sekerheidsmaatskappy kon Ma nie in die hande kry na hulle die panieksein ontvang het nie. Dit was die langste rit in my lewe. Om julle so stukkend en seergemaak daar op die werf te kry. Ek gaan lank sukkel om dit uit my kop te kry. Die belhamels is net buite die buurplaas se ingang aangekeer. Het so ewe die pad afgedrentel om nie aandag te trek nie, een het pa se leerbaadjie aangehad…Ma, jy was vir drie dae weg.”

Saar maak hom stil. “Ek was nie weg nie, my kind. Ek was op pad weg, toe keer Moos vir my. Net betyds.”

 

______________________________________________________________________________________

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=777222

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

24 thoughts on “Lê-Jou-Eier: Skryf-Safari Skryf die storie klaar

  1. Ek is bly jy het jou storie se einde gekry… en watter “twist” het hierdie einde nie!!!
    Dit het my hart bietjie benoud laat klop. Lees dit net nadat my sus se dogter (sy is onderwyseres by Eagles Nest daar in Polokwane) bel en sê daar is gisteraand by haar en die koshuis wat sy het ingebreek en tv ens gevat. Sy bly so end van Eagles Nest op ‘n klein plasie.

    Liked by 2 people

      • Dis presies wat sy sê. Sy het 4 aanneem kinders in haar huis. Die koshuis was leeg want dis langnaweek… en deur genade (sê sý) het haar seun en dogter by hulle pa oornag. Haar seun sou definitief opgestaan en gaan kyk het hoekom die hond so grom. Nou is ek so deurmekaar met jou en haar storie dat ek amper vir jou sê hulle het die drie gevang al drentelend pad af met ‘n baadjie aan. Mooi dag vir jou 😊

        Liked by 1 person

    • Vandag bekla ek nounet mooi my lot hier by jou. As daar een ding was wat ek goed kon doen is dit Engels en Afrikaans spel. Dis net weg…. ek sit en oe en aa oor die eenvoudigste woord omdat ek onseker van die spelling is. Hier het ek alweer ‘n fout gemaak “Sy bly so ‘n enT van……” 😕 Eintlik wil ek huil…. hierdie ouderdom ding is sommer nonsens.

      Like

  2. o wow die perfekte einde vir vandag se tyd. En Moos wat gekeer het, gee eer ‘n ander dimense. Skryf jy stories en boeke? Indien nie moet jy gou begin. Vertel ons asb bietjie van jou joernalistieke agtergrond., toe?

    Like

    • Ai, Seegogga. Jy is gaaf met my. Woorde toor my al van kleintyd. Het na my eerste poging tot mevrou se bloedige einde myself in ‘n joernalisjoppie by ‘n streekkoerant ingepraat, telefonies. Die was wonderlike dae….ontploffings by die landdroskantore, motorongelukke, korrupte spietkops, omkopery by die mislikepaliteit, vlu tannies se tee en koek, skolesport, skoolseuns en porno…alles en nog wat. My lewe het sy draaie geloop en ek is in en uit by koerante, skakelbeampte vir oom Chubby Checkers, hoofbedeltannie vir dié niewinsgewendeorganisasie, uitbranding en skryf van ‘n kerk se 50jaar geskiedenis met isbn nommer en al, en nou entrepreneur ek en Rots tot by die piesangskil voor die krematorium se deur. Inkerige bloed, dink ek sal die einddiagnose wees.😉

      Like

  3. Terug pieng: betyds of laat agter 3? | Seegogga se Bloggie

  4. Lekkervurig hieronder is ‘n kommentaar n.a.v. Kameel se einde.

    “Waar die Here werk kan dinge uitwerk en die Here werk met Saar en Braam soos hy destyds met Sara en Abraham gewerk het. Gaan nou vir Lekkervurig was of die name doelbewus of toevallig, want as dit doelbewus was, is haar storie net soveel meer briljant.”

    So ek vra nou

    Liked by 1 person

    • Abrie Ek het doelbewus my karkaters Saar En Braam Minnaar genoem. Die name, want hulle storie is ons almal s’n, en ons is mos Abraham en Sarah se nasate. Dis in die Bybel vir ons geskryf, en Jesus het ons wat lank na hulle gekom het, almal Sy broers en susters gemaak. Die van – hulle kinderloosheid op daardie stadium – Saar was min naar. Dit het maar skryfdink uitgebroei. Perdalks is ek gelei om dit so te skryf…in geloof.

      Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s