Lanklaas het ‘n foto my so ontstem. My sprakeloos gelaat.

Deur blou lug omraam op ‘n plakkershut se dak, ‘n polisieman desperaat grypend, en ‘n volwasse man in rubberstewels wat sy babadogtertjie aan haar voetjie, koppie weerloos na onder, deur die lug slinger.

Afgryslik

Dierlik

Woedend

Ondenkbaar.

In die foto is ons land vasgevang.

Weerlose arm mense, veral ons kinders word letterlik vir die wolwe gegooi. Hulle word die felste getref deur die onvermoë van ons verkose regering om na sy land en mense om te sien.

Ons polisie se onvermoë om te keer dat vroue en kinders, weerlose grysaards en armes van alle geslagte, daagliks verwoes en vertrap word.

Ons regeringsdepartemente wat vanweë korrupsie en staatskaping, niks doen om basiese behoeftes – ‘n dak oor jou kop, water, opvoeding – aan ons land se weerloses te bied nie.

Ons politici wat hierdie einste weerloses se koppe vol retoriek prop. Ja Juju en Andile, ek wys die vinger na julle. Julle was saam met die pa op die dak.

Ons kerke en nie-regeringsorganisasies. Ons wat in die naam van Christus kamtig daagliks Samaritane is. Ek wys vinger na julle wat basaars hou, afdakke vir karre bou op die parkeerterrein sodat gemeentelede nie na die diens in warm gebakte voertuie hoef te klim nie, in plaas van sopkombuise reël vir armes. Julle wat reken ‘n t- hemp sal kanker of vigs voorkom. Julle was saam op die dak.

Ek, en jy liewe leser, wat daagliks blameer en vinger wys, maar nie daadwerklik ons gewoontes en denke verander om van hierdie ‘n beter plek vir almal te maak nie. Ons was saam op die dak.

Ja, Suid-Afrika, ons het die ouers in hierdie situasie geplaas. Hulle plak want behuising is landwyd tot vyftien jaar agter. Die lys van onvermoë om die weerloses in ons land se lot te verander sal ons tot ewigheid besig hou. Liewe heimat, jy was op daardie dak.

Die pragtige kleuter, sekerlik ook nie haar ouers se enigste nie is fraai aangetrek. Denimbroekie, spierwit kousies en ‘n rooi hempie met wit kolletjies of is dit hartjies? Netjies en versorg. Sou sy haar pappa se hart se punt wees?

Die gereg daag op om hulle huis, hulle veilige hawe, af te breek. Hulle huis is toe op bybelse sand gebou. Die nood na beskutting so hoog dat hulle noodgedwonge die wet oortree. Die daaglikse geveg om oorlewing so aanhoudend, dat hulle, en duisende soos hulle, wetteloos moet seker maak dat self en geliefdes en ‘n handvol wêreldsgoed teen elemente – die natuur en menslike onheil- beskerm word.

Ek is ontsteld dat die pa besluit het om sy kosbare kindjie die die lug in te slinger. Tog wonder ek of die desperate man, met sy vrou wat hom aanhits om die kind as kollateraal te gebruik om hulle huis te red, nie soos Abraham met die mes in sy hand, opgekyk het vir ‘n wonderwerk nie. Desperaat vir uitkoms, maar vir dié pa was daar nie ‘n offerram nie. Want genade in Suid-Afrika is yl gesaai. Daar was nie uitkoms nie…en die ondenkbare gebeur.

Dankie Vader, daardie polisieman se hande was oop en sy arms sterk. Here, ek bid dat die ou kleine lyfie veilig en geborge sal wees. Maar Here, ek wil ook daardie pappa en mamma voor U voete kom neersit. U het lankal ons mensfoute vergewe. Gee hulle genade. Ek bid dat U ook ons, ons land, sy mense en leiers sal vergewe. Want dis ons, ons het hierdie gesin gefaal. Ons keer nie by die stembus, op die straathoek, by die werk, dat mense hulle kinders wil offer ter wille van oorlewing nie. Ek huil en smeek om U almagtige hulp en leiding. Amen.