EK sit lekker op die groot stoep en luister vir die reën en die rammeling van die donderwolke. Dis net die reën, alles is verder stil.

Hoe was dit daardie eerste Saterdag na Jesus begrawe is vir Sy geliefdes en volgelinge? Kan jy jou die rou en seer en skok indink? Die Messias is weg. Ek verbeel my hoe die mense rondom Pilatus en die Joodse Sanhedrin die Jesus volgelinge bespot het.

Het die dissipels onthou om brood te breek en wyn te drink soos Jesus hulle geleer het? Het Martha almal bly dien en Jesus se ma, Maria? Was haar trane op?

Ag, dink jou in. Daardie eerste stil Saterdag voor Jesus die dood oorwin het. Terwyl almal in rou gedompel is, moes Hy volkome verlate, selfs aan Sy Vader ontdaan, deur hel gaan vir ons almal.

Die storm hier op Waterval het bedaar, die reën ruis nou sag neer, soos ‘n salwende belofte.

Want ons weet wat daardie mense nie geweet het nie. Jesus lewe!

Dis die wonder van hierdie stil Saterdag.

More het Hy opgestaan vir ewig.

Dankie Jesus vir U liefde.