Reënboogdood deur Storieklong

Rainbow-on-the-road-in-the-night_1024x600
“Oupa, wat se lelike groot voëls is dit daardie?” Die seuntjie wys na die plek waar die voëls hoog in die lug sirkel
“Dit is reënboogvreters ou seun”
“Wat doen reënboogvreters oupa?”
“Wanneer ‘n reënboog al sy kleure verloor gaan hy dood, en die reënboogvreters is ‘n spesiale soort aasvoël wat die karkasse van dooie reënboë vreet”
“Maar hoekom gaan reënboë dan dood oupa?”
Hmmmm. Ek dink dit is tyd vir ‘n storie….
Lank, lank gelede….lank voor jou oupa gebore is…self voor my oupa groot met sy kakebeenwa oor die berg van die draak getrek het, het die diere van oor die water ‘n baie goeie seisoen gehad en hulle het soveel geword dat hulle begin soek het vir nog grond om te bly.
“Amper net soos die rooibokke meer word as dit lekker gereënt het né oupa?”
“Presies net so ou seun.”
Ewenwel, die diere van oor die water het na ons kontinent Afrika gekyk en op hulle kaarte was dit woes en leeg en hulle het besluit om dit vir hulle te kom vat. Engeland en België het elk ‘n leeu gestuur, Frankryk en Portugal elk ‘n haan, Duitsland ‘n swart arend, Italië ‘n wolf en Spanje ‘n bul. Die diere van oor die water het vreeslik onder mekaar baklei maar uiteindelik het elkeen ‘n stuk van ons kontinent gehad na gelang van hoe sterk hulle was.
Dit het gou duidelik geword dat die diere van oor die water nie regtig hier wou bly nie en slegs die skatte van ons kontinent wou ontgin om terug oor die water te stuur, en dit het die inheemse diere van Afrika baie kwaad gemaak. Die mense sê nie verniet Afrika is nie vir sissies nie, want die diere van Afrika het die kolonialiste een vir een opgedons en tjankend huis toe gejaag terug oor die water…
“Oupa wat is ‘n koe….daai groot woord?”
“Kolonialis? Dit is soortvan ‘n vloekwoord vir mense wat ander mense se grond vat.”
“Oupa mag nie vloek nie. Mamma sê so. Vertel verder oupa!”
So is die diere van die water toe vort huis toe tot daar net een trop kolonialiste oorgebly het. Hulle was afstammelinge van die oorspronklike diere wat van oor die water gekom het en hulle het saam met hulle leier met die naam groot krokodil by die ingang van die land van melk en heuning gebly in ‘n plek genaamd Rubicon. Om by die land van melk-en-heuning in te kom moes jy eers die Rubicon oorsteek, en die groot krokodil het geweier dat dit gebeur. Op die walle van die Rubicon het die leeus desperaat gesoek na oorkomplek, maar groot krokodil het hulle gestop.
Toe groot krokodil eindelik te oud geword het om te regeer is sy plek ingeneem deur ‘n jong bulhond, en dié het gesien dat die leeus op die walle van die rubicon al groter en sterker word en hy het besluit om ‘n verbond met die leeus te sluit, want hy sou hulle nie veel langer kon buite hou nie. Daar is ooreengekom dat die leeus die rubicon kon oorsteek om in die land van melk-en-heuning te gaan woon, en in ruil sou hulle die kolonialiste nie terugjaag oor die see nie. En dit was goed en dit was reg. Die verbond is CODESA genoem en ‘n reënboog is gestuur as teken van die verbond.
Vir ‘n paar jaar het dit baie goed gegaan en die reënboog het helder geskitter tot die leier van die leeus te oud geword en deur ‘n jonger leeu vervang is. Die jonger leeu het gesien dat die afstammelinge van die diere van oor die water nog lekker vet was en sy leeutrop maer, en hy het begin om plek te maak by die eettafel vir leeus uit sy eie. Sy woord hiervoor was regstellende aksie. Dit was nie deel van die oorspronklike ooreenkoms nie en as gevolg daarvan het die reënboog van die verbond ‘n bietjie van sy kleur en sprankel verloor.
Soos die leeutrop vetter geword het het die lede van ‘n ander trop met gierige oë gekyk en begeer. Hulle wou ook so blinkvet en lui word maar het nie die mag gehad om die ander leeus uit die kussings te lig nie. ‘n Slinkse plan is toe bedink en met die hulp van die hyenas en die jakkalse is die vet leeus by hulle gunsteling slaapplek Polokwane, wat plek van veiligheid beteken, verslaan. Ekstra plek moes toe gemaak word by die eettafel sodat die hyenas en jakkalse wat gehelp het ook kon vet word. Weer het die reënboog van die verbond so bietjie van sy kleur verloor.
Die gejil van jakkals en hyena was na die oorwinning slegs ‘n effense steurnis, maar namate tyd aangestap het, het dit al harder en skerper geword. Nou kan jy die buitelyne sien waar hulle snags op die horison dans in die lig van die weerlig van die naderende storm. Hulle word sterker en meer en eersdaag sal hulle die leeus uitdaag. Anders as die leeus, en teenstrydig met die oorspronklike verbod, glo die hyenas en die jakkalse soos hulle maters die varke van oor die water dat alle diere gelyk is, maar dat sommige diere meer gelyk as ander is.
Wanneer daardie geveg kom, en die leeus word deur die hyenas verslaan, sal die reënboog die laaste van sy kleur verloor en dan is dit die taak van die reënboogvreters om die karkas op te vreet.
“Wat gaan gebeur as die reënboog doodgaan oupa?”
“Eintlik nie veel nie ou seun. Die lewe sal net terugkeer na die oorspronklike swart-en-wit toe, soos dit was voor ons reënboë gehad het.”
“Dit is ‘n hartseer storie oupa, maar dit sal darem seker nie regtig gebeur nie?”
“Neewat, seker nie ou seun” Die paar oë wat na die dansende hyenas en jakkalse op die horison tuur vertel egter ‘n ander storie
Lena-broken-rainbow-2013-04-18s

13 thoughts on “Reënboogdood deur Storieklong

  1. Dis die mooiste, beste, awsomeste (is daar so woord) vertelling van die reenboognasie ooit!!!
    kan iemand asb vir Storieklong vra of ek toestemming mag kry om dit eendag op program voor te lees?

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s