318419_10151358011392905_1979968606_nEk is kosmos betotterd op die oomblik. Weet nie of koning van kosmos denke, Stephen Hawking, se vertrek die ewige heelal in my weemoedig maak, of wat nie. Of dat die kosmosse hulle wit en pienk gesiggies so sku deur die grasse langs die pad wys nie. Hulle is vir my yl. Ek deel net flussies met ‘n mede-blogger dat hulle yl is omdat die mensdom so met die kosmos (heelal) mors!

Ek lees dat kosmosse (die blomme) familie van sonneblomme is. Dis goed so. Ek laaik sonneblomme ook kwaai. Daar is 36 spesies kosmos vertel slim Wikepedia vir my.

Ek lees met verstomming dat daar geen kosmos in ons mooi land was, tot na die anglo boere oorlog nie. Kan jy nou meer. As die Ingelse ons land nie kom verwoes het nie, was ons sans kosmosse.

Die saad is in besmette perdevoer al die pad van Argentinië tydens die oorlog land in gebring. Maar nog is dit nie die einde nie. Die blommetjies se land van herkoms is Meksiko. Regte ou swerwertjies – die wêreld vol.

Die woord kosmos is van Griekse oorsprong en beteken gebalanseerde heelal. Nou pieker ek lekkervurig vanoggend. Is die kosmosblomme langs ons paaie en oor ons velde maar nie balansering van die heelal om die seer verlies aan onse mense – mans, vroue en kinders van soveel rasse,  in die Ingelse se spervuur nie? Soos die papawers in die plek van die WOII slagvelde oral in Europa nie?

Ek ry betraand en groet al die kindertjies en vroue en mans wat nie die oorloë oorleef het nie. Ek verbeel my hulle waai almal oor tye heen vanoggend in pienk en wit getooi! Ek hoor hulle: “Ons het jou vooruit die heelal ingeloop. Alles wel.”

Ter ere aan verlore siele en kosmosse oral deel ek van my kiekies. Want dit gaan my beter laat voel.

Baai!