I

Die gedroogte pienkpers kosmos, versigtig op ‘n velletjie papier en agter sellofaan verskuil, val uit my studentebybel.

Die onthouboks gly oop. Dit was van K, my studenteliefde. Die April toe ons  gekys het, het hy my uitgeneem na ‘n omie se plaas, waar die kosmos hemelhoog in plate gestaan het. Hy het met sy Volla tot sover hy kon, die veld ingery, en daar onder die blou Hoëveldlug, omring deur wit, pienk en donkerpienk kosmosse, my gevra om sy nooi te wees.

So paar weke later maak die klank van klippies teen my koshuiskamerruit my wakker. Die Kollegemanne het kom sêr, en my outjie staan buite met die hele hoëveld se kosmosse in sy arms, net vir my.

Ag, ja…soete herinneringe.

II

Wille KJare gelede stap ek skoorvoetend en dikbek, ‘n groentjie gemeenskapskoerant joernalis,  ‘n kunsuitstalling in Bethal Stadsaal binne. Vies, want iemand anders kan nie hulle verpligtinge nakom nie, en nou moes ek alweer instaan om die dorp se BBP’s te kiek.

In die foyer staan hy. ‘n Asembenemende mooi paletwerk van kosmos. Nie die koperpotjie tipe prentjie nie, nee, woes en wild met blertse wit, pienk oranje en skelrooi. My hart klop in my keel. Ek is pas-geskei, arm soos ‘n kerkmuis, maar hy lok vir my nader. R999. Bliksem, dit was ‘n fortuin in 1982!

Die skildery, vertel die kunssmous my is George Boys. Bekend vir paletwerk van die moderne soort. Gesog by die BBP maatskappy en individue van sy tyd. Ek weet net, hy het die ene net vir my geskilder. Buite sy gewone werk. Wille Kosmos word myne na ek huistoe jaag om my tjekboek te gaan haal. Ek skryf ses vooruitgedateerde tjeks uit en weet ek drink water en eet droë brood vir die afsienbare tyd, ten minste kan ek na die verruklike Wille Kosmos kyk terwyl ek hongerte beveg! Dis soveel jare gelede, maar nog nooit het die wilde, passievolle skildery my hartklop laat taan nie. “What you seek, is seeking you.” Rumi het waar gepraat.

III

troukosmosEk ontmoet vir Rots. Ons troudag breek aan en 15 minute voor ek in die troukar klim, daag ‘n reuse ruiker op. “Sien jou in die kerk,” in my geliefde se skuins handskrif.

“Ah, my man is romanties, ek gaan gereeld blomme kry”, bêre ek in my ampermevrou hart. Bwahaha, dink weer. As die matrone in die hospitaal hom nie betrek het nie, was ek die enigste ruikerlose nuwe mamma in die kraamsaal.

Ons is so vier jaar getroud en pas op Pietersburg (nou Poloniekwane) geanker, toe ons die jaarlikse skou bywoon. Dis koud en winderig en ons soek so in al die sale skuiling.  In ‘n klein kiosk sien Pieter die kosmos op klei raak. “Daar, dis sommer vir al die blomme wat jy nooit kry nie,” en hy koop summier die twee kleiborde wat nou al jare mense by ons woonplekke se voordeur groet.

En sedertdien, is ek met kosmos in waterverf  en  op sy verras.

IV

My liefste Skoonma-Ma, Biebs, het ook nie van koperpotjie kosmos gehou nie. Toe sy 75 jare vier, het ons klomp kinners vir haar vuilpienk kosmos mooi geraam bokant haar bed gehang. Toe Biebs self die kosmos in is, en ons haar aardse huis moet pak, toe gee my boeties en sussies haar skildery vir my.

biebskosmos

Nou maak al die onthougoed so oral in my huis ‘n klein kosmos van my eie skepping. Geseënd voel ek, want ek lees kosmos is van die Grieks en beteken ‘n gebalanseerde heelal!