240px-SpottedEagleOwl

Die een oomblik is die Towerinne by Toweropstal  vol vreugde oor Boss Abrie en Klong se reddingsplan en ook Scrapy se onthulling dat daar nog ‘n skat te vinde is, die volgende oomblik gooi Hester ‘n emmer koue water oor die spulletjie.

“Genoeg, ek het genoeg gehad…kom Carlos!”

En daar gaan Hester en Carlos met my lorretjie vort, al melkskommelskuddend die grondpad af.

Hester was darem vreeslik haastig en kortaf. Sommer so vir Carlos met sy bergiebek gegryp en gesê sy is nou klaar met Toweropstal en goud en gerugte.

Pfft. Ook nie gevra vir die Lekker lorrie nie. O, nee, sommer net die sleutels uit my hand gevat soos ‘n baas(in). Die ander Towerinne, Boss Abrie het saam met my, hulle verslae agterna gekyk.

“Elke diertjie sy plesiertjie. Daar is ons storie se fluit nou uit,” sê Kameel, en haak by Una en Toorts in.

 “Kom ons gaan maak reg vir ons vir-oulaas-paartie. Kom julle,” roep sy oor haar skouer.

Ek, Scrapy, Perdebytjie Wegkruipertjie, Sonell, Woestynkind, Ekmysellf  en Abrie drentel stadig agterna. Die wind uit ons seile.

Ekmysellf begin uit volle bors sing: “Another one bites the dust….” Die Towerinne en Boss val saam in, gou lag almal lekker. Ek gaan stap ‘n draai om  Toweropstal om seker te maak daar dwaal nie ‘n verskrikte hoendertjie rond nie. Wil eintlik ‘n skelm rokie maak.

‘n Gevlekte ooruil hoe-hoe onheilspellend en ‘n yl sekelmaan steek so skuins agter die skoorsteen uit. Die skemerte van flussies skielik nagdonker. Ek ril.

Die skerp reuk van ‘n vuurhoutjie, pas aangesteek, en pyptabak oorweldig my. Met ‘n hart wat wil weghol en bloed bruisend in my ore, draai ek stadig om.

Ek sien ’n  pyp se kooltjie gloei.

“Naand, niggie,” sê ‘n krakerige stem hier voor my. My stopsels in my valstande word sommer koud en bang maalkolk in my binneste.

 “N..N..naand, meneer,” kry ek skaars hoorbaar uit.

“Joubert, Piet Joubert,” stel die stem hom voor.

Dis die ander spook van Toweropstal!

“Niggie, ek kan nie lank bly nie. Hier is moeilikheid oppad. Daar is ware skurke agter ons geheim aan. Hulle is naby. Julle moet versigtig soos slange wees, en waaksaam soos ‘n arend…gaan bêre die joernaal.”

Die ooruil hoe-hoe asof hy die oom se woorde beaam.

My selfoon biep, Piet Joubert verdwyn in die niet. Ag jinne, ek wou hom nog soveel vra!

‘n Whatsapp van Hester: Polisie oppad.

Ek hardloop en gil: “Towerinne, die polisie…”

Die Towerinne is te besig om musiek te luister en glasies te klink. Dis te laat.

Asof in stadige aksie sien ek hoe die nagdonkerte deur verblindende soekligte verhelder word. Sirenes loei en swaar gewapende polisiemanne vlieg uit die patrolliemotors wat met skreeuende remme klippers die werf vol laat spat.

“Hande in die lug,” snou ‘n lang, maer sersant ons toe. Ons staan sy aan sy met groot oë, tasbaar beangs en gooi ons hande summier in die lug. Kameel se wynglas tuimel stadig grondwaarts.

Gigaba, sê die naamplaatjie op die maer man se bors.

“Sersant Gigaba…” probeer een van ons, ek weet nie wie nie.

“Bly stil, ek sal sê wanneer jy kan praat,” gil hydat dit spoegspikkels om sy mondhoeke borrel.

Sjoe, ek loer so onderlangs na Toortsie. Sy is wasbleek, haar rooi kopdoek windskeef. Ek probeer oogkontak maak, maar sy kyk verstar na die manne in blou met hulle vuurwapens op ons gerig.

Brawe Abrie en Sonell tree na vore.

“Staan stil!”

“Wag, nou Sersant, waaroor al die vreeslik agressie,” vra Abrie.

“Die mense van Skimmelkrans Boerdery het ‘n klag gelê oor julle lawaai hier by Toweropstal. Hulle is van die grootster kommersiële melkboere in die omgewing. Hulle melkkoeie word sag gekoester en luister na Mozart se Concertos en produseer gellings melk. Sedert julle spul hier kom intrek het, kan die koeie nie ‘n druppel melk lewer nie. Die hoenders se geskrop en gekekkel en die musiek wat 24 uur ‘n dag hier uitgeblêr word is een te veel. Die koeie is nou op gemoedsbekakpille,” skreeupraat Gigaba.

“Maar Sersant, is dit nou billik dat die bure sommer so by jullle klagtes kom lê, sonder om net eers met ons te kom praat? Dis darem nie buurmanskaplik nie,” antwoord Abrie bedaard.

Gigaba kyk vir Abrie so skuins aan. “Wie se grond is hierdie dan?”

“Dis my erfgrond”, sê Abrie.

“Wag, so bietjie,” kom die opdrag. Gigaba praat vinnig in Xhosa met die ander offisiere.

“Wat sê hulle,” haak Una af. Wegkruiper en Ekmyselff kruip stil agter Kameel en Una in.

“Ek weet nie, maar ons is hier in groot gemors en ons sal ‘n plan moet maak,” mompel Sonell.

Ek loer so om my, en ek vang Kameel se oog, en sy knipoog vir my.

Hier kom ‘n ding.

Sy sal self verder vertel.

__________________________________________________________________________________________

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=769965

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).