losed-ears-with-fingers

 

Liewe Juju Malema

Rerig, ek reken jy het te min pak slae gekry as kind. My bloeddruk bliksem die hoogtes is as jy so tekere gaan. Kan jy nie ‘n nuwe deuntjie kry om te sing nie, of is jou rol in CR se bewind maar dieselle as as toe jy die hofnar en lawaaimaker was om ons aandag van die ware toedrag van sake te trek tydens ons Zumafikasie? Ek het so spesmaas jou kontrak is verleng, want ons skaakspelende president het asemhaal spasie nodig, en nou word jy op ons losgelaat. Juju maak vir Witjie bang.

Vertel my – jy en jou volgers wat so wil skiet…gaan julle vir die wat gaan oorbly sorg – vir werk, vir sekuriteit. As jy my skiet, sal jy my personeel en hulle families bly help, of gaan jy  my mense laat loop sodat jou eie kan baat? Waar sal my mense heengaan? Wat gaan van hulle word. Gaan jy help met kosgeld, busgeld, skoolgeld, boorgate, bakstene. Want sien dis wat ons doen. Ons help om beter lewens vir die in ons lewe te skep. Alles by die boek. Ons betaal en betaal en betaal. Ons kla nie. Ons dreig nie om mense uit die weg te ruim nie.

So weet jy hoe stukkend is my hart dat jy, na jou mosie, so gebokspring het en suggesties gemaak het en die media en ander het niks hieroor te sê gehad nie!

Hitler het ook so gemaak….of is dit net ek wat so voel?

Juju ek wil jou aan iemand voorstel wat Hitler oorleef het. Haar naam is Edith Eger.

As ek haar so luister en haar storie lees, besef ek dat jy en ek, en almal in hierdie land van ons, oor onsself sal moet kom. Ons wederkerige afkeer en bitterheid en fok, ja ons haat vir mekaar, maak van ons posduiwe, al om ‘n gat. Daar is geen oplossing in ou koeie ophaal nie, daar is geen oplosssing in wraak en weerwraak nie. Wrokke vlam net haat aan.

“It is too easy to make a prison out of our pain, out of the past. At best, revenge is useless. It can’t alter what was done to us, it can’t erase the wrongs we’ve suffered, it can’t bring back the dead. At worst, revenge perpetuates the cycle of hate. It keeps the hate circling on and on. When we seek revenge, even non-violent revenge, we are revolving, not evolving.” – The Choice: Embrace the possible” Edith Eger

Ek gaan jou en jou soort liewer in vrede laat, en elke dag op voetsoolvlak waar ek my lewe leef, en mense van alle kleure en oortuigings wat my pad kruis, met waardigheid en respek behandel, selfs vir jou as dit sou gebeur.  Want sien, jy kan my wêreld verander, my goed vat, my van regte ontneem, maar ou Juju, my hart en my siel, die is myne en hoe ek kies om my omstandighede te hanteer help my om te groei as mens. Ek laaik wat Edith Eger se Mamma vir haar geleer het.

Lees gerus haar boek, dis verniet: http://a.co/gbDt9qR

Miskien verander jou deuntjie. Ek vra assefokkieblieftog. Ons land het ware oplossings nodig, nie verdagmaking en haat en wraak nie.

Groetnis