My relaas vandag begin so met ‘n ompad. ‘n Familiestorietjie van toeka wat my gesin baie geniet gebeur soos volg:

My nuutgeskeide tante en haar kleuterseuntjie en -dogtertjie bly in ‘n woonstel. Met al die omskommelinge in hulle lewens, is Mamma een goeie Sondag moeg en reël met haar bedrywige kleuters vir bietjie rustyd. Sy lê rustig in die kamer en koerant lees, en die twee parmante speel in die sitkamer. Sy het vir hulle gevra om soet en stil te wees, sy wil rus.

Sy vertel hoe die eerste rukkie heel bedaard verloop het, totdat Boet sy karretjies begin briek en bots met die nodige byklanke. Sy kleinsus berispe hom so ewe en sê Mamma slaap, hulle moet stil wees.

Maar sooos dit met sibbe gaan, luister Boet glad nie. Kleinsus wip vir haar en haak af: “Het jy nie ore nie? Is jy doos? Mamma slaap en jy raas.” My tante sê sy het so gelag, daar was geen verdere rus daai Sondag nie.

Nou het dit oor jare so gebeur dat as iemand in my gesin nie ore het nie,is hulle doos. Horende doof.

Vanoggend vat ons boeke. Rots hoor al vir ‘n paar jaar nie mooi sonder sy gehoorstuke nie. So as ons Bybel lees moet ons mooi elokeer. Bab lees uit Psalm 82 oor God wat bo hemelwesens uittroon. Ek merk Rots is rusteloos, maar ons is nou met boekevat besig. Ons reis op die oomblik deur ‘n joernaal van Izak de Villiers, wat lekker reguit en op die man af is. Ek sien Rots frons weer en vra of daar ‘n drukfout is , watse hemelbesems word van gepraat. “Nee man pa, jy is doos, dis hemelwensens,” lag Bab.  Ons oggend het vrolik begin.  Ons bid en sê dankie vir die reën en die nuwe dag en al ons seëninge en askies vir al ons foute.

Nou nog iemand wat vanogeend heeltmal doos was is ons Koda-Koos, ons gitswart Labrabull. Kyk net hoe moes ek om hom bed oortrek vanoggend. Bang hy verloor sy lêplek by Rots wat maar baie tyd op die bed spandeer met net ons hondekinders vir geselskap.

IMG-20180221-WA0028

Ek giggel oor die gebeure, maar soos die dag verloop begin ek so by myself dink. Ons is hier op aarde om hemelbesems te word, en ons is meestal doos, ons hoor nie. Ons het nie ore nie.

Dis ons werk om uit te styg en ons beste onse te word, so na as wat ons kan strewe om soos die uiterse voorbeeld,Jesus te wees.  Ons moet woeker met ons talente, ons moet ander dien, ons moet vol liefde wees, ons moet nie goedkeuring en skatte op aarde na smag nie. Nee, daai wag in ewigheid op ons.

Ek bid toe maar om genade om my hemelbesem self te bly nastreef en om asseblief te kan leer luister om te verstaan.

Baai tot later.