Vanoggend trek ek die Legend vurig vinnig uit die motorhuis. Ek is laat en dis 40km te perd om in die stat te gaan besigheid pleeg.

Dit het oornag 34mm gereën. Rots se nek is ekstra seer, die Schnauzer-boeties, Milo en Ringo en stoute Koda-Koos blerts in die kombuis, bejaarde Oscar die Yorkie weier om langs Rots uit die bed op te staan.

Die grondpad is 1.9km seepgladde modder. Gelukkig is dit al wat ek moet trotseer, tik ek op my dankabaarheidlysie af. Toe ek by die t-aansluiting op die ou N1 kom, staan ‘n vrou onder ‘n helderblou sambreel en ryloop. Die reën begin harder val. Ek stop en laai haar op. “More Mies,” groet sy. Die bakkie se kajuit ruik soos rooswater en Dawn lyfroom.  Ek groet terug en babbel oor die weer. “I don’t understand,” val sy my Afrikaanse relaas in die rede.

Haar naam is Marlene, ons gesels op Engels verder oor padveiligheid.  ‘n Taxi het pas oor dubbelsperstrepe by ‘n klomp voertuie verbygejaag. “Eish, they treat us like cattle,” sê Marlene. Ons gesels oor respek en sy vra my hoe lank ek motor bestuur. Al meer as veertig jaar. “Jo,” is al wat sy sê.

“My husband is looking for work,” kom die stelling. Ek vermoed sy aanvaar ons het ‘n plaas – die bakkie, die modder en algemene rigting waaruit ons paaie gekruis het.

“‘Skuus Marlene, ons bly op dierbare vriende se familieplaas, hulle is reeds in hulle aftreehuis in die veiligheidsoord. Ons boer nie. Ons werk in die stat.”

Ek  deel my hoop dat President Ramaphosa en onse regering tog ‘n plan sal maak, dat meer mense werk kry en regverdig behandel word. Ek kan net help met ‘n geleentheid om veilig by haar werkplek te kom.

“I hope he makes right,” sê Marlene.

Ek ook, suster, ek ook.

Sy vaar uit teenoor Zuma en veral Nkosasana Dlamini Zuma – wat nie met poletiek wil verder nie, maar net nou die dag het sy vir President wou staan. “She is a funny one,” kom dit links van my. Ek vertel vir my passasier van “The President’s Keepers” en Dlamini Zuma en die sigaret mafia.

“Mies, those illegal cigarettes. They are bad. I sold them and the police caught me with 20 boxes. I was sentenced for 13 years! 13 years. But I did it for my family, what could I do? How must we live? What must we eat?”

Ek sit met my bek vol tande. Wat sê ek nou? Het sy al 13 gesit?

“No, when parole was given to everybody but murderers and rapists, I was freed. I could not believe! But now I  clean houses. Those cigarettes are bad,” en sy stop die gesprek net daar.

Ek stop naby die taxihalte en sy hou R8 na my uit. Vir die rit. Ek sê nee dankie. Sy glimlag met haar mieliepit tande en blink oë.

“Siyabonga” – dankie.

Hamba kahle, Marlene. God seën jou.

Here, dankie dat ek Marlene kon beleef vanoggend. Dat ek kon hoor wat armoede en werkloosheid ‘n mens kan noop om te doen, selfs misdaad oorweeg. Dat ek vir haar taxigeld kon spaar. Ek het haar meer nodig gehad as sy vir my. Here vergewe my wanneer ek ongelukkig is oor klein, onbenullighede en klippies in my skoen.

 

iceberg words.JPG

Hierdie woorde hierbo gaan oor Afrikaans en die taal, maar dit is ook van toepassing op ons land en die pad waarop die nuwe president ons lei.

Die Iceberg foto, is een van my gelukkies wat my kameralens vasgevang het.

Baai tot later