Vroegoggend verby geslaap vir die eerste keer in weke. Lekkerste lekker om na 07h00 wakker te word. Rots lê en blokraai, en Bab en die stoute brakke stoei in haar kamer vir die beste lêplek op haar bed. Maak koffie, pak die gedroogde beskuit weg, gaan gee vir die voëls hulle kossies. Stil tevrede Sondagoggend op Waterval.
Die Sondagkoerant is afgelaai op die tablet en met ‘n stomende beker boeretroos, swart en bitter (niks met persoonlike voorkeure of my gemoed te doen nie, wel so van my bababottel afgespeen) gaan lê ek behaaglik op die oorblywende kussings agteroor. (Glos: Sedert Rots se stywenekkie proses, is hy die baas van alle kussings in ons kamer.)
Ek lees oor CR, die gesoekte Guptas, JZ se Nkandla wat maar R660 per maand kos, moorde, en so aan en so voorts.
Ek vind die EverydayZulu ou, Melusi Thsabalala, se onderhoud met Hanlie Retief verfrissend, en ek gaan laaik sommer sy blad. Wens iemand wil Everyday Sepedi, TshiVenda en Tsonga hier by ons trag. Hy sê vir Hanlie sy blad op die Vuisboek is uit frustrasie dat inheemse tale op radio afgeskeep word of gruwelig vermink word, begin. Ag hy praat so na my hart. Die Radio sonder G se afrikaanseklingels steek my dwars in die krop, so ek kan my net indink hoe Zoeloe en Sepedi en al die ander verkrag word omdat almal dink Google translate is die ware vertaler. Pffft. Google maak ons lui.
Melusi vertel dat hy geleer het dat mense van positiwiteit hou – alle mense. Dis toe dat ‘n “Lion-vuurhoutjie het in sy kop gevlam” het, en hy het besef:”Hou op om jou te bekommer oor wat jy nie het nie en gee wat jy hét.” Ag so bek moet jêm kry.
Sy blad het ‘n verassing ingehou – mense het nie op die platform kom taal leer nie, die daaglikse nuwe woord het ‘n gesprekforum geword. Alle mense. Soveel so dat hy wat Melusi is homself betig het omdat: ” Jy het jou voorgeneem het om oop te wees vir alle rasse, geslagte en ouderdomme, neh. Aanvaar hulle as vriende.” Dis nou na sy blad van 100 na 700 en nou 1000e gegroei het. Daar is trolle, en hy het aanvanklik so vinnig as wat hy vriende aanvaar het, net so vinnig mense afgegooi. Nou na maande, was daar slegs vier mense wat hy genoop gevoel het om te verwyder van die blad.
Melusi praat waarhede oor vooroordele en veronderstellings – gaan lees self. Soos Melusi, self bely, hy het sy eie Damaskus-oomblikke op hierdie reis. Laat dit so wees vir ons almal, bid ek vanoggend met die koerant in my hand.
Ek gaan kuier op Melusi’s Everyday Zulu blad. Vandag se woord is “thuma” – om gestuur te word. President Ramaphosa het Vrydagaand ook uit Bra Hugh Masekela se lied Thuma Mina aangehaal: Thuma mina – stuur my. Ek bid verder, dat ons almal hierdie gesindheid sal openbaar. Die Melusi’s, die Kose, die Susanne, die hele lot van ons.
Ja, kan jy glo hoe ons land se narratief byna oornag aaan die verander is…
En toe blaai ek verder. In die Rapport Weekliks is ‘n dubbelblad: “Die val van ‘n fout” en ek is sommer kwaad. Die uitleg pla my. Links is Steve Hofmeyr en regs Antjie Krog. Dit moes andersom uitgelê word. Want meer retories en regs, kan ou Steve nie wees nie. Aweh, Stefaans “haal jou mgabe af en lilizela”- drink ‘n positiewiteitspilletjie en blaas af.
Antjie Krog se liberalisme is ook nie almal te koppie tee nie, maar waar woorde skryf sy:” … dis nie net wit mense wat oor die afgrond gekyk het nie, ook ander mense het: En gesien dat ‘n korrupte staatshoof noodlottig is vir enige drome en groei… Wit mense sal moet gee, baie gee en ek dink die meeste van ons moet met oorgawe gee as ‘n besielende, knap staatshoof planne voorlê wat almal insluit met die oog op verbeterde lewensomstandighede…Met ons almal se verskuifde perspektiewe is die land nog nooit so reg om sy en haar kant te bring om Suid-Afrika sigbaar ten goede vir almal te verander nie. Maar soos die taxiegaurdjie in my straat skreeu: “Move people. Jirre, julle moet move!””
Ek en my gesin move al geruime tyd en trag doelbewus om die wat baie swaarder as ons in hierdie land oorleef, se hand te vat en te help waar ons kan. Ons werkers se huise word verbeter. Die Drop In Centre se boorgat word beveilig. Middagetes wat in my kombuis berei word, is in die yskas by die werk vir ons span, want hulle moet soggens al 04h30 in die pad val om betyds by die werk te wees en saans 19h00 kom hulle tuis. wie sal vir hulle deur die dag kry, as ons dit nie doen nie? Ek deel hierdie nie om te spog dat ons gesin so oulik is nie. Ons het net lankal besef dat ons in ons gezuma-de staat, nie veel kon verander aan die groot prentjie nie. Politieks is maar ‘n stadige, raserige dier. Ons het eenvoudig na ons onmiddelike omgewing gekyk en besluit, doelbewus, om ons tiendes te bestee waar ons die wit van swaarkry mense se oë kon sien.
En Vrydag – daar staan Cyril, ons president en hy sê thuma mina – stuur my, en vir derduisende Suid-Afrikaners vlam hoop weer op. Kom ons stimela – werk om ‘n gedeelde visie te soek, al kos dit opoffering.
In Esgiël 16 lees ek vanoggend: ‘“Eendag gaan Ek die lot van Sodom en haar dogters en Samaria en haar dogters verander. Dan sal Ek jou ook weer oprig. Jou ouer suster is Samaria wat saam met haar dogters noord van jou geleef het. En jou jonger suster is Sodom wat saam met haar dogters suid van jou geleef het. Jy het nie sommer maar net gesondig soos hulle nie. Nee, dit was nie genoeg vir jou nie. Binne ’n kort rukkie het jy hulle ver oortref! So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, Sodom en haar dogters het nooit gedoen wat jy en jou dogters gedoen het nie. Sodom en haar dogters se sonde was dat hulle trots was en te veel kos gehad het en glad nie vir ander omgegee het nie. Hulle het nie arm en behoeftige mense gehelp nie. Hulle was trots en het afskuwelike dinge gedoen. Daarom het Ek hulle uitgeroei, soos jy gesien het.’ ESEGIËL 16:46-50,53
Here, wil U ons genadig wees en ons nederig en aanneemlik maak in u oë. Help ons om nie onbedag teenoor ander se seer en woede dinge sê en doen nie. Help ons om die mense te wees wat U hart bly maak. Ek dra ons land en sy mense aan U op en vra dat U elke dag ons sal lei om ons selfsug, eie-geregtigheid en trots in ons sakke sal steek, die moue sal oprog. Thuma mina, stuur my Here. Amen.
Ook onthou ek wysheid ala Voltaire van Evelyn Beatrice Hall
Ek het nou so lekker saam met jou gelees… net voordat ek hier in blogland kom loer het, het ek ook Rapport op my leptoppie gelees: ook gedink: Ag Steve, sing, maar dan shaddap jy! En Melusi nét so geniet! Verbeel ek my, maar daar is heelwat minder gal en bloed dié week?
LikeLiked by 1 person
Hoop is ‘n wonderlike ding, Christa.
LikeLiked by 1 person
Stuur my. So mooi. En laat ek nie in die bol gepik voel as die dankbaarheid nie altyd sigbaar is nie.
LikeLiked by 1 person
O, Toortsie, daai is ons almal se berg. Om verontreg te voel is mos geneties eie. 😉
LikeLiked by 1 person
‘n Positiewe en beslende skrywe. Dankie.
LikeLiked by 1 person
Ek kan maar net amen sê op hierdie skrywe van jou.
LikeLiked by 1 person
Ek stem ook saam met jou skrywe in die regte wereld is daar bepaald ‘n nuwe gesindheid te bespeur.
(alhoewel ek jou ernstig aanvat in Camilla se nuutste blog in die speelwereld 🙂 )
LikeLike
Abrie, ek plaas jou onder my mense wat ek laaik in die regte wêreld.
LikeLiked by 1 person
Wederkerig!
In die nie-regte wereld sukkel dit maar 🙂
LikeLike
Dankie ek het heerlik gelees
LikeLiked by 1 person
Bly jy het kom kuier. Dankie vir die volg ook. Groetnis!
LikeLiked by 1 person
Daardie Skrif wat jy aangehaal het laat ‘n mens dink.
LikeLike
Ek was die naweek in die moeilikheid hieroor. Mense haal dikwels net verse aan wat saak maak, dan is daar klomp konteks wat verlore gaan. Ek het ‘n byltjie te kap as Bybelversie gelowiges lukraak oordeel, beoordeel en veroordeel op grond van hulle beperkte Bybel perspektief. Die hele Bybel tel, nie net die dele waarvan maens hou nie.
LikeLiked by 1 person
Amen!!
LikeLike
Pragtig en baie wyse woorde. “HIer is ek, Here, stuur my.” nie maklik om te sê nie. Jy het ‘n hart van goud.
LikeLike