cr

Wat ‘n week was dit nie. Die Hiëna en sy trawante het ons tot op die mespunt geneem en met sy laaste minagtende stotteringe net weer gewys hy voel vere vir ons land en die mense. En u, het  stil en waardig u beurt afgewag. Ek kan my indink hoe gesprekke met die vreeslike mens moes wees. Nee, eintlik kan ek nie.  U het ‘n hoë hekkie naby ‘n afgrond vir ons met lof oorgeseil. Dankie dat u gister ‘n eed gesweer het om ons Konstitusie te respekteer en ons te lei na ‘n splinternuwe visie.

Ek lees iewers dat ons land nou volwasse is, die dat ons nie soos ons noordelike bure die strate ingevlieg het om aan ons blydskap oor JZ sy paai vat en waai, uiting te gee nie.

“I actually believed every word CR said at the inaguaration, I felt proud and I felt respect for the first time,” vertel ‘n geagte kliënt vir my. Ek wit en middeljarig, hy swart en nog met jeug aan sy kant. Ek se Sela, ja. Dis mos nou volwasse om so oor verandering te praat.

Kyk Meneer President, u gaan nou nie vir my skielik ‘n ANC lid maak nie, maar wraggies jy  het met jou impromptu (of is dit fyn beplande) verskynings aan die draf in Seepunt vroeg gisteroggend en toe, net na u inhuldinging in die wandelgange van die V&A Watefront met die grootste, ontspanne oopbek smaail en ‘n vonkel in jou oog – vir ons gewys jy is in ons midde.

Ek lees in die Daily Maverick artikel deur Judith February  hoe mooi  beskryf sy hoe ons in Suid-Afrika dit alte dikwels regkry om net so voor ons die afgrond aftuimel, op ‘n mespunt weg van tragedie, om sake om te keer. So het ons weer Vaaltyndag om 10h00 ons tweede kans gekry. Om weg te breek uit die wurggreep van JZ se koninkryk van Zupta, om nee te sê vir korrupsie, nepotisme, verdagmakery en rasse-wrywing.

Moet my ook nie verkeerd verstaan nie, Meneer President, ek besef u is nie die Goeie Feë nie. Jy het allermins ‘n towerstaffie waarmee alles wat ons land aan gebrek ly, net weggetoor gaan word. Nee, ons moet na jou waardige houding kyk en dit as ons tweedekans-voorbeeld gebruik. Ons moet mekaar in die oë leer kyk en vir mekaar respekteer. Ons moet aanhou om fluit te blaas oor onreg, misdaad en onderduimsheid. Ons moet dit wat JZ se bewind ons leer doen het, volhou. Ons moet nie ‘n oomblik verslap nie.

Jacques PAuw en kie moet aanhou skryf en loer en vertel “kyk hier, hoor hier, loer daar.”  Ons moet aktiviste word – almal van ons. Ons moet aanhou om te protesteer, tot U die kabinet skoongemaak het en die polisie en die Valke en SARS en die Onderwys en die Eskom en die Koeberg en die SAUK almal kry funksioneer soos hulle moet. Ons is u rasieleiers. Steek luilakke en bloedsuiers in die pad, of beter sluit hulle toe en gooi die tronkstleutels weg!Ons sal soos South Africa First Forum se Rod Solomons en Vytjie Mentor ons leer om nie stil te bly nie.

Suid-Afrika moet hierdie tweede kans met alles aangryp. Daar lê vir ons baie genade in tweede kanse. Ons God is immers ‘n tweedekansgewer, Hy boer met genade, en dis  ons jong volwasse land se mense se plig om nou bakhand vir dié oes uit God se hand te staan en mekaar terwille van wonders te laat gebeur.

Liewe President, onder u leierskap:

  • Mag ons nooit weer sien hoe ‘n finasiesminister op sy tablet sit en Candy Crush Saga speel nie.
  • Mag ons nooit meet verkeersbeamptes sien wat by venters inbuk om ‘n geldjie oor die palm gevryf te word nie
  • Mag ou Pothole Slaggate as minister van paaie sy gat sien
  • Mag dit gebeur dat ons land se mense besef geen boere- geen kos beteken
  • Mag  ons weer ‘n polisie-en weermag hê wat respek afdwing
  • Mag alle gelukspakkie lisensiehouers van ons paaie verdwyn
  • Mag ons besef Liewe Meneer Ramaphosa,  dat u en ons almal net mense is en voete van klei sal hê, maar saam sterk kan staan en saam hierdie bult uitkom, om dit wat die afgelope nege jaar so liederlik skeefgeloop het tot op die been oop te kloof en die vrot sweer van korrupsie en eie-belang uitwis.

Ek en my huis bid vir jou, jou gesin, die kabinet wat jy vir ons gaan skoonmaak en vir ons mooi land se tweede-tweedkans. Jou smaail sê ek mag maar hoop.

 

Fan

Ek dink die oompie in Leeann Liebenberg se foto is jou grootste fên, maar ek reken hy som ons hoop, verligting en vreugde op. Kudos vir u om ‘n uur of wat na u inhuldiging as ons vyfde president, gaan rondstap het. Ek hoop u bly so tussen en naby ons.

Groetnis

Lekkervurig