spinnevlinder.JPGSpinnekoppe in my spasie red ek glad nie. Hulle word gedoom en geslaan. Ek gril tot in my siel, en vrees dat een op my sal spring. So die vlinder is nogal koelkomkommer met sy spinnekopvriend op sy vlerk. ‘n Vlieg – die word ook maar hardhandig uitgewis.

Maar besies, en motte en vlinders en bidsprinkane en helikopters met hulle ragfyn vlerkies (Ok,man naaldekokers) word met deernis in snesies opgetel en blombedding toe gedra waar hulle of in vrede verder kan vlieg of sterwe, daai is hulle saak.

Dan is daar die huispaddas, flip ek dra hulle gedurig uit en as ek weer kyk, skree Bab uit haar kamer of die badkamer, en Ma moet padda in die asblikkie vaskeer of met die handoek gryp en uitvat, net om vanaand weer die proses the herhaal. Ek is lus en bou vir hulle ‘n huisie in die middel van ‘n dam.

Muise verpes ek soveel soos die Mynas. Maar in my gesin reken ek is McCloud se dogter. Rots raak nie aan muise nie. Julle moet sien as hy die rotstasies diens. So versigtig sien ek net die bom-ouens op teevee werk. Haha! Bab sal weer hulle met die windbuks probeer uithaal as hulle hondekos kom steel, maar aan hulle vat. Nog nooit nie! Ek kry die noodgille as een onder ‘n kas inskarrel. Die honde en ek moet die rakkers verjaag of vang.

Lank gelede het Rots op vrinnne se aanbeveling sulke taai papiere by die kas waar die geyser weggesteek word neergesit. Die muise het snags lekker kom baljaar in die kombuis en oral hulle knaagmerke gelos. Ons skrik sommer die eerste aand hier na middernag wakke van ‘n getjie-tjie. ‘n Vreeslike benoude geluid. Ek haas my kombuis toe waar die geweeklaag vandaan kom. Ag hemel, ‘n rot, besmeer van die taai papier sit vaster as vas, hoe meer hy wriemel, hoe erger word sy dilemma. Ek roep vir Rots en vra wat dink hy moet ons nou met die arme dier maak. Meneer sê net so van om die hoek, hy weet nie. Maats, nooit weer wil ek so besluit moet neem nie. Ek moes die verskrikte rot buitetoe neem en met die graaf van kant maak.

Ek pes rotte, maar wraggies, dit was vreeslik. Daai patetiese gekerm en die ogies so bang. Ek sou nie saam met Al Capone geaard het nie.  Ons het nou rotstasies om hulle teenwoordigheid in ons spasie te verminder. Ek weet hule eet gif en vrek wreed, maar immers sien ek dit nie. Flip, ons is maar vreeslike wesens.

Nou lees ek vanoggend hierdie skryfsel in die foto. Ek is in die moeilikheid in die muise- vlieë-, spinnekop- en Myna hemel, dis warmplek toe vir my. Hoop maar die besies, en helikopters en bidsprinkana kan hul saak ter versagting gestel kry….

Grappies op ‘n stokkie. Die gedig spook by my. Ons wat soveel genade vra, hoeveel betoon ons regtig? Op baie vlakke van ons bestaan, verwag ons dikwels meer genade as wat ons verdien.

26907393_1613347102093635_6068691915058085242_n