26907123_10156279225881165_4570918290025142762_n

“Bou ‘n brug. Kom daar oor.”

Van die kakste raad wat ek al gekry het. Ek stem volmondig saam met Brené Brown. Ons is wat ons oorkom en ervaar. Daai ewige verwerk van die of daai slegte ervaring, en dan die vergeet daarvan, maak mens net meer broos en breekbaar. Nee man, al ons ervaringe – goed of sleg is deel van ons mondering. Dis die nerfaf dele op die knieg en geskifte kraag wat wys ons het gewaag om te lewe.

Ek hanteer enigeiets wat soos verwerping lyk of voel baie sleg. As Rots afkeurend begin moet en moenie, dan fok my brein links. Ek verloor my dun lagie opgevoede vernis soos blits. Kry so skaam oor die foutlyn.

Nou hy wat my Rots is is so rukkie gelede gesteel deur ‘n pyn in die nek. Die aanhoudende seer het hom van sy persoonlikheid – wat nogal sag van geaardheid is – beroof. In sy plek is ‘n bytende, redelose, vies ou. Ek weet nou hoe mense na 33 jaar hulle paai vat en waai. Die man wat ek liefhet is weg, en die nuwe ou en ek byt en blaf en knor. Tot die honde gee pad. Ons hantering van sy herstelproses is om die minste te sê ‘n fiasko, ‘n weghol bogger-op.  Daar is min medisyne wat help. Eetlepels geduld is nêrens te kry nie. Die apteker skud net sy kop. Dis nie in pille te kry nie.

Dis toe die bou ‘n brug raad weer oor my pad kom. Pffft.

Dank genade ek lees wonderlike goed raak. Onder andere dat al die mooiste tapiserieë maar oes lyk as jy hulle omdraai. Die afwerk en knope die is vernuftig aan die keersy weggebêre.  Ook is die treffendste weefsels, die met swart omlyning en skaduwee. As jy naby staan – sien jy die swart en gebrokenheid so maklik raak. Staan bietjie terug – dan sien jy hoe vol kleur en aksent jou prent goddelik geweef is.

Huidiglik is daar ‘n groot stuk skadu in my prentjie. Dis nie lekker nie, maar ek weet: weldra kom daar vrolike helder kleure aan die beurt. Sonskyn en skadu – dis die lewe. Ek gaan soos die laksman se prooi, my mooiste lied bly sing, al is dit eina.  Liewer soos die sonneblom my kop na die son draai en soos die Eet, Bid en Liefhê vrou, die uitnodiging aanvaar om uit die skadu te stap, na die vol sonskyn. As ek nie so maak nie, wen die skadu, en dis heeltemal ononderhandelbaar. Skadu en seer en skaafsels, die maak die sonskyn en goeie in my lewe net beter.

Ek gaan nie ‘n brug bou nie – ek gaan inspring en swem. Kom wat wil. En een van die dae is my eie manlief terug. Die stywenekgeit net ‘n proses wat ook sal verby.

Sela.