toto1

Toto 2011

toto

Toto

Jou naam kom van ‘n Latynse woord wat volledig (“whole”) beteken en spruit uit die keffertjie van die beroemde “Wizard of Oz”-fliek. Daar is gespekuleer dat die fliek se Toto en Dorothy die fisiese en geestelike in die mensdom simboliseer het. Die arme hondjie wat Toto in die fliek gespeel is was nie geliefd nie, Salmon Rushdie het in sy boek oor die fliek bely in “I couldn’t stand Toto. I still can’t.” Toto is “that yapping hairpiece of a creature, that meddlesome rug!”

Dankie tog jy het net jou naam met die brakkie in gemeen! Jy wat op my voete saam met jou boetie, Oscar, slaap terwyl ek skrywe. Jy wat onder die beddegoed bly lê en ek verplig is om die bed bo-oor jou op te maak, jy wat my nie eens los om alleen badkamer toe te gaan nie. ‘n Ewige teenwoordigheid met net liefde in jou kraalogies.

Die afgelope tien jaar kry jy en jou boetie Oscar ons by die hek. Laf en vrolik. Elke middag hol Oscar voor die kar uit en jy duik windmaker die beddings in. Op soek na daai muis of voëltjie om te kan vang. Spoghans Toto.

Vir tien jaar, week in en uit sonder enige voorval was dit jou ritueel en ons verwagting. As ons stop en die deur gaan oop sou jy in die kar klouter en natbek soene uitdeel en dan wag dat ons afpak en die kar finaal intrek – jy ry saam tot in die motorhuis.

Vir wat moes jy altyd op die jag uit wees? Waarom moes daar gistermiddag wragtig na al die jare ‘n voëltjie uit die bedding opvlieg en jy agterna, onder die bakkie se wiele in?

Ag my stinkasempie, ek is so jammer. Wat ‘n ongeluk. Jy by deurhaal verby seergekry en ons harte vol hoekom en seer.

Ek troos my dat jy voluit vrolik geleef het tot daardie oomblik. Ek is jammer dat jou seer so groot was dat ons die veearts vir genade vir jou moes vra.

Gaan hol lekker en vry daar by die vir-altyd-tuin. Blaf liefdegroete vir Rufus, Seuntjie, Cindy, Mandy, Frikkie, Waaksaam. Julle het ons lewens ryk gemaak.

Jou mensma