Nokia Erna 142

Dis vandag ses jaar Biebs. Ses jaar gelede het ek jou by jou mooi huisie in Bosveldpark kom oplaai. Viets uitgevat in jou mooi ligpienk langbroekpak en pêrels om die nek en aan die ore, jou lippe ligpienk en die grys haredos mooi en blink. Jy het self jou huis gesluit, rustig in ons vuurwa geklim, kierie opgevou en ons pepermente en kaasstrooitjies vir my, het jy tussen die sitplekke uitgepak. Selfvoldaan jou hande op jou skoot gevou en vir my so skuins gekyk. “Kom ons ry.”

Ai my liefste Biebs, ek wens ons het die rit nie gemaak nie. Dit was 28 November 2011. Ons het gery dat die slim dokters wat jou met jou slukprobleme gehelp het, ‘n eksperimentele stent kon verwyder. Min het ons geweet dat alles, van die sekonde dat jy uit jou huis gestap het, die laaste van ‘n string dinge sou wees.

Jy sou nooit weer huistoe kom nie, jy sou nie Kersfees en Nuwejaar saam met ons wees nie.  Dis miskien goed so, want ons het alles voluit gedoen, ek en jy. Half het nie gewerk nie. Dit sou jou ondergang beteken het om ‘n halwe lewe te lei.

Ek onthou soos gister hoe jy moedig probeer eet het. Hoe jy rustig verklee het in die dagsaal, want ons is mos nou-nou klaar. Ek onthou die verslaenheid en seer toe die dokters kom sê hulle kan die stent nie verwyder nie, hy is vasgegroei. Onverklaarbaar. (Maar Biebs, jy het miskien vermoed…daar was verdunde peroksied in jou yskas, maar ek kan nie bewys dat dit die vinnige vergroeiing en verstrengel van jou slukdermwandvlies in die stent in veroorsaak het nie.)

Die vriendelike dokter het sy chirurgvriend aan ons voorgestel. “Tannie, ons sal moet opereer. Ek kan nie sê dit gaan ‘n sukses wees nie. Daar kan drastiese gevolge wees.” Biebs, jy het kalm vir hom gekyk, en toestemming gegee om te probeer red wat te redde is. Kersfees lê voor en daar is planne.

Ek is ewig dankbaar dat ek jou in die rolstoel vir jou laaste koppie tee geneem het, dat jy die Beeld rustig geblaai het en dat ons om die hospitaal gaan stap het, en jy vir oulaas my plantkennis probeer uitbrei het.

Ag Biebs, al die laastes tablo gereeld as ek so na jou verlang.

Toe die gordelroos jou daardie Februarie van 2011 platslaan en jy ylend van die koors nie weet wie ek is nie, en my met jou ma verwar, het ek jou belowe ek sal jou nie versaak nie. Naomi en Rut het Rots vir ons gespot. Skoonma en skoondogter was ons lankal nie meer nie. Jy het my langer geken as my geboortema!

Daar het die laastes begin – Ma-dag, verjaardag saam met jou kroos, jou suster se verjaardag. Ag sal ek daardie rit vergeet. Ons is skaars op die pad toe jy so naar word, en ek baklei en wil omdraai. Hoe koppig jy was en hoe ons ‘n halfuur langs die pad gesit het, albei gewip en jy my dreig dat jy een van die seuns sal bel om jou te vat as ek nie gaan nie. Hoe ons maar net voor Pretoria-Noord lipstiek opgekikker het en met stywenekkies die kuier gaan kuier of niks makeer.

Ek mis jou spesiale liefde – oral in die koskaste en yskaste was daar lekkerte vir al jou seuns, kleinkinders en jou skoondogters. Jy het geweet wat elkeen se kinderhart verbly. Ek sal nooit die tuppertjie met die gestoofde perskes voor regs in die yskas vergeet nie. Jy het so goed geweet ek skaai so in die verbygaan ene!

Ek mis om saam met jou op die stoep tee te drink, om saam met jou oor ‘n boek te gesels. Deksels, ek mis tot ons koppe stamp.

Ek luister musiek en sweer jy en Maxie sit op die dak en saam luister. Dit maak my hart warm.

Dis vandag wat die engele jou kom haal het. Ek onthou toe jy my die aand voor jy weg is gevra het om Psalm 23 vir jou te lees, hoe jy jou wang vir my gehou het en toe vir my gewys het ek moet gaan slaap.

Vanoggend sesuur is dit ses jaar gelede en hoor ek weer die selfoon lui, hoor hoe die suster sê ek moet gou maak. Maar jy was reeds weg Biebs. Hulle het my vertel jy wou nie dat ons in die nag gepla word nie.

Immer met jou kinders se beste belange besig, self na jou dood:

“Liewe kinders en kleinkinders. Die heel belangrikste ek kan julle almal nie genoeg bedank vir julle liefde, hulp, bedagsaamheid en ondersteuning na Pappa se dood nie. Sonder julle kinders se by-stand sou ek nie kon staande bly en aangaan nie. Ek sê net elke dag dankie vir ons Hemelse Vader vir al die onverdiende gunste en gawes wat ek kan geniet. Baie liefde Mamma, Ouma Biebs.”

(Brief aan haar testament vasgeheg en reeds in 2004 geskryf.)

Met al jou kinders gaan dit goed. Ouboet het amper by jou uitgekom, ‘n dom bestuurder het ‘n u-draai gemaak…maar jy weet hy herstel goed. Jou kleinkinders is almal hard aan die woeker en werk, jou agterkleinkinders is die fraaiste en ek reken ons het ‘n sportster in ons midde.

Ek mis jou vreeslik vandag. My oë se krane is gebreek.

Nokia Erna 161.jpg