goodbye.gif
Ons moet nou maar aanvaar Storieklong se kop is nie mee te smokkel nie. Hier is sy antwoord op ons pleit/raas/vloermoer oor sy blog se verdwyning. Sela.
“Baie dankie vir die aanpraat, ek hoor daar was selfs sprake dat Tannie Una Bali ‘n blog petisie wou loods, maar ek sal nie Die man met die Hoed, Korrelkop Kahuna, Plaasjuppie en Storieklong wees indien ek nie ‘n verweer (lees teëpraat) loods nie.
Ek werk al van die huis af sedert 2001 en is al offisieël op my eie sedert Junie 2015. Sosiale media, waarby ek blogs insluit, is dikwels vir dae en selfs weke my enigste kontak met die buitewêreld en soos dit maar is met sosiale media is ‘n mens geneig om slegs jou goeie kant af te neem. DIe Storieklong van die blogs is ‘n nar, aweregs en spaar nie juis die heilige koeie nie. Die regte man met die hoed is pragmaties, ernstig, rigied, buierig en oor die algemeen ‘n kak mens.
Storieklong is nie my eerste blog nie, trouens het ek al telling verloor met al die blogs wat ek oor ‘n tien en ‘n half jaar gebou en uitgevee het. Meeste daarvan in ‘n vloermoer van selfbejammering, minderwaardigheid of sommer plein bedonnerdgeit. Storieklong mag bes moontlik my laaste blog wees, want hy is geskep met die uitsluitlike doel om ‘n vertoonkas te wees van my “greatest hits” versameling. Dit is gewoonlik ‘n teken dat ‘n “kunstenaar”, en ek gebruik die woord losweg, aan die einde van sy/haar loopbaan kom wanneer die “greatest hits” albums hulle verskyning begin maak. Die saadjie is eintlik met die skep van Storieklong al geplant, ek het slegs besluit om die proses wat nog ongeveer 3 maande sou duur, te bespoedig deur die laaste 67 storietjies alles in een slag te publiseer.
In die kunsmatige wêreld van Blog is jy slegs so goed soos jou laaste inskrywing, en vergete sodra jou laaste inskrywing onder van die leeslys/bladsy afskuif. Slegs die regtig goeie skrywers word aktief besoek en opgesoek, en ek tel myself nie onder daardie groepie nie, hoewel daar ‘n handvol van my stories is waarvan ek meer hou as die res. Toevallig is dit ook die stories wat die minste reaksie van ander bloggers gekry het.
Terug by die besluit om uit te tree as Afrikaanse Woordstoot se hoof Hofnar. In ‘n wêreld kronies kort aan tyd is die enigste manier om iets te wen dat jy iets anders moet prysgee. Selfs met verdere opleiding is dit heel onwaarskynlik dat ek myself sal vestig as bogemiddelde skrywer, en daarom wil ek meer van my aandag wy aan my funksionele kuns (lees waddehel is daai ding!?) sowel as die boek wat ek in my professionele kapasiteit wil/moet skryf omdat dié dinge meer in lyn met my persoonlikheid is, en die kanse vir sukses dus groter is. Hierdie besluit is nie soos die voriges in ‘n fit van selfbejammering of enige ander rede gemaak nie. Dit is ook teen die advies van die sielkundige wat my hand vashou in hierdie vreemde nuwe tyd, maar daar is ‘n brawe nuwe wêreld wat wag.
Indien iemand werklik my griffels sou wou bêre vir welke onverklaarbare rede ookal, sal ek dit met graagte in PDF formaat aanstuur. Dalk sal iemand gaaf genoeg wees om my toe te laat as gasskrywer indien ek wel iets skriftelik wou pleeg, maar tot dan: Onthou die Man met die Hoed sien alles, ook wanneer jy jouself nie soos ‘n gentleperson gedra nie.
Ek hoop dat hierdie saak nou as afgehandel beskou kan word. Ek hou nie daarvan dat soveel aandag op my gevestig is nie.
Mooi loop julle mal b(l)oggers”