DEFERENCE

Ek is baie lief vir woorde en lees soms aan ‘n woordelys of woordeboek soos ‘n storieboek. Ek loop die “power thesaurus” op die www-eter raak op soek na ‘n sinoniem vir ‘deference’ – respek, agting, eer.

Ek vind “deference: respect, respectfulness, regardesteem…

Die volgende interessante statistiek val my op:

https://www.powerthesaurus.org/deference   501 synonyms 156 antonyms

https://www.powerthesaurus.org/respect   2012 synonyms 630 antonyms

Ek reken ‘deference’ is eerbied: respek, respekvol, agting, eer, onderdanigheid, eervol…. Ek wondder: As daar soveel woorde in een taal is wat eervolhied en respek verteenwoordig, waarom sukkel ons mensdom so daarmee? Ingels is dan internasionaal.

Dis seker omdat die woorde ‘n aktiewe daad en emosie van mens vereis. Ook seker dat volgens menslike standaarde, respek verdien moet word. Ook seker omdat ons nie almal van dieselfde plek of perspektief die ondermaanse beleef nie.

Respek forseer is nie regtig eervol nie. Dis op vrees baseer, ook nie van die heilige soort nie, byvoorbeeld in lande waar mense gevangenes van tradisies, fanatiese ideologie en slagoffers van die wrede egotisme van despote is – dink aan die tirannie van die Taliban, die Noord-Koreane, Indië, en so aan.

Bombasme, arrogansie, rykdom, leierskap en geboortereg verdien nie, of het nie altyd respek tot gevolg nie. Dink maar aan JZ, JM, die Steinhoff manne, die skoolprefek wie se ouers se geld sy balkie koop…en so aan en so meer.

Wie by my respek afdwing is outentieke, regte egte mense. Die oom in die tou by die bank met sy mooi tweed baadjie, wat ‘n vrou met ‘n baba in die ry voor hom laat kom staan. Die mens wat homself in my oë se refleksie sien, en ek myself in syne. Om te weet jule is ewemense. Een Skepper God het ons geskape, elkeen uniek. My heilige vrees en agting en eer, die reserveer ek vir my Here.

En dan soos die prentjie definisie vertel: Respek vir die kosbaarheid van ander – daai kan ek  probeer, maar dis ‘n moeilike ene. Want die bombas, die arrogante blikslaer, die stinkryk snob – is hulle ook nie die Skepper se kosbares nie? Haaits, hoe piets so blindesambok nou! Vee maar eers voor jou eie deur Lekkervurig voor jy verder relaas.

Terwyl ek sit en skrywe lui die winkel se deurklokkie.  My dierbare, kosbare Drop In Centre vriendin Regina! Al die pad van Perskebult, in die reënweer. Opgedress en ‘n nuwe kapsel. “Hallo Sissi.” Ek kry die lekkerste druk en ‘n pakkie word my in die hand gestop.

“I like to thank you for everything you done for us. Miss Regina and Lethlanthene staff,”  sê die kaartjie. Binne in, ‘n koffiebeker wat lees: “Our God Reigns.”

Kosbare, kosbare oomblik waar ek en sy mekaar diep in die oë kyk.  Kosbare respek.  Sy werk elke dag met 100 plus kinders en sien en voel en ruik swaarkry daar in ons stad se armste wyk. Ek is die skakel tussen hulle met geen hulpbronne en die plaaslike Add Hope (daai R2 wat julle so by die Kolonel se hoenner sit) fondse. Ons moet ‘n verslag indien om seker te maak daar word fondse beskikbaar gestel sodat die weerlose wesies elke dag hulle enigste bord kos kry.

Dis al sewe jaar dat ons die projek saam-saam aan die gang hou. Alles respek en baie genade.  Hulle kosbaarheid verdien my agting en eer. Die kinders ter wille van, gaan ek my beste bedelbrief nog skrywe!

Hulle het my ‘deference,’ hulle is kosbaar.