Vanoggend se dagoordenking laat ons lees uit Psalm 63, en Stephan Joubert vertel dat ons daarteen moet waak om nie ons Springbokkleure in kerm en kla te verwerf en die ou truitjie tot skifsels dra nie. Te lekker blindesambok die woorde vir ons.
Ons hoort aan ‘n wenspan beduie die wyse man. Ons hempies sneeuwit van vergifnis en ewige liefde. Whoohoo, kleinbekeer my hart warm. Ons pak heel vrolik die pad dorp toe om ons deel vir die zupta-ekonomie en SARS te pleeg. Entrepreneurskap is rerig nie meer grappies nie.
As jy die nou pad kies, dan knyp die kontantbetalers (lees: kom ons vergeet van BTW) en afslagsoekers gedurig aan jou siel. Vergeet goeie diens, etiek, morele waardes. Nee, almal mag eise stel, net nie jy nie. Dit tel niks dat jou besigheid aan sewe arm gesinne ‘n heenkome bied en kos op hulle tafels hou nie. Geen afslag of krediet vir jou nie ou katta, betaal, betaal… Oeps, daar is die Spingboktrui in kla amper oor my kop.
Man, ek het nog nie eens koffie gemaak nie, toe storm hier ‘n kliënt in wat vier maande gelede vir ‘n braai betaal het. Rots onthou nie dadelik hoe ons reëlings met lewering werk nie, en ons vra dat die man net vir ons kans gee om die faktuur en so op te soek, ons sal bel om verder te reël.
Flippit, sê nou daar is by die verkeerde adres afgelaai, pieker ek by myself. Ek soek vervaard deur dokumente en verlig kom ons agter hulle wou eers klaar bou voor die braai installeer word. Ek wil nog na die telefoon reik toe die deurklokkie lui. Die braai ou se vrou storm in.
“Ek vat julle polisie toe!”
Die woede en onredelikheid voes die vrou se perfek gegrimeerde gesig op. Daar is niks mooi hier nie.
Ons sneeuwit truie rafel so om ons lywe uit, dit kos wange byt om om nie daai Springboktrui oor die kop te trek en ook vuil te speel nie. Ek bid vir krag en kalmte terwyl die woede woorde oor ons spoel en deur die winkel skal.
Nooit in my lewe gedink dat ek vir ‘n kos-op-my-bord sal skreeu: “Hou nou dadelik op – haal asem!”
Klaarblyklik is Mevrou nie gewoond dat iemand haar vasvat nie. Sy hap soos ‘n vissie uit die dam. Haar woorde droog op. Of so dink ek. Met die volgende asemteug trek sy weer los.
“Hou op! Haal wragtag nou asem!”
Ek praat mooi en ferm. Eindelik kom ons besoeker tot bedaring en ons kan verduidelik. Ons skud blad en sy storm weer by die deur uit. Die motorbande sal vervang moet word.
Ek sit en skrywe die oggend uit my uit en is dankbaar dat my woedejare verby is. Hierdie tierwyfie se naels is stomper, die helleveeg se rooi kapsel is met grys getemper. Moet net nie met my Rots en Bab sukkel nie, dan kan ek lekker vurig vies word.
Dankie Vader vir meer behoefte aan die wit trui wat vir altyd gedra kan word. Dankie, dankie. Ag siestog, laat die kwaai vrou nie te veel hardepad moet loop om vrede met haarself te vind nie. Sela.
Die rede vir haar woede-uitbarsting lê heelwaarskynlik by die hardepad wat sy reeds loop, nie sodanig by die braai nie.
LikeLiked by 2 people
Ja wat, haar woede is maar net die masker wat baie mense dra. Bly oor jou manier van optree.Vrede vir jou.
LikeLiked by 1 person
Dankie Danie. Ek het hard aan my uitgerygde wit trui moes brei.
LikeLike
Ek wil ń respekvolle glimlag -prentjie vir jou stuur. Goed hanteer. Kliënte het die vermoeë om mens soms aan jouself te laat twyfel, en ander kere steel hulle jou vrede en rustigheid 100%.
LikeLiked by 1 person
🌻🌻🌻
LikeLike
Arme vrou! Sy kom ‘n hartaanval gekry het as sy so sou aanhou. Geluk met die wit trui wat jy aanhet. Fantasties geskryf.
LikeLike