Man, as jy iemand se vooropgestelde verwagtinge die nek inslaan, dit laaik ek kwaai. Veral as jy berug is as ‘n kort van draad helleveeg en die emosionele etiket lankal op jou rug vasgewerk is.

Jy weet dat hy of sy verwag om met ‘n woedende woordevloed die kop gewas gaan word of met snot en trane van teleurstelling begroet gaan word. Hulle klee daardie olifant in die kamer met skreiende kleure, jy kan dit nimmer miskyk.

By die weersiens is jy egter die vriendelikheid en welsprekendheid van self. Ag  man, my binnekant kry lekker. Punt.  Jy los die olifant in die kamer, maak of hy van glas gemaak is, en jy weet die ander ou het al elke haartjie op die olifant se stert getel, weet van die ingroei toonnael op die voorpoot links. Jy gaan aan of daar absoluut niks is nie.

Dit kos hare op die tande om daardie Bybel teks uit te voer, daai ander wang een en ook die een van die hete kole op jou teenstander se hoof. Ek moet hard aan my wangvleise kou en aanmekaar vir kalmte en krag bid en ook om nie my te vreeslik te verlekker nie.

Dis groot dissipline as jy deur genade dit regkry om mense met jou reaksie op seerkry, woede en ongelukkigheid te verras deur met vredigheid  en kalmte van gees die weersiens na ‘n insident te hanteer. Hulle ongemak en ongeloof is tasbaar. Hoe vrediger, hoe lekkerder staan daai olifant en herkou dat die spoeg so spat. Die dissipline is om nie hardop te sê: “Het jou katvis” of “lekker ou blindesambok” nie.

Die kuns is om eenvoudig  aan te beweeg. Te aanvaar dat jy nie die askies sal kry wat jou toekom nie. Die erkenning dat hulle rêrig dom soos grond opgetree het, dat hulle ekheid hulle niks in die sak gebring het nie – verwag dit bloot net nie, dan kan dit jou minder skeel. Dis hulle wat maar verder moet wonder en skigtig wees.

Ek en my varsity kammie klim eendag (dis doer ver terug in 1977) daar by Kerkplein af om plate en seep en so aan by Dions en Clicks te gaan koop. Ek was die vrygees hippie met los rokke en Liewe Jesus plakkies, sy met die donkerbruin romp, geruite bloes en onderrok en netjiese skoeisel.

Dié dag stap ons nog so, toe skiet haar onderrok se rek. Sy struikel effe toe die lap om haar enkels te ruste kom.

“Wat nou,'” vra sy benoud.

“Stap uit hom uit asof dit nie joune is nie, moenie eers terug kyk nie,” antwoord ek so in die stap.

Sy het.

Ons twee het  daardie dag geleer dat as iets breek, is dit maar so. Stap aan.

Daai les help ook baie as jy vergelding wil uitdeel vir onregte. Stap liewer weg. Die ding is gebreek, optel en lap gaan nie help nie.

Waak ook daarteen om die olifant nooit te voer nie – hy verdwyn na so ruk, of verkas saam met die persoon ver weg, uit jou spasie. Jy dink ou koeie uit die sloot stink. Jo, ‘n olifant se klank was moeilik uit.

Onthou om vergifnis vir jou eie sondes te vra. Dis hoe jy jou siel gesond hou. Ek probeer.

Koebaai.