20170803_122846

Kosbare herinneringe het onlangs so woerts by die onthouboks uitgeglip toe Bab vra of sy die blou bliktrommel vol langspeelplate mag kry. Toe ons die trommel oopmaak lê baie Sondae se onthou heel bo – Reader’s Digest “Music for you.” Ek maak die blou houer oop en heel bo lê die omslag met die Russiese skilpoppe.

My pa was passievol lief vir klassieke musiek. Hy het die versameling van Reader’s Digest in 1968 aangekoop. Tien albums met die mooiste omslae in ‘n koningsblou boks. Eric Robinson was die versameling se samesteller.

Wat ek geniet het is die verduideliking agterop elke album van die snitte se komponiste en so bietjie agtergrond. Die ballet album en die Russiese komponiste se album het my gunstelinge.

Sondag namiddag was die ritueel dat my pa op die poef, waarop sy stinkkaas voete altyd gerus het, die skaakbord opgestel het. Hy het ons geleer skaak speel. Die album van sy keuse is op die draaitafel geplaas en met sorg is die naald op die plaat neergesit.

Ons het nooit dadelik begin met die skaakles nie, hy het altyd eers so terug in sy leunstoel gesak en met toe oë gewag dat die musiek begin. Ademloos het ek by sy voete ook gesit en wag.

20170803_122906

“Hoor jy hoe skilder hulle met note, kan jy die sonstrale sien, kan jy die kerklokke hoor? En die skadu van die blare…” Dan bly Pa stil, en hy begin dirigeer, op die maat van die musiek.

Ek besluit na die onthou-oomblik, om op te lees oor die komponis en die musiek “The Great Gate of Kiev.” Dis nogal interressant.

Mussorgsky se Pictures at an Exibition is ‘n versameling musiek geïnspireer deur skilderye van sy geliefde vriend Victor Hartmann. Die komponis was hartverskeur na die skielike dood van sy vriend in 1873. Hartmann was maar 39. Ironies genoeg is Mussorgsky in 1881 ook op die ouderdom oorlede.

Na Hartmann se dood het die Russe ‘n uitstalling van Hartman se werk in sy nagedagtenis gereël. Mussorgsky het ook binne ses weke ‘Pictures at an Exibition’ gekomponeer. Elke stuk is op Hartmann se skilderye, sketse en kostuum ontwerpe geskoei. “The Great Gate of Kiev” het as inspirasie ‘n ontwerp van Hartmann vir ‘n groot goue hek vir Kiev, die hoofstad van Oekraïne. Hy het die ontwerp aanvanklik ingeskryf vir ‘n kompetisie na die Tsar ‘n sluipmoordpoging vrygespring het. Die kompetisie se tema was te makaber en is later gekanselleer.

Mussorgsky se komposisie wat blitsig in 1874 neergepen is, is eers vyf jaar na sy afsterwe in 1881 gepubliseer. Sy vriend en kollega Nikolai Rimsky-Korsakov het in 1886 ‘n bundel die lig laat sien.

Kom luister saam. Ek sit elke keer weer by my pa se voete.