Hester se lê-jou-eier uitdaging pak ek met ‘n ompad aan.

Ek het as kind van ‘n Ramblin’ man, wie elke twee jaar ‘n kriewel gekry het, gou geleer dat groot tjommies maak lei net tot seer, tranerige vaarwel wanneer ons vir die hoeveelste keer moet trek. Ook is baie skooljare in die koshuis of buite die dorp saam met Oupa en Ouma spandeer. My kringe het altyd klein gebly. As ek die dag vriende maak – dan is dit soos met my brakke – vir laaaank!

My koshuis kamermaat en ek het vir die eerste ses weke op universiteit nie ‘n woord met mekaar gepraat nie. Ek was obsessief kompulsief netjies; sy het ‘n veer gevoel oor bed opmaak. Ek het wasgoedwas gehaat en het elke ses weke met tasse vuil klere trein gevat huistoe. Tot een naweek, toe maak ek kamer skoon en sy was en stryk.

Ons vriendskap is vandag steeds eerlik en opreg en dikker as bloed. Ons weet alles van mekaar en hou nog steeds van mekaar. Daar is ook oral in die land wonderlike vroue wat ek bevoorreg is om te kan sê dat, al sien ons mekaar nie elke dag nie, is elke wedersiens soomloos, asof ons nooit oor tyd en afstand geskei is nie. Ek tel hulle op my een hand.

My  Rots het oor jare  gesorg dat die verhuis uit bekende omgewings darem stop. Ons woon al meer as dertig jaar in die Noorde van ons land. Ons verhuis nogal so nou en dan in die omgewing – dit hou my treklus, wat ek van my pa geërf het, in toom. Hy het egter ook swaar, want as die onrus groot raak , skuif ek meubels.

Maar terug by die eier-lê.

Vir baie jare was ons ‘n deel van ‘n speelgroepie. My man die nar en baasbraaier. Ekke – was die ensiklopedie vir die kinders en te ernstig vir die vroue. Ons was die ouer mense in die groepie. Toe ons eie kind nog skoolgaande was, was die verskille nie so ooglopend nie. Ons is maar gewone mense. Genoeg is ons mee tevrede. Te veel oorweldig ons.

Die speelgroepie se krose raak groot, hulle besighede ook. Ons behoeftes het net te veel begin verskil.  Metterwyl kom jy agter dat jy so liggies na die kant toe geskuif word. Dan skielik kom jy agter die vriendskap is ‘n eenrigtingstraat en net jou spore is daar getrap.

As die pennie val en  jy kliek hier hoort ek nie meer nie, dan is dit nou maar so. Jy laat los. Jy bel minder, jy wys op die nippertjie afsprake af. Tot alles net op ‘n dag verby is. Dis ‘n seer rouproses, en mens kyk maar hard in jou binneste en probeer voor jou eie deur vee. Tot jy eendag besef dis verskille aan waardes en lewensuitkyk wat die einde van jarelange vriendskap meegebring het. Dit was tyd.

Ek persoonlik hou van die seisoene allegorie – daar is vriende vir sekere seisoene, party lank, party kort, party vlak, party sielsgenote. Sommige vreeslike lesse. Rod McKuen skryf en sing so mooi: We had joy we had fun……

Die volgende eier wil ek lê oor die uitsuigers van jou emosies, jou tyd, jou goedheid. Die laat los ek soos ‘n warm patat. Die suurstofdiewe, jammergatte en projekteerders – dieselle. Mense, van familie tot kennisse, met issues en bagasie maak my baie bang.  Ek bly net weg.

Hoekom?  Want my eie goete en goggas het my moeilike geselskap gemaak vir baie jare. Maar ek het my strooi  hanteer en verwerk. Askies gesê waar ek moes. As ek kan, kan ander ook. So my nonsensmeter is gebreek – ek kan nie. Een kans het jy, dan is dit kismet.

Ons is besonder bevoorreg om kinners van ander ouers ook intiem in ons lewe betrokke te hê, en lief te kan hê. Vir hulle leef ons ten voorbeeld en is rasieleiers op elke tree van hulle lewenspad. Ek skryf hier vir elkeen van julle, leer uit my foute.

My honde is die enigste lojale wesens wat ek ken. Ek het ‘n beste vriend in my Rots en ook my eie kind. Dis ‘n voorreg om so spesiale verhouuding met jou eie kind op gelyke vlak en as ewe-mens te kan hê. Luuks.

Kapow! Ek kan nie verder eier-lê nie!

Want vanoggend….

Ons liewe Vader het deur Stephan Joubert se Bybeldagboek vanoggend my lekker geblindesambok oor hoe met suurstofdiewe gemaak moet word.

Rots lees uit Galasiërs 6 DB:

Help mekaar
1My broers en susters, as ander gelowiges aan die een of ander sonde toegee, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, hulle dadelik reghelp. Bring hulle terug op die regte pad sonder om hulle te veroordeel. Tree vol deernis op. Maar pas op sodat julle self nie voor die sonde swig nie.
2Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle. So doen julle presies wat Christus van julle verwag. Dit is immers sy wet dat julle mekaar moet liefhê.
3As julle dink dat julle te belangrik is om vir ander mense om te gee, begryp julle net mooi niks van die evangelie nie4Gaan kyk ’n slag goed na julle eie lewe. Wees tevrede met die goeie dinge wat God in julle lewe tot stand gebring het sonder om julle gedurig met ander gelowiges te vergelyk5Op die ou end sal julle slegs oor julle eie lewe aan God moet rekenskap gee.
6Julle moenie daardie mense afskeep wat julle leer waaroor dit in God se Woord gaan nie. Nee, wees goed vir hulle en sorg vir hulle.
7Moenie julleself bedrieg nie. God laat nie toe dat iemand met Hom spot nie. Dit wat jy plant, sal jy ook oes. 8As jy jou lewe gaan inplant op die terrein van die sonde, sal jy die dood as oes ontvang. Aan die ander kant, as jy jou lewe inplant op die terrein van die Heilige Gees, sal jy die ewige lewe as oes van Hom ontvang.
9Kom ons hou aan om goed te doen. Dit is presies wat die Here wil hê. Dan sal ons op die regte tyd ons oes van Hom ontvang. 10Terwyl ons nog tyd oorhet, moet ons elke geleentheid benut om goed te doen aan almal wat op ons pad kom, maar veral aan ons broers en susters in die Here. Hulle is ons bloedfamilie.

 

Sela.

Gaan heen en wees ‘n goeie rasieleier vir die eendjies in jou dam!

Ns. Behalwe dat die Gees ons lei, het jy ook gesonde verstand gekry om te weet wanneer iets vir jou sleg is, selfs vriendskappe. Hier is sobere raad:

https://www.rd.com/advice/relationships/toxic-friends-signs/1/

 


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).