(Foto: Rational Standard se blog)

Vandag is ek vuriglik en sooibranderig klaar bekgehou, na ek sedert Maandagaand my uiterste bes probeer het om nie onbedaarlik aan die gil te gaan nie. Ek gaan nie roem dat ek alwetend is nie, maar wel dat ek van ouskool joernalistiek hou, omdat ek self toe ek klein was – met mooi tieties en my eie tande – die voorreg gehad het om ‘n gemeenskapskoerant joernalis te wees.

Jy het wie, wat, waar, wanneer en hoekom in jou berigte geantwoord. Jy het feitgebasseerde nuus aan jou redakteur voorgelê. Dit was nie net die grootkoerant (dagblaaie) wat ‘n scoop gejaag het nie.

Jy moes ongewilde vrae by die stadsraad vra, jy moes die spietkop wat oorkant die straat bly en aan omkopery skuldig bevind is, se foto buit die hof neem – dit was ‘n skande. Jy het geweet dis hy en sy tjomme wat jou Pirenese berghond vergiftig het, dit was hy wat spykers in jou oprit gegooi het. Dit was jou werk, jy was trots daarop en buig of bars, jy het geskryf wat waar is. Die hel het jou gehaal as die redakteur feite nagegaan het en jou weergawe is krom.

Behalwe nou as dit by poletieks gekom het – daai is vir jou via jou baas met ‘n lepel gevoer, en ja, ek kon nie lokasie toe gaan nie. Hoe hang die ou onderrokkie uit, Lekkervurig. Ons het ook maar in Lalaland gebly en in daai opsig geskryf wat opgedis is. F..nou is ek sommer weer ontsteld oor die nalatenskap waaraan ons nimmer klaar gaan betaal nie. Daar, beskou nou maar dit as my bevoorregte gebieg oor my verlede.

Ek wil egter my verstout om te sê dat daar meer versigtig met mense en nuus omgegaan is as vandag. Dit voel vir my so baie keer dat ‘n beleid neergelê word, en buig of bars, nuusberriggewing sal ‘n narratief volg, f..die ware storie!

Die gewraakte ou SA-vlag foto’s en die brand van die nuwe landsvlag foto is Maandag deur ‘n joernalis en die leier van die BLF getwiet. Die flippen foto’s dateer uit 2010 en vroeër. Toe hulle uitgewys word…niks. Geen gevolge, want die narratief… (Lees die Rational Standard se blog hieronder deur op die skakel te kliek.)

Daar het Maandag min verkeerd gegaan, nie dat ek met die hele aksie en bedoelinge saamgestem het nie. Feit is en bly oral in ons land word daagliks 52 mense vermoor, onder wie meestal landbouers van alle rasse, kinders, bejaardes en vroue. Al hierdie vermoordes wat ek hier lys het volgens my een ding in gemeen – weerloosheid.

Ons moet weerbaar wees. Ons moet leer om in ons klein bestek met almal om ons saam te staan. Ons moet moedig en braaf wees, ons moet self dink en doen. Maar onthou, dis maar my mening. As jy anders voel – dis ‘n demokrasie ons mag verskil, moet net nie op my skreeu nie.

MAAR ek wil wel weet:

  • Wat het mense gedink om in die middel van een van die gevaarlikste stukke pad hulle punt te wil maak. Die steenkoollorries regeer op die Hoëveld se paaie. Ons protesteerder weet dit. So die ploegery deur die karre – moedswilligheid aan beide kante. Punt. Daar is niks rassisties aan roekelose bestuur en gladde bande en bo die spoedgrens ry nie. Dit lê voor die deur van ons Prez en sy trawante. Danksy hulle voorbeeld en ondermyniing van die wet en orde in ons mooi land, maak elkeen soos hy of sy wil. Wie gee dan om!
  • Mense wat moedswillig wel die ou landsvlag geswaai het en moedswillig net die stem gesing het: Maats, al wat julle reggekry het is om soos BLF en die EFF en die Prez te wees. “Beware of the verbose few” word daar wys in die rooitaal gewaarsku. Julle het in die hande gespeel van diegene wat Afrikaners en Boere wil stereotipeer as rassiste wat hunker na die goeie ou dae van apartheid. Eish.
  • Omdat daar nêrens onluste uitgebreek het nie, omdat niemand gedood is of aangerand is nie, omdat eiendomme nie beskadig is nie, het almal wat ‘n grief teen Maandag se aksie het, te heerlik en gou die vals nuus as waar versprei – want daar was niks anders nie.
  • Dit is so handig dat ons vriend CR ook die vals nuus gebruik het om almal verder op hul plek te hou, ons witgeit verder te verguis. Dit is te lekker om ‘n sondebok te hê as daar soveel toortse op jou en mede-leiers se etiek en optrede geskyn word.
  • Wat die arrestasies van optog-organiseerders betref, as die wet oortree is en toestemming is nie verkry nie, dan moet die gevolge gedra word. Ons moet dit hanteer – ons ken nie van massa-optrede nie. Moenie nou heksejag en viktimisering skreeu nie. Daar word gegrom om mense terug gate toe te jaag.  Onthou die werkende middelklas – meeste van ons is hier te vind, is deel van die 5miljoen getakseerdes wat moet sorg dat 45 miljoen toelaes, pensoioene en Nkandlas kry. Dis maar my teorie, ek is maar polities naïef. Vergewe my as ek verkeerd dink.
  • Omdat ons senuagtig is, en nie weet om al hierdie eerstes te hanteer nie, en daar vir ons ingeprent word dat die boere aspris vermoor word, is die Vuisboek en Whatsapp vol twak. F..kit, ons word beloer en beluister. Whaha. Daar is nie tyd of geld vir sulke spioenasie nie – daar is te veel om te staats-kaap. Die soustrein moet leeg voor hy tot stilstand gebring word! Hulle sal anderdag eers oor klein mensies kommer. Solank jy net bang en versigtig bly en jou taks betaal.
  • Oor die aspris moor wil ek my geensins uitlaat nie, want ‘n storie in die styl van Deon Meyer se Koors hardloop alreeds deur my gedagtes en ek het anner goed om vir Janie Skryf te voltooi.

Tata, en blaas af daai kuite.  Hierdie is maar gedagtes in my kop.

Soos Bantu Holomisa tydens die mosie van wantroue probeerslag gesê het: “The history we write today – forms the future of our country.” Kom ons maak geskiedenis deur vir waarheid te staan. Sela.

Fake News on #BlackMonday