Onse Hester laat ons hier in Blogland deur hoepels spring. So verskyn haar Lê-Jou-Eier opdrag hierdie week: Kyk mooi na die foto hieronder van die hottentotsgot (bidsprinkaan) genaamd Hot Lady wat aan ‘n soetigheidjie sit en suie. Daar is ‘n ernstige gesprek aan die gang wat ek nou hier gaan aanhaal

Praying Mantis

Mens (selfvoldaan): “Hot Lady, jy het ‘n lekker soettand, nè? Dis ook die enigste rede waarom jy hier by my kom kuier, net agter die jêm aan.”

Hot Lady: “Ja, so ‘n ou jêmpie is lekker, maar dit gee my ook krag vir wat voorlê.”

Mens (bekommerd): “Watter swarigheid voorsien jy dan nou in jou toekoms?”

Hot Lady: “Maar jy weet mos dis hierdie tyd van die jaar wat ek ‘n mannetjie moet aankeer om my eiers te bevrug! Vanaand is die aand wat ek moet sterk wees en al my oorredingskrag moet inspan om ‘n mannetjie te laat sterf tot voordeel van ons nageslag.”

Mens (ongelowig): “Nou hoe op aarde ‘oorreed’ jy ‘n man om te sterf vir ‘n nageslag wat hy nooit eens gaan ken nie?”

Hot Lady: “Maklik. Jy hou hom teer vas en net voordat jy sy koppie begin afkou, fluister jy soetjies in sy oor: Liefling,

(Hier volg my vurige affere verder en onthou om na die video klaar te lees….)

…jy is so sterk en so slim. Jy is my tien-uit-tien. Liefie, kan jy ons toekoms sien. Klomp klein goggabies net soos jy…”

Mens (giggel): Genade, dit klink alte bekend. Smaak my die manlike geslag oor alle spesies heen word maklik verlei!”

Hot Lady (draai haar kop so skuins en kyk Mens aan met haar groot oge): Hierdie een keer per jaar moet ‘n meisie alles uithaal om haar sin te kry, maar vanjaar was ‘n wraaktog op die koop toe. Sien verlede jaar het ek vir my so ‘n spiertier bygehaal. Jong, hy was flink en vurig. Wou net vry en vry. Ek het nie baie truuks nodig gehad nie. Hy was passievol en het soet woorde in my nek gefluister. Ek het gesug en net sag agtertoe gereik en met my voeler so om sy kop gekielie. “A, liefie, jy maak my mal”, het hy uitasem geroep. “Moenie stop nie”.

Mens: Hot Lady jy maak  my bloos…

Hot Lady: Sjuut, moenie onderbreek nie. Die beste kom nog. Sien jy die hakies aan my voelers… dis nie vir die mooi nie. O, nee, dis om beter te kan vasvat. En het ek nie vasgevat nie. Haak, knars, girts. Af is sy kop. Hy het dit nie sien kom nie. Wat ‘n heerlike versnapering, want na die liefdesdaad, het ek nog baie werk om te doen. Soms is daar tot 70 goggabies wat gevoed moet word. ‘n Meisie moet beplan, jy weet.

Maar, ek wil jou eers van die onderbreking vertel, wag, hier is die video…kyk self wat my nuutste eks, Sticks aangevang het. Dit was ‘n lang jaar….

 

Mens: Jinne Hot Lady, so ‘n karnallie, ‘n man pla nie ‘n vrou in kraam nie!

Hot Lady: Glo my Sticks gaan op die ou einde die hoogste prys betaal. Ek moet gaan….

Hot Lady vlieg weg. Die volgende aand kom kuier sy weer oudergewoonte by Mens. Mens is verheug.

Mens: En toe. Was jy suksesvol? Vertel, vertel toe!

Hot Lady: So het ek maar na die misgeboorte heel jaar my plan agtermekaar gekry en vir Sticks op my radar gehou. Toe dit gisteraand daai tyd word, het ek hom nadergelok. Glimlaggies, fladderende oge, jy weet. Man, hy het geval vir die soete stroop in sy ore. Hy kon omtrent nie wag nie. Hy was nie ‘n sleg vryer nie. Lekker fris. Oe, en hy was praterig: “Jy is wonderlik, beeldskoon, jy maak die gogga in my wakker,” het hy aangehou en aangehou. Dan kielie hy so oor my rug. Ek moet bely, dit het warm rillings deur my lyf gestuur. Saamkoer was nie moeilik nie.

Mens (bloos): En toe?

Hot Lady: Man so op die kort draai, toe fluister ek met my voeler so agter sy kop: “Skatlam, onthou jy my? Laas jaar, op die stoep?”

Ek hou so bietjie stywer vas.

Al wat hy kon uitkry was:”O bliksem, dis jy….”

Toe is dit verby… hy het dit nie sien kom nie. Ek het hom goed terug gekry. Wraak kan lekker smaak.

 

 

 

 

         

 

 

 

Foto deur “Jasari”, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released to the public domain”)

 


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).