My Rots het eenkeer op ‘n inkopielys die volgende neergepen:”Ons luister om te antwoord, nie om te verstaan nie.” Hy het dit iewers op die draadloos gehoor.

Nou die is baie waar op die oomblik, met die plaasmoorde-emosies en so aan. Ons wil nie hoor nie, ons wil vertel. Ons is almal moedeloos, seer, kwaad, bang – ons ore is bot toe. Ons lyk soos Shrek met sulke groen verstopsels wat by on ore uitsteek. Horende doof en siende blind vir enige opinie anders as ons eie.

Hierdie dae is vol emosie en ‘n mens sal seker moet versigtig trap. Soos ‘n trapsuutjies. Die swart t-hemp aksie het ‘n liederlike slaggat geword. Tipies Suid-Afrika, stig ons so graag groepies en elkeen glo hulle  interpretasie en geloofsuitkyk is reg. Eish.

Ek sit verslae nadat ek met aandag Heinz Winkler van Idols faam, en wat my aanbetref ‘n ordentlike en diep-gelowige mens, se 20-minute oproep oor die netelige situasie uitgeluister het. Hy het bloot gewaag om sy mening te lug en klomp ongemaklike stellings te maak.

Genugtig, julle moet lees wat kamtige Kristenmense vir die Heinz-kind toesnou. Ek wil net een vraag vra: Bid julle met daai bekke? Jo, die hemel help ons met sulke kerkmense.

Wat my opgeval het is dat Heinz  smeek dat die swart t-hemp aksie nie beperk word tot ‘n ras of kultuur nie – ek stem volmondig met hom saam. Want sien – my en my kinders se werkers kom vra by ons hulp teen dieselfde wrede misdadigheid wat op ons plase gebeur – marteling, verkragting, diefstal, moord.

Skreeu op my as jy wil dat ek niks weet nie. Verrassing: Ons woon op ‘n plaas, glo my ons weet hoe weerloos ons is en ons besef ons staan op die rand van die statistiek poel.

Tweedens het Heinz die vraag gevra wat doen ons om ons onmiddelike omgewing te beïnvloed, nie die hele wêreld nie, net jou kring van invloed en impak. Hoeveel van ons ken ons werkers se blyplek, was al daar, help met skoolgeld, maak middagetes want jy weet hulle staan al 04h00 op – wanneer sal hulle kosmaaktyd kry? Die lys is lank van goed wat wesenlike verskille kan maak. Ook by arm mense van die wit plakkersamp of veilige hawe – was jy al daar? Het jy al die wit van die oë van ‘n mens in nood gesien? Was jy al so naby dat jy dit kan voel en ruik? Dis die doen wat ons land nodig het.

Die hou op die borskas van stiksieniges het Heinz goed geplant – want hierby is daar nie verbykomkans nie. Hy vra: “Wie is jy?”

Ek verstout my dat meeste van ons antwoord So-en-so, Wit, Afrikaanssprekend.

Verkeerde antwoord!

Ons is God se kinders eerste, en in die jong man se woorde, “dan eers is ons deur lotsbestemming deur God bepaal, die velkleur en kultuur waarin ons ons bevind. En daar is verskeie velkleure en kulture in hiedie Suid-Afrika saam. Geweld, swak diens, korrupsie – daai goed  het ‘n impak op ons almal.

As ons geloof in God bely – moet ons wat ore het om te hoor beslis anders optree en reageer op oproepe om aan aksies deel te neem tot uitsluiting van ons naaste. Ja, ons naaste wat ons so lief soos onsself moet hê, al lyk hulle nie soos ons nie en al maak hulle nie soos ons nie. As almal, nie net wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners gaan swart t-hemde dra, dan sal ek juig. Dan is die boodskap Suid-Afrika se mense is gatvol. Suid-Afrika se mense wil verandering sien.

Maar omdat ek  belowe het ek sal luister, wil ek ook sê Sophia Kapp ek hoor jou. Dit is ‘n waarlik vry wêreld. Ons moet maar in hierdie chaos met mekaar rekening hou en uithou.  Jans Rautenbach het ook sy eie verkeersplanne. Lees maar self.

Kyk wat  het ‘n Zoeloe gemeenskap vanoggend  gedoen om hulle ongelukkigheid oor plaasmoorde (ja, ‘n wit boer se moord het hulle tot aksie gedwing), moord en misdadigheid te demonstreer.

Ek en al my mense gaan Maandag swartbandjies dra – ons rou oor plaasmoorde, verkragtings, kindermolestering, eie-geregtigheid, ag sommer alles wat seermaak in ons baie siek Suid-Afrika. Maar ons gaan ook al hoe meer vir  mekaar omgee en luister as iemand praat.

Tata en blaas af jou kuite…en doen wat die Gees jou lei om te doen en onthou om te luister!

 

The community members of Zwathi, which falls under Ward 4 of AbaQulusi Municipality took to Gluckstadt Police Station to voice their concerns over the rising crime rate in the area. Picture: Vryheid Herald

Lees meer hier: https://citizen.co.za/news/south-africa/1520431/black-community-members-march-against-killing-of-white-farmers/