Geen musiekinstrument kan ek nie speel nie, en sing kan ek om die dood toe nie. Daai talent se ry het ek gemis.  Ek het wel redelik voor in die musiekwaardering ry gestaan. Dankie Vader dat ek ore gekry het wat musiek in baie genres kan hoor, geniet  en waardeer!

Vroeg na die millenium se draai moet ek vir ‘n rede stad toe, kan nie onthou hoekom nie, dit sou tien teen een gewees het om vir Biebs hospitaal toe te vat of soiets. Ek onthou hoe ek in ‘n winkelsentrum se Exclusive Books rondgedwaal het en met arms vol boeke toonbank toe gestap het. As so laaste “spandeer jou laaste sente” versoeking lê helderkleurige CDs neffens die kasregister. Denkende dis ‘n praatboek, tel ek ene op.

Putumayo presents Celtic Crossroads lees die omslag met die folkerige kunswerk. Ek is dadelik nuuskierig. Koop daar en dan my eerste twee Putumayo ‘world music’ albums. Ek het ‘n twintigtal van die albums oor die jare aangeskaf. Die musikale reis oral oor die wêreld heen, verskaf groot plesier.

Putumayo is ‘n platemaatskappy wat in 1993 deur New Yorker, Dan Storper gestig is. Hulle fokus op musiek samestellings van verskeie volkere, godsdienste en musiek genres wat bestempel word as ‘world music.’

Vir my is dit ware musiek – weg van populêre doef-doef my-liefie-lyfie gemors. O ja, ek is ook mal oor klassieke musiek – van barok, verby Bach en Mozartk, die ou meesters.  Klassieke Rock laaik ek ook vreeslik – die goed van die duiwel van ons jong jare – Uriah Heep, Pink Floyd, Black Sabbath.  Dis hoekom ons op die plaas bly – daar is nie bure om te kla nie. Oe, en golden Oldies – 50s en 60s – ons lief dit. Dan as die by ons mooie Afrikaans kom – Laurika, Coenie, Valiant, Koos, Oorle Koos, Eugenie, Amandla, Arno Carstens, Les Jevan, David Kramer  en diesulkes – hulle laat braaivure hoog brand.

Tel my net uit as dit kom by  heel moderne klassiek en jazz – daar is ‘n diskordante klank wat my ore seer maak.

Luister saam na Putumayo klanke:

Lees self  verder:
NS. Die Putumayo albums se kleurryke kunswerke is die werk van Britse illustreerder Nicola Heindl.