20171015_104029

Ek is besig om my hordes flenters skryfsels te orden. Ek het Meimaand laas aan Janie Skryf se werkstukke geraak, so half die spoor byster geraak. Aandagafleibaar, moedswillig oor die storie in my kop.

Ek skaam my vir die uitstel-afstellerigheid. Swak voorbeeld vir mense wat inspirasie by my soek. Gits, ek skryf dan nou so maklik oor wat ek nie regkry nie, hoe moeilik kan dit nou wees om weer die dissipline van 1000 woorde elke dag te bedryf.. Maar genoeg daaroor. Dis my probleem.

Wil eers van vanoggend vertel. Lekker vroeg die braaivuur geblus en ‘n vroeë Saterdagaand in die kooi met ‘n heerlike skryfsel van Weg se Erns Grundlingh – Elders. Sy memoir en reisrelaas is besonders. Ek het die Camino gestap saam met hom. Baie wysheid in daardie ontdekkingsreis. Voel geseënd dat die boek my gekry het.

Image result for Ernst Grundlingh - Elders

Ek glo vas dat alles wat jy moet beleef op sinchronistiese manier wel by jou uitkom. Boeke maak so met my, al vir baie jare. Ek het nie voorkeure nie, dis ‘n gedagtegang wat iewers in die eter by ‘n plek verbyflits, en haaits, op ‘n dag lees jy daardie gedagte weer raak. In boeke reis jy ver en loop lieflike reisgenote raak.

Maar terug by die hede, Bab kom brekfis by ons. Hoewel ons elke dag dieselfde werkspasie deel, is daar min gesintyd. Ons drie maak werk om mekaar, al is dit vir ‘n paar uur, saamtyd te gee. Ons het dit broodnodig. Ons is lief so.

Rots het al gisteraand die Brazilan-steak vooraf berei – ingelê en daai korsie om gebraai. Oornag het die lekkerny in die yskas gerus. Ons is papliefhebbers. Rots spesialiseer in ‘n geduldige mengsel van growwe semelmeel en gewone meel. Hy gooi net genoeg sout in, die brandsel trek so mooi los – nooit aangebrand. Smulpaap papvreters- ons is bederf en rond en semi-gesond. Daarby moet sheba gemaak word – uitjie so deurskynend gebraai, bietjie knoffel en tamatie sonder skil. Die prut so stadig, dan bietjie sout, peper, ‘n knypie gemenge kruie en ‘n titsel bruinskuiker. Die karring so op hitte een…lekker.

Ek hoor die omproeper vertel dis Tuindag. Summier besluit ek Ouma se erdebeker moet blomme kry. Tuin toe met die skêr. Hier ‘n lelietjie, daar sweet basil in die blom, laventel en nog laventel. Ag, malse reuke omgewe my. Die voëls sing uit volle bors, en die dounat gras kielie my voete. Ek dink so by myself, God loop so elke oggend saam, ons moet net tuin toe kom.

Blomme in die pot, tafel gedek. Ons vat Boek. Ons is steeds met Galasiërs 5 besig, Stephan Joubert dril vir ons. Ek lees ook  raak in Mattheus 5 oor die saligspreuke uit Die Boodskap. Ek besef ons is gelukkig en geseënd om God se kinders te wees.

Soos julle kan sien, was brekfis ‘n fleurige affêre en ons drie het heerlik gekuier. Bab is al vergete terug dorp toe, Rots kyk krieket en dut tussendeur. Vrek, ek weet nie hoe hy so skewenek kan sitslaap nie. Ek het klaar ge-Camino. Julle moet Elders lees!

So met die son wat water trek en die Sondagaand rustigheid wat alles toedek, kom sit ek om aan my skryfselsorteerdery te werk. Onthou van sinchronisme wat ek hierbo van vertel het.

‘n Blou PostIt val uit ‘n joernaal hier neffens my:

“Gentle, gentle is the wind

That whispers in the trees:

Welcome, welcome Lord Jesus,

To the dawn this new day.

As with hearts filled with exaltation

Singing glory, glory to the King,

As the Spirit leads in worship:

Oh, what peace salvation brings.

Mooi, bekeer warmte spoel oor my as ek dit oor en oor lees, bêre, uithaal, en weer  hier op rekenaar vaslê.  ‘n Hele tyd gelede het die skrywer van die mooi gedig, Vincent Riddle by die winkel aangekom. Ons het gesels oor geloof en uit die bloute skryf hy op ‘n postit die besieling vir my neer.

Dat ek nou, na so geseënde dag dit weer moes kry.

My Skepper leef waarlik, Hy praat so met my.

Dankie Abba.