Ek moet berig dat dit hier in die Verre-Noorde so twee ure suid van Oom Bob se domein wild gaan. My brein is effe links gef.., my siel potblou gekneus.

Die skuinsgeit van die week, wat my so links van  Lieve Una op die onderste trap laat neermoer het, het vroeg kop uitgesteek.

Veeleisende kliënte wat meer as hule pond vleis eis, en danksy my goedhartige Rots, dikwels kry, sal sowaar laat weet “hulle klant is met verlof en het hulle nog nie betaal nie, so ons gaan ook nie betaal word alvorens Lord Oom Piet van verlof teruggekeer het nie…” Die gevolg, die hond byt die kat, die kat byt die muis, die muis byt vir Baba, Mama huil saam met baba en pappa skop die hond, en so aan, ensovoorts. Sela.

Maandagaand reën dit in Polosekwane. So 30mm in die stad, en klaarblyklik ‘n wolkbreuk oor een spesifieke huis waar ons onlangs ‘n kaggel installeer het en die kliënt nie ore het nie, en met nat hout vuurgemaak het en die hele kaggel en skoorsteen opgefoes het met soet en hars, en ons alles oor moes doen. Ja, die duiwel is in detail…julle raai reg…daar is ‘n lek. Jo, maar die vrou gee jou nie kans om te beduie jy sal kom regmaak wat verkeerd is, nie. Sy wil ook nie hoor dat daar niks nat in die plafon, in die skoorsteen of binne in die kaggel is nie. Sy wil ook nie hoor dat roes nie sommer binne ure op gietyster vorm nie. Sy wil nie hoor dat jy maar vrede ter wille ‘n versekeringseis ingestel het om die sakie te beredder nie. Lang skreeustorie kort – die vrou sal vir my ook vertel ek makeer en het professionele hulp nodig. Rerig…ek dog my fokjoupilletjies werk!

Toe gister met my klaar is was my siel erg gekneus. Ek moes lank stil gaan sit en onthou ek is meestal die mens wat my honde reken ek is.

Vanoggend kom die nuus. ‘n Boetebessie van die provinsiale soort is by haar huis wederegtelik van haar werksvoertuig ontneem. Nou vertel die leser van krom Afrikaans op die raadlose-SAUK-draadloosstasie “dat ons in Limpopo maar liefs nie moet stop as die spietkops ons afkeer nie, want net nou is dit die skelms!”  Flippit. Gee die blessitse motormaak en registrasienommer, dan weet ons darem vir watter spietkops om weg te ry. Kan julle nou dink as ons almal vir alle spietkops wegry…massa chaos, of nie, want mens sien hulle ook nooit waar hulle nodig is nie.

Nog is het einde niet:  Gister, net buite die Limpôpô se hoofstat, is ‘n voertuig van die buurland van Oom Bob met geweld deur tsotsies afgetrek, een insittende vermoor en die res van alles behalwe die voertuig beroof.

Dan, onderdorp by die grafplaas is nou bekend as mini-Lagos (soos in beset deur Nigeriërs, en net so wetteloos soos hulle moederland) en gereeld hoor jy van skietery en lyke, en brandende voertuie… Gereeld kan jy nie daar ry nie, soms moet jy omdat ou winkels wat jy al jare ondersteun se adres nou in die gevaarsone gesetel is. Dis net kroeks, g’n koeiseuns met blinksterre op die bors wat jou sal red nie. Gaan binne op eie risiko.

My bestuurder van huishoudelike sake sit toe mos nou die kersie op die skuinskoek. Hulle het self nou die aand nie ‘n oog toegemaak nie. Tien huise in hulle Bergnek buurt is met geweld en gewere binnegestorm en spaza-eienaars van inkomste en plasma teevees beroof. Dit was ‘n oorlogsone – geskreeu, gedreig, geweerskote.

My kinders van ander ma’s wat by my werk vertel my dat ons almal maar wakker moet loop, die skelms het ook swaar onder die huidige ekonomiese klimaat en het nie inkomste teikens behaal nie. Hulle moet nou voor Krismis vinnig inhaal, die vakansie lê voor.  Van Dikgale tot Musina, armmanshuis, rykmansbuurt – jy het iets wat iemand anders wil hê.

Wees veilig liewe bloglanders, ek glo die verskynsel in Limpôpô is pandemies.

Ek gaan nou maar my lekkervurige geaardheid vat en ‘n komberstent in my eetkamer bou en maak of Cardbordeaux rooi Liquifruit is – jy weet, met ‘n strooitjie drink. Tjeers.

Of ek sal net inkleur….

blanket-fort-coloring

 

Ns. Nee wraggies – daar het ‘n ou in die riooldam verdrink ook nog…